Sit jou hart op papier 2018-10-31T19:37:12+00:00

Foto Hanneri de Wet

Om uit dankbaarheid te leef

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.’ (1 Tessalonisense 5:18)

Partykeer wonder ek hoekom sus of so my moes oorkom. Ek probeer dan so mooi my lewe volgens God se bepalings inrig. Is ek nie geregtig tot meer? (In die Paradys het Adam en Eva dieselfde gedagte gehad.)

Dís wanneer ek gefrustreerd raak, of begin verwyt, of ‘n tikkie bitterheid in my hartkamers vaslê. Flussies trek my mondhoeke af en kyk my oë veroordelend rond… ook om te vergelyk. My vrede verlaat my en ek raak onvergenoegd. Die dae sleur verby en in der waarheid sien ek op teen elke dag met mense om my wat meer het as ek. Weldra is my lippe te styf om Psalm 118:24 te vorm: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het; Laat ons [ek] daaroor juig en bly wees.’

Mense wat met die paradigma van dankbaarheid leef gaan gemoedeliker deur die lewe en vergeef ook makliker. Die ‘dankie-lewe’ bring mee dat hulle die lewe kan geniet, want die Here beloof Hy sal ons lei in die dor tye van ons lewe en sal in ons behoeftes voorsien. Hy belowe ek sal wees/word soos ‘n tuin met volop water. Standhoudend. (Jesaja 58:11)

Ek bid: Here, help my my hart bewaar, want dit bepaal my hele lewe (Spreuke 4:23). Maak my bewus van die brullende leeu wat my vreugde wil steel (1 Petrus 5:8) en ondersteun my met die aantrek van die volle wapenrusting (Efesiërs 6:14-18), sodat ek U lig op ander kan laat skyn. (Matteus 5:13-16).  Amen.

Caro, Oudtshoorn (skuilnaam)

Hande en harte wat dien

Elke Sondagoggend as die eerste voete in ons gemeente se saal instap, is daar reeds hande wat klanktoerusting opstel, bokse regskuif en stoele uitpak. Rûe wat knak en arms wat regmaak. Hierdie mensies tel onder die diensknegte. Hulle is die ongesiendes. Die vrywillige vrywilligers.

Toe ons nog ‘n praktyk in die Karoo gehad het vul ‘n plaasvrou eendag op haar pasiëntvorm haar beroep in as “kneg”. Sy was dus ook een van dié wat haar rol op die plaas en in haar gesin, gesien het as dienend, onderdaan, onvrye, onderhorige, subordinaat, handlanger, assistent, dienaar.

Die dissipels skryf ook van sulke mense. “Daar was baie vroue wat vir Jesus van Galilía af gevolg en Hom gedien het.” (Matteus 27:55). Lukas sê dat hulle Hom met hul besittings gedien het. Ek stel my voor dat hierdie Maria’s en Johanna’s met hul eie seep Jesus se klere vir Hom gewas en versorg het. Hulle het waarskynlik sy sandale met ‘n eie flessie olyfolie behandel, sy beddegoed uitgerol en opgevou as die twaalf weer vertrek het. Hulle het vir Hom uit eie spens broodrolle geknie en vissies uit die meer gaargemaak om as padkos saam te gee. By hierdie Nuwe Testamentiese-harte was dien en gee nie vanuit ‘n slawejuk waar ‘n van buite-af-baas die pas en die rigting stuur nie, maar vanuit ‘n aangeraakte en nuutgemaakte hart.

Hanlie Nel-Smith, Stellenbosch

Foto geneem deur Daniel Robertson

Eerste werk
My tong kleef aan die verhemelte van my mond.
Ek smag-dors na U soos ‘n droë stuk grond.
Laat U wil geskied deur my pen.
Bedek my woord-kuikens, o Hemelse Hen.
Maak my innerlike mens geestelik sterk,
Laat wil en wandel U dien met eerste werk.
Want ek het my tot my Eerste Liefde bekeer
Met al my ontnugtering, vertwyfeling en seer.
Slegs U laat my woorde weer rymend dans
Voor U troon: soggens, smiddae en saans.
Ester, Brisbane (skuilnaam)

Foto geneem deur Christine Vosloo

Brief aan Pa

Liewe Pa
Ek kan myself ‘n wêreld sonder baie dinge voorstel, ‘n wêreld sonder groen, ‘n wêreld sonder berge, ‘n wêreld sonder paaie om jou te lei na nuwe lande, ‘n wêreld sonder heuwels en horisonne. Maar ek kan myself nie ‘n wêreld sonder ‘n man soos my pa voorstel nie. Al hierdie mooi wat ons omgewing ons bied, sou sonder die invloed en liefde van my pa hul kleur verloor. Ek sou nie heeltemal die lewe kon omhels en met groot oë en verwondering daarna kyk, as dit nie was vir hoe my pa sy wêreld ervaar het nie en die impak wat dit op my gehad het nie.

Ek wonder of Pa weet net hoe groot Pa in my lewe is? Ek hoef nie eers ver te soek na die tekens van Pa in my lewe nie. Ek vind Pa elke keer terug na my staar as ek in die spieel kyk. Pa se diepblou kykers het hulself gekopieër in my oë, ook die vlasblonde hare op my kroon.

In my onthou lê daar ‘n duisend oomblikke waarin ek onthou dat Pa my reddingsbootjie was, déél van die oplossing as dit gelyk het asof my lewe inmekaartuimel. Hoeveel kere het julle nie julle kar gepak en kom help trek nie? Bokse gepak, drade ontkoppel, potrette toegedraai en dan ook instruksies gegee aan die manne in die treklorrie oor hoe hulle moet pak. Die manier waarop Pa ‘n kar kan pak is noemenswaardig!

Deur Pa het ons geleer wat liefde is. Die manier waarop Pa en Ma liefhet, sal enige epiese verhaal of fliek laat wegkwyn in vergelyking. Ons kinders was bevoorreg om in ‘n huis te woon waar ons eerstehands julle liefde kon aanskou. Ek weet Pa voel soms dat Pa vir ons meer finansieël sou wou gee, maar glo my ek wéét met my hele hart en siel, dat nie een van ons dogters daardie liefde en vrede vir enige geld in wêreld sou verruil nie. Pa is ons held, nou en vir altyd.

Dit maak nou seer om te besef Pa raak ouer en dat Pa se lyf besig is om Pa te verraai. Die spiere wil nie nou meer so hard saam werk nie, die bene kraak en die senuwees krap aan Pa se mobiliteit. Maar ek dink die Here sê nou vir Pa: “Rus…gaan sit, gaan lees ‘n boek, gaan skryf ‘n storie, gaan rus, jy het genoeg gedoen. Jou tyd van rus is nou hier. Dit is só welverdiend.”

Liefde vir altyd en ewig. Zandra

Zandra Brown, Paarl

(Brief verkort, redaksie)

Stuur jou brief of foto aan navrae@leef.co.za