“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Matteus 6:21

Die “dissipline van eenvoud” het my nog altyd aangetrek. Ek is die soort wat op ‘n kommune sou kon woon, of in ‘n klooster. Ek sou net die nodigste benodig, net ‘n goeie roetine vir bid en werk. Ek lief roetine! Nogtans is die lewe nie so nie. As jy ‘n gesin het, benodig jy ook ‘n huis, ‘n TV, twee motors en vier selfone – om net te begin. Skoolklere, boeksakke, toergeld, data-pakkette, verjaarsdag-geskenke, Kersgeskenke en vele meer kom by, tot jy letterlik alles het, voel dit, wat mens ooit kan hê. Dan verlang jy nog meer na eenvoud!

Daar is egter maniere om na eenvoud te beweeg, selfs in ons ingewikkelde lewens:

  • Ons kan beslis afskaal. Ons kan weier om die reklame te glo wat sê ons benodig die Nuutste! Verbeterde! produk. Ons doen nie. Ons kan weier om met die bure te kompeteer. Ons kan volgens ons eie waardes leef. Ons kan minder gebruik. Ons kan hergebruik, ruil of aangee. Ons kan leer om te gee. Ons kan oordaad en vermorsing vermy sonder om op die lewe uit te mis.
  • Eenvoud begin egter in die hart, nie in die kamers nie. Eenvoud is eintlik om ‘n ander fokus te hê as ander mense. Dis om so enkelvoudig op God gefokus te wees, dat die wêreld se dinge vervaag. Dis om rykdom en genot en sin by Hóm te vind, nie op die winkelrak nie. Dis om ‘n gesonde afstand te beleef aan dinge, aan goed – om te besef wat is verbygaande en wat is ewig.

Eenvoud is losmaking en losmaking is vryheid. Dís nou rykdom!

Gebed

Maak my los van dinge, Here. Maak my vas aan U.

“Die essensie van Christelike heiligheid is eenvoud en reinheid.” John Wesley.

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2019-08-06T21:49:55+00:00