Geloof het ’n adres 2019-09-01T16:37:11+00:00

Geloof het ‘n adres

‘n Psalm van David

deur Schalk Schoombie Foto’s | Nerette Botha & David Muller

Die sanger David Muller van Prieska in die Noordkaap se aangrypende lewensverhaal getuig van God se liefde vir elke mens. Hy benut sy vele gawes om genesing te bedien.

David Muller (32), ‘n voormalige leraar wat deesdae sy talente as sanger, liedjiekrywer, kunstenaar en motiveringspeker uitleef, het met die wete grootgeword dat hy ‘n aangenome kind was.

“My ouers het dit van kleintyd af vir my vertel, so dit was nooit vir my iets nuuts nie. My ma het altyd genoem dat ek ‘uit ‘n ander mamma se maag gekom het’,” onthou hy. “Ek was okei daarmee.”

Op 18 het David by sy biologiese ma ontmoet en die volle verhaal gehoor. “Na my geboorte het die dokters haar gesig weggedraai, my vir ‘n verpleegster gegee en diéhet my weggeneem. Ses weke later is ek aangeneem deur die twee wonderlikste mense.”

David het die grootste deel van sy grootwordjare in Cradock deurgebring.

“Toe ek ses jaar oud was, het my ouers nog ‘n kind aangeneem – ‘n sussie vir my. Ek het op ses met musieklesse begin en die algemene musiekopleiding ondergaan. Middel-hoërskool het ek sang geneem by Phillip Kotze se sangskool in Bloemfontein.

“My lewe lank het ek vir myself anders gevoel,” erken hy. “Nie oor my huislike omstandighede nie, maar oor die feit dat ek ‘anders’ was. Nóú weet ek darem al dat almal ‘anders’ is. Destyds het ek ervaar dat mense my ‘anders’ sien omdat ek meer kreatief was as die meeste van my maats.”

Sport het hom minder geïnteresseer as musiek maak en konsert hou. Hy het alles gedoen om in te pas. Eers onlangs het hy besef dat sy gevoel van verwerping ‘n wanindruk was.

“Ek het vanjaar lank gaan dink oor waar dit vandaan kom, en ek kon net myself blameer. My ouers het my meer as genoeg ruimte gebied om my kreatiewe self te wees.”

Uit die donkerte

In standerd 9 en matriek het David met depressie geworstel. Om daarvan vry te raak, wou hy sy biologiese ma ontmoet. Sy ouers het ingestem en in November van sy matriekjaar het hy haar ontmoet.

“Dit was ‘n vreemde ervaring,” vertel hy. “Ek was onder die indruk dat daar een of ander vorm van magic sou wees, maar sy was maar net ‘n tannie vir my. Ek kon tog iets van myself in haar oë sien, maar sy het nie soos ‘n ma gevoel nie. Ons het kontak behou, en ek het daardie Kersfees by haar spandeer. Sy is in 2012 oorlede.

“Ek het nou kontak met een van my halfsussies. Sy verstaan dat dit vir my moeilik is om oor haar ma ook as my ma te dink, en sy respekteer dit en gun my dit om sekere dinge nie te voel nie, en sekere dinge te voel.”

Tydens hul eerste ontmoeting het sy biologiese ma hom vertel dat hy die produk van ‘n verkragting (“date-rape”) was.

“Dit het by my begrip vir haar situasie gegee. Dit het vir my sin gemaak dat dit vir haar moeilik was om my te hou. Finansies wat ook ‘n kwessie. My ouers kon vir my geleenthede bied, wat sy nie sou kon doen nie. Om hierdie rede is ek haar eintlik dankbaar.”

David ken sy biologiese pa se naam, maar erken dat hy nooit aan hom dink nie. “Ek het nie kwaadgevoelens teenoor hom nie, maar het ook nie ‘n behoefte om iets meer van hom te weet nie.”

Dit is so ‘n wonderlike belewenis om te ervaar hoe die Here te werk gaan om te voorsien.’

Pyprook en liefde

David het sy vrou, Nadia, ontmoet op die Tuks-kampus waar hulle teologie studeer het. “Daardie tyd het ek pyp gerook. Ná‘n Hebreeuse klas het ek een koue oggend my pyp opgesteek terwyl ons na die volgende klas loop en Nadia het so ‘n ent agter my geloop en opgemerk: ‘Iemand rook pyp – dit laat my nou na my oupa verlang’.

“Ek het omgekyk en was beïndruk dat so ‘n mooi meisie van die pypreuk hou. In die volgende klas het ek langs haar gaan sit. Later die week het ons gaan koffie drink en die koeël was deur die kerk.”

Nadia het ‘n sleutelrol in sy genesing en selfaanvaarding gespeel. “Sy het my liefgekry en daarom het ek myself ook kon liefkry.”

Langs die Oranje

Die Mullers woon sedert Januarie 2014 in Prieska (die plek van die verlore Bokooi), langs die Oranjerivier. Hier het hy en Nadia as leraars by die NG Kerk begin werk. Hul twee dogters, Lylah (4) en Emily (2), geniet die dorp en sy mense.

“Ons huis is ‘n paar honderd meter van die rivieroewer af en ons hoor gereeld die Visarende roep.”

In Oktober 2018 het hy en sy vrou Nadia hul huis op die Oranjerivier in Prieska “van scratch af ontwerp en gebou”. Dit moes prakties wees, helder, vol lig, modern en oop. Die eiendom grens aan ‘n grondpad. Groot glasdeure verbind die stoep en leefarea. Die tuin het ‘n groot grasperk, roosbome, lavetelbos en Chinese populiere. Die gesin braai graag en hulle het ‘n pizza-oond op die stoep gebou.

Prieska se ekstreme klimaat word draaglik gemaak met ‘n waterkoeler op die dak vir die snikhete somerdae van meer as 45 grade Celsius. Vir ysige wintersaande is daar ‘n heerlike kaggel en binne-braai ingerig.

Toe hy die besluit moes neem om uit gemeentebediening te tree, het ‘n vrou tydens een van sy vertonings vir hom gesê om 1 Kor. 2:9 te lees: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”

Dit het my gemotiveer om die onbekende saam met die Here te waag. Die vrou se gehoorsaamheid het ‘n noemenswaardige verskil in my lewe gemaak.”

Lofsange

Deesdae leef David se vele talente voluit uit. Hy is skrywer, musikant, tuiskok en fotograaf. Sy optree-naam verwys na sy debuut-CD, ’n Psalm van David Muller. Hy het sy meestersgraad oor die Psalms gedoen.

“Vir die CD het ek 12 psalmtekste geneem, dit opwindend en hartroerend probeer toonset en musiek daarvoor gekomponeer in samewerking met ’n vervaardiger, Lee Berg. Ek het probeer om die musikale aspek van elke psalm so te komponeer dat dit mens help om die woorde makliker te internaliseer.”

Oor sy veelsydigheid is hy beskeie: “Ek raak miskien net vinnig verveeld met iets en verken dan baie velde. Ek is leergierig. Sommige talente gebruik ek as gawes, soos musiek en prediking. Dit is interessant hoe die talente mekaar aanvul. My skryfgawe help met die aanbied van lof en aanbidding, veral ook met berading. Alles gaan vir my oor stories.

Stille vertroue

David se eerste ervaring van God se krag was tydens ‘n Mosambiek-uitreik vroeg in sy hoërskooljare: “Daar was talle kere waar my mond oopgehang het oor dinge wat die Here gedoen het. Dit kon net Hy gewees het.”

Struikelblokke op sy geloofspad? “Vertroue in God! Ek het Februarie vanjaar uit die gemeentebediening getree en voltyds begin fokus op bediening buite my eie gemeente met sang, begeleiding, prediking en dies meer. Ek moes my salaris en sekuriteite prysgee, en dit was baie moeilik. Ek moes die Here vertrou dat Hy elke maand sal voorsien, sonder ‘n salaris.

“Die Here was nog elke maand getrou, maar dit maak nie dat ek skielik ‘n professionelevertrouer is nie. Dit verg daaglikse inspanning en fokus om die Here te vertrou. Ek weet nie of dit ooit natuurlik gebeur nie. Maar dit is absoluut die moeite werd. Dit is so ‘n wonderlike belewenis om te ervaar hoe die Here te werk gaan om te voorsien.

“Ek is ‘n kontemplatiewe mens, so ek vind dit soms moeilik om genoeg stilte te ervaar in die dorp. Ek skep doelbewus vir my stilte-geleenthede. Dis wanneer ek maklik bewus raak van waar en hoe God met my besig is.

“Ek gaan gereeld saam met ‘n kosbare oom wat soos ‘n Prieska-pa vir my is na sy ‘sandplaas’ toe. Bedags ry ons in die veld, ek gaan stap in die Springbokkamp, en saans sit ons langs die staanvuur. Wanneer ek iewers in die land optree, verkies ek om alleen te ry. Ek luister nie sommer radio terwyl ek ry nie. Ek geniet die stilte.”

Liefde, sekuriteit, konsekwentheid en dissipline is die hoekstene van David en Nadia se ouerskap. “As ek iewers optree en moet uitslaap, weet die kinders dat hul saam met Nadia in die bed mag slaap. Vrydae-aande maak ons ‘n krismisbed in die TV-kamer.”

Verre lande

Die berading wat hy in Prieska doen, fokus op trauma en verhoudings. Verder reis hy landwyd vir optredes tydens eredienste, bied huweliksnaweke aan en verteenwoordig Geopende Deure in die Noordkaap en Namibië.

“Ek streef daarna om jaarliks ‘n land te besoek waar Christene vervolg word. Ek was al in Etiopië, Italië, Qatar en onlangs Bangladesh. In Bangladesh het ek ’n man ontmoet wat in die geheim evangelisasiewerk doen. Hy is gevang en baie wreed gemartel voordat hulle hom vrygelaat het. Toe ek hom vra wat hy nóú gaan doen nadat hy uit die tronk gekom het, was sy antwoord dat hy onmiddellik, krukke en al, aangaan met sy roeping. Ek vra toe of hy nie bang is dat hulle hom sal doodmaak nie. Sy antwoord: “mens kan nie ’n tweede keer sterf nie”. Vir homself was hy al lankal dood. Dit het my geruk.”

David wil voortgaan om mense met sy gawes te dien: “Dit hou my lewendig en skep soveel vreugde en vervulling in my.”