








“Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat Hom soek.” – Klaagliedere 3:24-25
Daar is niks wat my so hopeloos laat voel as die einde van die winter op die Hoëveld nie. Alles is droog en vaal, en jaar ná jaar voel dit vir my of die lente nooit weer gaan aanbreek nie. Op die oop stoep buite die agterdeur staan die groepies terracottapotte leeg en mismoedig. Die blaarslaai en kruie wat tydens die somer welig hier gegroei het, is lank reeds dood en die grond kliphard en droog. Tot my skaamte moet ek erken dat daar die afgelope winter min aandag aan dié potte gegee is aangesien die koue (en die kaggelvuurtjie) ons meestal binne gehou het.
Maar op ’n dag pla dié mistroostige toneeltjie – ’n toonbeeld van hopeloosheid – my net te veel. “Kom ons gaan kwekery toe,” sê ek vir Johan. “Só kan dit nie bly lyk nie.” Die kwekery om die draai van ons huis is ’n lushof van lewe. Die veelkleurige gesiggies blom dapper en in oordaad – dis die perfekte keuse vir die potte op die agterstoep! “Watter kleure sal ons neem?” vra Johan. “Wat van net een kleur dié keer,” antwoord ek, want die skakerings van lila en pers streel reeds my gemoed en laat my rustig voel.
Gewapen met donker, vrugbare klam grond vir elke pot en ’n magdom plantjies is ons reg om die barre potte-landskap te besweer. Johan plant sommer vinnig al die plantjies. Ek kom nader met die gieter en gee elke pot sorgvuldig water. Die geur van nat grond is ’n heerlike herinnering dat die lente om die draai is en dat alles binnekort weer groen sal wees. Die pers oordaad word ’n onverwagte teken van hoop. Sonder hoop is ons niks nie, sê iemand nou die dag tydens ’n radiogesprek. Vir ons as gelowiges is hoop ons anker én kompas. Tog verloor ons so maklik koers wanneer dinge om ons donker raak. Ek word herinner aan die saad wat eers in die donker grond moet lê voordat dit kan begin groei en vrug dra.
In my geestesoog sien ek die groen landskap van die somer en wéét ek die hoop op nuwe lewe beskaam nooit nie.
Mag die lente met al sy vreugde ook vir jou aanbreek totdat die Somer-uitgawe van Lééf – met hart & siel op 4 Desember op die rakke verskyn.

Christine Ferreira
Redakteur





