‘n Kwessie van geloof

Die geheimenis van gebed

Deur Warren Wiersbe | Foto Hanneri de Wet

Hoe meer jy oor gebed nadink en probeer om dit te verklaar, hoe meer verbysterend raak dit.

‘Hy wat geleer het om te bid, het die grootste geheim van ’n heilige en gelukkige lewe ontdek.’ William Law

“Ons weet almal wat lig is,” het Samuel Johnson gesê, “maar dit is nie maklik om te wat dit is nie.” Hy kon netsowel dieselfde oor gebed gesê het, al het hy wel genoem dat dit sinneloos is om oor die aard van gebed te filosofeer. Dink ’n bietjie na oor daardie stelling.

Wat is gebed tog eintlik? Kan ons dit omskryf? Is dit regtig nodig dat ons dit omskryf? En as God ’n almagtige God is, waarom doen Hy nie maar net wat gedoen moet word nie? Het Hy regtig ons hulp, deur gebed, nodig om hierdie dinge te bewerkstellig? En as Hy ’n alwetende God is, hoekom is dit hoegenaamd nodig dat ons bid? Selfs Jesus het gesê dat die Vader weet wat ons behoeftes is nog voordat ons Hom vra (Matt. 6:8), so waarom vra ons dan? As Hy ’n liefdevolle God is en weet wat ons behoeftes is, moet Hy dan wag totdat ons bid voor Hy namens ons kan optree? Is God ons dienaar?

Hoe meer jy oor gebed nadink en probeer om dit te verklaar, hoe meer verbysterend raak dit. Dit laat my dink aan die storie oor die duisendpoot en die besie. Die besie het vir die duisendpoot gevra: “Hoe weet jy watter voet om volgende vorentoe te beweeg?” Die duisendpoot het geantwoord: “Om die waarheid te sê, ek het nog nooit regtig daaroor nagedink nie.” En hoe meer die duisendpoot oor die vraag nagedink het, hoe meer verward het hy geraak, totdat hy uiteindelik so oorweldig was dat dit hom tot stilstand gebring het.

Om dinge nog meer uitdagend te maak – en ek het ’n goeie rede waarom ek die volgende vra, so wees asseblief geduldig – hoe dink God, wat in die ewige dimensie lewe, oor sy kinders se gebede, wat te midde van tyd gebid word? Het Hy die antwoorde op die gebede nog voor die skepping van die wêreld bepaal? Hoe omskryf ons tyd en ewigheid? “Wat is tyd dan?” het Augustinus gevra. “Ek weet baie goed wat dit is, solank niemand my daaroor vra nie; maar as iemand my vra om te verduidelik wat dit is, is ek verbysterd.” Beide die eenvoudige duisendpoot en die bekende biskop het ons gewaarsku dat, as dit by sekere sake kom, ontleding daartoe kan lei dat ons vasval.

Ver bo ons gedagtes

Die gerespekteerde geestelike skrywer Oswald Chambers het oor hierdie vrae besin en die volgende geskryf: “Ons is almal agnosties oor God, oor die Gees van God en oor gebed. Dit is twak om oor gebed te redeneer; dit is die mees bo-redeneerbare ding wat daar is.” Let wel daarop dat hy nie sê gebed is onlogies nie, hy sê dat dit ver bo ons mees verhewe gedagtes en redenasies is. Net soos geloof, hoop, liefde, vreugde en ’n hele klomp ander kosbare geestelike en emosionele ervarings, kan gebed nie in ’n beker gegooi word en na die laboratorium toe gevat word om getoets te word nie – maar dit maak dit geensins minder van ’n werklikheid nie. Nog ’n aanhaling van Chambers lui: “Gebed is nie logies nie, dit is ’n raaiselagtige morele werktuig van die Heilige Gees.”

Uit die ongelowige se oogpunt, is die vraag dus: “Waarom bid?” Maar uit die gelowige se oogpunt is die vraag: “Waarom nie bid nie?” Ons is God se kinders, en daarom moet ons met ons Vader praat en ook luister na wat Hy sê. Om die waarheid te sê, begin die Christelike lewe met die Heilige Gees wat in ons harte influister en vir ons sekerheid oor ons verlossing gee deur te sê: “‘Abba!’ – wat die Aramese woord is vir ‘Vader’” (Gal. 4:6). En ons herhaal self ook hierdie woorde deur ons eie getuienis (Rom. 8:15). Toe die Here ná sy hemelvaart vir Ananias van Damaskus die versekering wou gee dat dit veilig was om Saulus die hande te gaan oplê, het Hy vir Ananias gesê: “Hy is besig om te bid” (Hand. 9:11). Dit was al bewys wat Ananias nodig gehad het.

Die meeste van ons verstaan nie hoe ons eie gedagtes en liggame werk nie, en tog kan ons ’n normale lewe in ’n moeilike wêreld lei. Ek kan nie vir jou verduidelik hoe my kar werk nie en tog kan ek dit bestuur, en hoewel die prosesseringsfunksies van my rekenaar my totaal dronkslaan, kan ek die rekenaar aan- en afskakel en dit gebruik om briewe en boeke te skryf. Ek hoor hoe jy sê: “Maar wag so ’n bietjie. Hoe beter jy jou kar en jou rekenaar verstaan, hoe beter weet jy wat hulle kan doen en hoe om hulle ten beste te gebruik.” Ek stem saam. En hoe beter jy die Here en sy Woord ken, hoe beter kan jy bid en sien hoe God antwoord. Maar ek hoef nie te wag totdat ek ’n doktorsgraad in gebed het om voor die troon van genade te kniel nie. Selfs ’n baba in die geloof kan uitroep: “Abba – Vader – Pappa!”

‘Gebed is die belangrikste ding in my lewe. As ek my gebed vir een enkele dag sou verwaarloos, sal ek ’n groot deel van my geloofsywer verloor.’ Martin Luther

Om God te ken

Iemand het vir Albert Einstein se vrou gevra: “Verstaan jy dr. Einstein se wiskundige vergelykings?” Haar antwoord was: “Nee, maar ek verstaan vir dr. Einstein.” Verstaan ek die ewige vergelykings wat nodig is om tot my Vader te bid? Nee, maar ek begin die Vader al beter verstaan, en dit help my om te bid.

Baie van die Fariseërs wat Jesus ontmoet het, het baie teologiese kennis gehad, maar hulle het nie vir God geken nie. Die skrywers het die letters van die woorde getel wat in die Ou-Testamentiese geskrifte geskryf was, maar hulle het vergeet om oor die God te leer wat daardie woorde deur middel van sy dienaars geskryf het. Dertig jaar ná sy bekering het Paulus gebid dat hy Christus wil ken (Fil. 3:10) – en Paulus was alreeds hemel toe en terug! Paulus het geweet om God te leer ken is die groot geheim tot ’n suksesvolle Christelike lewe, insluitende ’n suksesvolle gebedslewe. Daar is beslis ’n belangrike plek vir sistematiese teologiese kennis in die Christelike kurrikulum, maar slegs as dit tot meer kennis van die Here self lei.

Hoekom bid ons dan? Omdat gebed God se aangewese manier is om Homself te verheerlik deur in ons behoeftes te voorsien sodat ons sy wil en sy werk kan doen. “En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie” (Jak. 4:2). Dieselfde God wat die doel bepaal, bepaal ook die middel tot die doel, en gebed is ’n baie belangrike deel van daardie middel. Wanneer God iets wil doen, roep Hy ’n man of ’n vrou, of dalk ’n groep gelowiges, om oor daardie spesifieke saak te bid, en deur hulle gebede bewerkstellig Hy sy werk.

Dit was God se plan dat Dawid die koning van Israel moes word en dat die Verlosser uit Dawid se nageslag gebore sou word; daarom het Hy Hanna geroep om vir ’n seun te bid, en daardie seun, Samuel, het Dawid as koning gesalf.

God het ’n vasgestelde tydskedule vir sy volk beplan en Hy het bepaal dat hulle uit ballingskap verlos sou word ná sewentig jaar. Toe Daniël hierdie belofte verstaan het, het hy onmiddellik begin bid dat die Here dit sou vervul, en Hy het (Dan. 9).

Dit was God se wil dat die beloofde voorloper (Jes.40:1-5; Mal. 4:5-6) die Verlosser van die volk Israel sou bekendstel. Daarom het Hy Elisabet en Sagaria gedring om vir ’n seun te bid, en gevolglik is Johannes die Doper gebore (Luk. 1). Voor Jesus nog gebore is, het godvresende mense soos Anna en Simeon gebid vir die beloofde Messias om te kom (Luk. 2:21-38) en God het hulle gebede beantwoord.

Die voorreg van gebed

“Of ons nou daarvan hou of nie,” het Charles Spurgeon gesê, “om te vra is die reël van die koninkryk.” Om te vra maak ons nederig, en dit verheerlik God.

Dit is ons nie beskore om die volle geheimenis van die verhouding tussen die ewige raad van God, die beloftes van God en die smekinge van sy volk te verstaan nie, en dit is ook nie nodig dat ons dit verstaan nie. God “heers oor almal, werk deur almal en woon in almal” (Ef. 4:6), en sy voorsienigheid, mag en teenwoordigheid waarborg dat Hy sy doel sal verwesenlik. Maar in sy genade het Hy vir ons die voorreg van gebed gegee sodat ons kan deel hê aan sy groot werk om sondaars te red en sy kerk op te bou. “Ons het geen benul wat deur ons gebede bereik word nie,” skryf Oswald Chambers, “en ons het ook geen reg om dit te ondersoek of te probeer verstaan nie; al wat ons weet, is dat Jesus Christus baie klem gelê het op gebed.” Die godvresende Robert Murray McCheyne het geskryf: “As die sluier oor die werke in die wêreld gelig sou word, sou ons agterkom hoeveel daarvan gedoen word in antwoord op die gebede van God se kinders.”

As jy ’n definisie vir gebed wil hê, kan jy na hierdie een kyk: Gebed is die manier waarop God bepaal het dat Hy verheerlik moet word deur sy liefde met sy kinders te deel, in hulle behoeftes te voorsien en sy doel te bereik met hulle lewe en ander se lewens.

Hierdie definisie raak ’n paar van die vele aspekte van gebed aan:

 lofprysing – om God te verheerlik

gemeenskap – om God lief te hê

versoeke – om God te vra vir dit wat ons nodig het

bemiddeling – om God te vra vir dit wat ander nodig het

’n Gebalanseerde Christelike lewe begin met ’n gebalanseerde gebedslewe. Gebed is ’n ernstige saak, en dit moet gegrond wees op die karakter en die beloftes van God.

Uittreksel uit Gebede uit die hart deur Warren W. Wiersbe (CUM 2019) met toestemming van die uitgewer gepubliseer.

2019-08-01T20:00:39+00:00