Gunsteling-artikels uit die Lente 2023-uitgawe

Kom wees deel
Leer ken jou kind se liefdestaal
Die liefde van papier
Hoor jy die stem van die Herder?
Ons kuier by La Motte
Omarm jou nuwe seisoen
Die Kuns van Lééf

Ná bykans twee jaar se wag arriveer ons sjokoladebruin bolletjie pels al die pad van Upington af. Johan doop haar Tinder, na aanleiding van die leierhondkarakter in die boek The Story of Edgar Sawtelle deur David Wroblewski, wat ons in die aanloop tot haar koms gelees het. Die houtjie wat die vuur aan die brand steek. Tinder was van meet af saggeaard met ’n statige benadering tot die lewe. Met haar groot bruin oë kon sy tot diep in jou siel kyk. Sy was lief vir haar mense, haar kossies en soos elke labrador, natuurlik vir die water. Sy was skaars ses maande oud toe ons daardie jaar met vakansie see toe sou vertrek. Op die vooraand van ons vertrek kondig Johan onverwags aan: “Tinder gaan saam! Daar is nie ’n manier hoe ek haar by die huis los nie.” Die band tussen dié twee was besonder sterk. Tinder het die elf uur lange rit dertien jaar lank met grasie saam met ons aangepak. Sy het tjoepstil agterin die motor in haar sagte mandjie gelê. Maar o wee, sodra ons die draai by Oos-Londen vat en sy die see ruik, was daar geen keer nie. Sy het kiertsregop gesit totdat ons by die huis stilhou. Ons het dadelik begin afpak sodat ons haar see toe kon vat. 

Dis hier in die Oos-Kaap waar Tinder se groot liefdesverhouding met die see begin het. Sy kon ure lank langs die see stap en tot ver agter die branders of in die rotspoele swem. Soggens vroeg het sy ons al kom wakker maak om af te gaan strand toe. ’n Tyd gelede begin Tinder snaakse hoesgeluide maak en ons neem haar na die veearts. Die diagnose is nie goed nie, sy het ’n gewas bokant haar hart wat teen die longe druk en die hoesbuie veroorsaak. Verdere ondersoek wys dat haar liggaam deurtrek is met limfoom. Sy was oud en swak en die einde in sig. Met die aanhoor van die hartseer nuus sê Johan sonder om te skroom. “Vind uit of die blou huis beskikbaar is vir die naweek. Ons vat Tinder vir oulaas see toe.” Johan is ’n man van sy woord en het die laaste tyd gereeld vir haar gesê: “Toemaar, ou muis, ek belowe ons vat jou nog een keer see toe.” 

So vertrek ons op ’n Vrydagoggend nie te lank gelede nie al die pad see toe vir die naweek. Tinder baljaar op die strand soos ’n jong hond, swem in haar geliefde branders en klim selfs ’n hoë duin uit soos van ouds. ’n Tyd van glorie en vreugde. Maandagoggend pak ons douvoordag die lang pad huis toe aan. Dis laatmiddag toe ons die stad binnery. Ons het reeds by die see die besluit geneem dat ons die pyn nie langer gaan uitstel nie en ry sommer direk na die veearts toe. En so met die seesand en soutwater nog in haar pels hou Johan haar styf vas terwyl sy oor die see droom en rustig vir oulaas oor die brug stap. 

Tot weersiens, liefste Tinder.

Mag die Here jou hart bewaar en jou in liefde toevou totdat die Somer-uitgawe van Lééf – met hart & siel op 8 Desember 2023 op die rak verskyn. 

Christine Ferreira

Redakteur

Volg Lééf met hart & siel op sosiale media