Sit jou hart op papier 2018-12-01T15:24:07+00:00

Foto | Pexels

Snik-huil

Vanoggend was daar ’n vyfjarige Mia* by die spreekkamer saam met haar vriendelike Noordkaap-Ouma. Sy was al voorheen hier vir ’n tandjie se stop, maar vandag is daar nog ’n tand met ’n probleem.

Die dokter-oom werk mooi teen die kindjie se pas en volgens haar emosies. Omdat hy nie wil druk vir meer as wat mooi dogtertjies kan hanteer nie.

Eers het Ouma in die stoel gelê en die tandarts-oom het alles gedoen wat gedoen moes word. Intussen het dogtertjie langs haar inkleurboek en kryte op die mat aan die slaap geraak. Toe dit dus tyd raak dat sy moet sit vir haar tweede seer tand, was haar gemoed vol slaap en nie meer “reg” vir die tandarts se boor en stopsel-goed nie. Uiteindelik het haar hart en moed haar begewe en het skelm traantjies by kinder-ogies begin uitkruip. Soveel-so dat dit na nog minute uitgeloop het op snik-huil (ten spyte van ons vriendelike Ouma se vriendelikste paai en sussende woorde).

En dis presies hoe ek ook vanmiddag gevoel het. Nadat ek vir die soveelste keer sukkel met data wat ek van een rekenaar na ’n ander moet oorlaai …

Die sukkel my laat voel ek moet matriek-algebra skryf, maar ek het nog net van 3-maal-tafels en graad 4-optelsomme geleer. Laat voel vir snik-huil wat mens laat huil tot jou wange rooi vlekkies uitslaan, jou snesies op is en jou asem snik-snak omdat niks meer seepglad en maklik is nie.

En dis seker soos die vrou gevoel het waarvan vanoggend se koerant in SPAR skryf … Die een vir wie alles so te veel geraak het dat sy onlangs haar fiets gepak het om met net die nodigste die oneindigheid in te ry.

En so voel ek (jy dalk ook) soms oor die lewe om ons. As ons raaklees van stygende inflasie, hoor van moord van ’n eiendomsagent in Krugersdorp, of sien dat honger hande by vulstasies ongevraagd uithou en vra, en nog en nog en te veel nog …

Dan snik-huil ek daar waar ek in my toe-deur-kamer stil verkeer met Hom wat die Vader is van alle regverdiges. Snik-huil ek tot my sielsmens-snikke diep raak en my onsigbare oë vaal en ek niks stukkend of swaar meer wil sien nie. Maar ook hierdie snik-pad het Jesus voor ons uit saam met Sy onvolmaakte dissipels geloop. Tot op ’n punt van knak waar hy bloed in druppels gehuil en gebid het in die Tuin vol olyfbome.

En keer op keer kom Sy Gees getrou en vou soos die sagte Ouma van vanoggend sy omgee-hande om my siel. En streel en troos en balsem die rukkende skouers van my ontstelde gemoed. Totdat versagting en bedaring my deel word. En ek soos vanoggend se kindjie op Sy skoot aan die slaap kan raak.

Hanlie Nel-Smith, Stellenbosch

Foto geneem deur Christine Vosloo

Die groot geskenk

Baie keer, meer kere as wat dit partykeer behoort te wees, hoor mens dat iemand beweer dié of dáárdie jaar was nie goed vir die gees nie. Dat die persoon graag ’n beter jaar wil hê, of selfs waag om te sê “ek weet dit gaan my jaar wees”.

My 2017 was teen April reeds “gemaak” toe my kinders my verras met ’n splinternuwe motor op my 60ste verjaardag. Mensig, wat meer vra jy? Ek bestuur haar saggies, voel-voel terug vanaf Bethlehem en parkeer haar onder die afdak. Kort-kort druk ek die alarm knoppie net om te sien of dit regtig myne is. Liggies aan, liggies af.

Drie naweke later beland ek met hewige en onverwagse rugpyn in die hospitaal. Dit lei tot ’n rugoperasie van ses ure en vier maande plat op my rug. Slegs staan, loop of lê, was my voorland.

Aan die begin was ek in opstand, het na die dak gekyk en soveel keer vir die Here gevra wat Sy doel hiermee is.

Boonop is my ma is skielik oorlede, terwyl ek nog in die nasorg-eenheid is en moes ons intussen deur ’n stille verassing afskeid neem, totdat ek mobiel genoeg was om saam met my sus, haar assies in die see te kon laat wegspoel.

Ek het baie dinge in hierdie tyd geleer; om mense ten volle te vertrou met my liggaam, my versorging, om my te leer loop, my vas te hou, my te was en my liggaam met room te smeer. Ek sê dankie vir hande wat kon help en seerplekke vryf waar ek nie kon nie.

Ek het geleer om my waardigheid in my sak te steek en toe te laat dat mense my voorskryf hoe om dinge te hanteer en nie altyd die beste te wil weet nie.

Vandag kyk ek terug; ek loop normaal, ek ry my nuwe motor, waarna ek so lank moes kyk en nie kon bestuur nie. Ek leef elke dag met ’n glimlag soos ’n koningin. Ek is gemaklik in my eie vel, want ek het aan my eie lyf gevoel hoe gou die Here jou lewe 360 grade kan kom omkeer.

Vandag weet ek – alles hang daarvan af of jy bereid is om te luister en gehoorsaam te wees en al is dit moeilik, te glimlag deur die seer en opstandigheid in jou hart.

 

Annalie Lötter, Pretoria

Foto geneem deur Christine Vosloo

Woordeloos
Woordeloos het ek jou lief
want hoe kan ek skryf van jou sagtheid
dit ooit met letters vaslê
JY
onpeilbaar
onkeerbaar
lief vir my
Woordeloos het ek jou lief
want hoe kan ek praat van jou grootheid
dit ooit met woorde kleinkry
JY
onmeetbaar
onsegbaar
lief vir my
Woordeloos het ek jou lief
want hoe kan ek sê van jou rykheid
dit ooit met gesprek meedeel
JY
ontembaar
onnoembaar
lief vir my
Woordeloos het ek jou lief
want hoe kan ek sing oor jou besorg
dit ooit met gesang basuin
JY
onwrikbaar
onblusbaar
lief vir my
Woordeloos het ek jou lief
want hoe kan ek juig oor jou getrou
dit ooit met klanke uiter
JY
onfeilbaar
onkreukbaar
lief vir my
Woordeloos het ek jou lief
want hoe kan ek dig oor jou geneë
dit ooit met patroon berym
JY
ondenkbaar
onskeibaar
lief vir my
Lindah L. Rite

Foto geneem deur Mariechen Mostert- Schoeman

Op ’n drafstap met Jesus

Hoe geestesfiks is ek?

Die lang stadiglopende man kruis weer my en Luna se pad van voor. “Ek dink dit kan nogal lekker wees om so met ’n hond te stap.”

“Het jy dan nie een?”

“Ons het. Twee.”

Die volgende oggend koeksister-loop hy oor sypaadjierante en boomwortels. Die rede? ’n Baldadige Basset tol snuiwend in alle rigtings soos die leiband hom toelaat. Sy baas is duidelik uit sy gemaksone. Ek waai ingenome.

Twee dae later loop hy weer alleen. Stadig en bedaard.

“Waar is jou maat?”

“My vrou het gesê ek moet ons stappie een maal per week doen. Hy was te uitgeput na die eerste keer. Het heeldag net gelê.”

“Ag, ’n hond herstel gou. Probeer drie maal per week. Sy hantering raak ook weldra makliker” volg my entoesiastiese raad.

Hoe gaan dit met my geestelike oefeninge wat later gewoontes vorm?

Indien gelowiges my nooi om deel te neem aan ’n uitreik, gee ek my alles, of draai ek terug as my vlees nie wil?

Bid ek nog getrou in my tydgleuf van die gebedsgroep, of het die vroeg opstaan ’n lastigheid geword?

Luister ek na kwaliteit (ook geestelike-) musiek, of het vlak woorde met lekker ritme my denke verdoof?

Hoe vorder ek met die memorisering van Woord, of sien ek nie die nodigheid daarvan in omdat ek nie visse vir Jesus vang?

Wanneer laas het ek ’n geestelike boek gelees en met wie het ek daaroor gepraat?

Hou ek getrou spandeer ek my stilte-uur met God en hoor ek Hom?

Trek geestelike sprekers my en deel ek hul aanraking met medegelowiges?

Fellowship ek gereeld met ’n geestesvriend en/of mentor, of is ek te besig met ek-dinge en die druk van buite?

Bemoedig ek ander mense … veral die wat lou geraak het en rustend is … soos die Basset?

Is my vriendekring lewendig vir Jesus…elke dag, of koel hulle my af tot ’n een-maal-per-week Christen?

“Versterk daarom die slap hande en lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” Hebreërs 12:11-13

Caro, Oudtshoorn

Stuur jou brief of foto aan navrae@leef.co.za