







“Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle.” Matteus 6:26
“Wanneer ons vasgevang word in die bedrywighede van die wêreld, verloor ons ons verbintenis met mekaar én met onsself.” Dié aanhaling van Jack Kornfield op ’n kleurryke bladsy in my dagboek vang al ’n paar dae my oog. Dit praat met my hart en laat my diep nadink. Ekself was vir so lank skuldig aan “besig-wees”. Die afgelope agt jaar, sedert Lééf onafhanklik bedryf word, werk ek op my eie van die huis af. My span medewerkers werk as vryskutte van Pretoria tot Beaufort-Wes, Kleinmond en die Kaap.
Veral sedert die pandemie kies ek om my dae heelwat rustiger as vantevore te laat verloop. Daar is tyd om soggens koffie op die stoof te laat prut, ’n draai deur die tuin te stap en selfs ’n bondel wasgoed of twee buite in die son op te hang. Ek hoor nou gereeld die voëls in die groot bome in ons groen woonbuurt sing en saans die paddas in die stroompie net buite ons erf kwaak. Ek sien raak hoe die plataan se blare stadig grond toe val en hoe die wintersonnetjie vroegoggend yl ligstrepe deur my kantoorvenster trek. ’n Vriendin bring ’n paar weke gelede uit Nederland vir my ’n kosbare geskenk: Mijn Mindfulness Boekje. “Leef bewuster en ervaar meer rust, tevredenheid en vervulling” lees dit op die voorblad. Die boek is keurig uitgelê met waterverf-illustrasies, lyntekeninge en treffende lettertipes. Die bedoeling is om elke dag ’n stukkie te lees en ’n gepaste oefening of twee te doen.
Vandag word ek uitgenooi om oor hierdie stelling na te dink: “Elk moment is een kans om wakker te worden en te zien wat er opkomt.” Gaan die dag reëlmatig binne, dink na oor hoe jy voel, haal diep asem en let op na die wêreld om jou. Die skrywer nooi die leser onder meer uit om vir vyf dae op jou vyf sintuie te fokus. “Verken elke dag een ander zintuig. In deze challange onderzoek jij je verhoudt tot je ervaring.” Op dié manier word jy opnuut bewus van die oomblik waarin jy jou nóú bevind.
Om meer bewustelik te lewe help ons nie net om in voeling te kom met onsself en ander mense nie, maar ook om onnodige kwellinge en negatiewe gedagtes te vermy. Dit skep ’n dankbare hart en ’n diep konneksie met die skepping, ons Hemelse Vader en die wêreld om ons. Mag jy daarom met ’n dankbare hart, rustig en tevrede met vervulling leef totdat die Lente-uitgawe van Lééf – met hart & siel op 19 September op die rakke verskyn.
Christine Ferreira
Redakteur