Gunsteling-artikels uit die Winter 2026-uitgawe

Franna en Riaan Benade deel hul harte
Kuns van Lééf… Veronika Olivier se liefde vir lap
Waarom, Here? En hoe lank nog?
Die geheime van effektiewe gebed
Kom wees deel
Geloof het ‘n adres…
My lewe in ‘n plakboek
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vul.” Romeine 15:13

Die wêreld loop deesdae koponderstebo, só voel dit vir my. Dit verg sommige dae meer moed as ander om die lewe vierkantig in die oë te kyk en die mooi en die goed om ons raak te sien. Nou onlangs het ons ’n naweek in die Kaap deurgebring vir ons peetkind se troue. Ons vlug land vroegoggend vanuit die noorde. Die lug oor die wynlande is helder, die wingerde in roes getooi en die berge lyk besonder blou.

Die oggend lê oop voor ons eerste kuierafspraak en ek en Johan besluit om ’n draai by La Motte te maak. Soos altyd heers daar ’n gevoel van vrede op dié mooi plek. Ons stap deur die pragtuine en die nuwe Plaaswinkel en Spens voordat ons na die kuns in die ateljeeruimte gaan kyk. Van Horison tot Horison heet die tema van die uitstalling. Die pragtige landskappe en kleurryke stillewes spreek tot my, maar dit is dié gedig deur Lina Spies tussendeur al die kunswerke wat my tot nadenke nooi:

Blydskap

Dis so helder en so herfs

dat al my gisters hier is vandag.

’n Koperbasuin het my gestorwenes gewek:

geliefde papies wat die donkerte verwyl

om nuut die aarde te beërf met vlinderslag.

Dae is om, eeue is verby:

daar’s niks waarop ek wag –

alles is sigbaar en sonant.

Van horison tot horison

tril die diepgestemde tortels

’n boog van hul soprano note.

Dronk van oorhoofse vreugde,

van te ver sien begoël,

soek ek iets naders vir my oog:

Dié plaat doodgewone duiwe

onder die boom van lig,

leiklipblou en pers en pienk

maar met die bovlerke effentjies geroes

– perfek vir die seisoen –

na hulle sal ek kyk;

nie heldersiende,

net ’n verrukte mens wat weet:

geen vere maak vandag ’n mooier voël.

Ja, dis in die doodgewone waar ons die mooiste mooi kry. Die gekoer van ’n tortel. ’n Strepie sonlig wat lewe bring. Ek ruik vandag die vars lug, voel die winterwindjie op my vel en ervaar die vrede van die Here in én om my. Dit maak dat ek weer kans sien vir die lewe.

Mag jy die stil vrede van klein dingetjies om jou ervaar totdat die Lente-uitgawe van Lééf – met hart & siel op 18 September op die rakke verskyn.

  • Dit is weer tyd vir die SPAR-wedloop vir Vroue in Pretoria (Tshwane). Dié resies vind plaas op 1 Augustus by SuperSport-park in Centurion. Vanjaar se tema, #CelebrateHer, nooi ons uit om die lewe én onsself te vier. Lees meer of bespreek jou plek om te kan deelneem by www.sparwomenschallenge.co.za.

Christine Ferreira

Redakteur

Volg Lééf met hart & siel op sosiale media