Lééf mooi

Geskans teen die koue

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Van ‘n stomende bad tot ‘n voedende masker. Hier is 20 maniere om jouself dié winter van kop tot toon te pamperlang.

1.Probeer ‘n wasbehandeling vir ‘n baba-sagte vel. Laat doop jou hande en voete in warm paraffienwas in die salon. Die was vorm ‘n harde lagie op die vel en word soos ‘n handskoen afgeskil. Die warm behandeling laat voedende olie in die vel penetreer om dit sagter te laat voel. Dit is ‘n moet as jy met droë naelvliesies of gebarste hakke sukkel.

2. Skrop jou lyf in die bad of onder die stort met ‘n romerige lyfskrop wat die vel versag en verglad. Raak so ontslae van droë wintervel en dooie selletjies.

3. Amandel-olie hou naelvliesies sag en naels sterk. Vir sagte hande, masseer met handeroom waarby ‘n halwe teelepel suiker gevoeg is. Vryf die hande met die binnekant van ‘n suurlemoen om die kleur egaliger te maak.

4. Kies ‘n selfverhittende skroproom of masker. Dit help om die porieë te diepreinig.

5. Bemeester die kuns van voetmassering terwyl jy knus voor die kaggel of TV sit. Week jou voete in louwarm water waarby ‘n versagtende voetmiddel gevoeg is. Smeer ‘n bietjie olie aan jou hande en masseer die voetsole in ligte sirkelbewegings. Konsentreer op die drukpunte onder die bal van die voet en langs die hakskene. Masseer elke toon totdat jy lekker ontspanne en rustig voel.

6. Belê in ‘n voedende vogroom vir die gesig en nek. So versterk jy die vel se natuurlike beskermingslagie.

7. Gebruik twee tot drie keer per week ‘n masker soos die Optihphi Classic Hydra-Derm HA Masque wat die vel met vog voed.

8. Gebruik ‘n warm kompres pleks van stoom om porieëi vir reiniging oop te maak. Week ‘n klein handdoekie in baie warm water. Sprinkel ‘n paar druppels roosmarynolie op die handdoek. Laat dit effe afkoel en plaas op die gesig en nek.

9. ‘n Warm stoombad laat stywe spiere en ‘n moeë lyf ontspan. Smeer agterna jou lyf met ‘n bevogtigende lyfroom.

Verbeter sirkulasie én jou vel se voorkoms deur gereeld ’n entjie buite te gaan stap.

10. Sny ‘n paar lemoene in skyfies en gooi dit in jou bad. Dis ‘n tonikum vir die lyf en die sitrugeur sal jou gou verkwik.

11. ‘n Paar druppels geurige olie in die badwater gee die heerlikste geur af. Kies malva of sandelhout as jy wil ontspan. Kamille, roos en laventel is kalmerend. Bloekomolie bring verligting vir verkoue en is genesend.

12. Lyfbotter is ryk en geurig, en die ideale manier om jou vel gedurende die koue wintermaande soepel en sag te hou.

13. Nou is die tyd vir ‘n haarmasker. Dit voed jou kroon en keer dat die hare uitdroog en maklik split. Hitte help die prdouk om die haarskag te penetreer. Gee die produk kans om te werk voordat jy dit afspoel. Probeer Authentic Beauty Concept Hydrate Mask met mango en basielkruid.

14. Drink ‘n geurige koppie gemmertee. Dit help onder meer om verkoues te beveg. Kaneel help om die liggaam van binne te verhit.

15. Wintervoete word deur swak bloedsomloop veroorsaak. Voorkom dit deur gereeld te oefen, genoeg vars groente en vrugte te eet en te sorg dat jou voete warm bly.

16. Voorkom winterdepressie. Sonlig laat jou beter voel. Verbeter sirkulasie en jou vel se voorkoms deur gereeld ’n entjie buite te gaan stap.

17. Koue maak die lyf lui. Kies kosse wat energie gee: amandels, geroosterde ryskoekies, pasta met brand rissie en gestoofde vrugte met jogurt.

18. Jou lippe het nie bevogtigende olie- of sweetkliere wat vogverlies beheer nie. Dra ‘n lipstiffie wat die vel voed en bevogtig. Probeer Burts’s Bees Beeswax Lip Balm of Shimmer.

19. Benut die hitte van jou bed. Smeer jou hande en voete met ‘n ryk vogroom of lyfbotter voor slaaptyd. Dra katoensokkies en handskoene sodat die room goed intrek.

20. Maak ‘n afspraak vir ‘n dag in die spa. Bederf jouself met ‘n bietjie tyd vir jouself, koesterende behandelinge en salig stilte. Dit verwarm die hart en bring vrede vir lyf en siel. Maak ‘n draai by die PlacecolSPA in Randburg en spandeer tyd in die pragtige stil- en stoomkamer. Skakel 011 888 8523 om te bespreek.

2019-08-01T07:19:52+00:00