






“Op ’n Vrydag, kort ná my aanstelling as redakteur van Lééf – met hart & siel, kom ek laatmiddag moeg van die werk by die huis.
“As ek deur die oop kombuisdeur my man voor die stoof sien werskaf, wéét ek daar wag iets spesiaals. En dié aand is geen uitsondering nie. Wat presies op die spyskaart was, kan ek nie meer onthou nie, maar die sagte lig van die kerse en die mooi gedekte tafel, waarvoor die seuns verantwoordelik was, sien ek helder in my geestesoog.
“Aan tafel gesels ons oor die dag se gebeure. Skielik daal ’n ongekende gewyde stilte oor die tafel neer. Christoff, my jongste van nege, vroetel in sy broeksak, terwyl Pa en Ouboet Francois, met erns toekyk hoe hy ’n pragtige, antieke diamantringetjie ewe plegtig aan sy oorblufte ma oorhandig.
“ ‘My lief, hiermee vier ons jou aanstelling en dit is wat ons vir jou en die nuwe tydskrif toewens,’ sê Johan, terwyl Christoff ’n klein handgeskrewe briefie sorgvuldig oopmaak en begin lees. ‘Liewe Ma, hierdie is my wens vir jou. Pret, vreugde, vrede, voorspoed en blydskap, dit is wat die vyf diamante in die ring beteken.’
“Nou kom Francois, my amper-tiener, aan die beurt. Nóg ’n ringetjie met vyf diamantjies, nóg vyf wense. My beker loop oor, want ek besef hierdie is die ringetjies wat ek en my man ’n tyd gelede in ’n ou juwelierswinkeltjie gesien het en ek so bewonder het. ‘Wysheid, insig, sukses, plesier en seëninge is wat ek vir jou vir jou werk by die nuwe tydskrif toewens, Ma.’
“Johan kom laaste aan die beurt en teen dié tyd swem my oë in die trane. ‘Die derde ring bring die volgende wense met hom saam: kennis, energie, guns, baie kere se skaterlag en ook fokus. Vir jou én die tydskrif.’
“Ek is oorweldig deur die geskenke, die woorde van liefde en ’n groot dankbaarheid wat my oorval.”
Ek sluit daardie eerste redakteursbrief 20 jaar gelede met die volgende woorde af: “En dit is ook my seënwens aan jou, vir elkeen wat hierdie tydskrif deurblaai en met ons deel. Mag die bladsye van Lééf oorloop met liefde, vreugde, blydskap, wysheid, insig, kennis en nog meer. Mag ons jou geesgenoot wees deur die helder en die donker tye in jou lewe. Mag ons saam kies om met oorgawe te lééf. Omdat ons weet Hy het aan ’n kruis gesterf sodat ek en jy mag leef!”
Aan God al die eer en dank vir 20 jaar van genade. Vir seënwense wat steeds met elke uitgawe waar word. Dankie aan elke getroue leser vir jul liefdevolle ondersteuning en dat julle die pad sáám met ons bly loop …
Al my dank en waardering aan elke spanlid en medewerker, sonder julle talent en harde werk sou niks hiervan moontlik wees nie.
Seën en liefde totdat die Somer-uitgawe van Lééf – met hart & siel op 5 Desember op die rakke verskyn.

Christine Ferreira
Redakteur







