Hartstog 2019-09-01T16:20:22+00:00

Hartstog

Oor die wye blou

Foto’s Paul Vorster

Paternoster se mense ken die in- en uitasem van die see . . . Lizette Murray het op dié vissersdorpie aan die Weskus gaan kuier.

Paternoster.

Wit huise. Blou see. Stilte.

Dis my eerste indrukke toe ons oor die nekkie kom en dié seedorpie van ver af voor ons sien lê. Soos ons nader kom, word die blou-en-wit skildery ’n film vol kleur en beweging en indrukke.

Onder bloekombome staan vissermanne met bossies vis wat hulle te koop aanbied. Toeriste met kameras en rugsakke verkyk hulle aan die winkeltjies met name wat mense nooi om te kom inloer: Noisy Oyster. Wille Magrietjie. Die Winkel op Paternoster, Oep ve Koep, Stone Fish Studio, Ouma se Kombuis, The Square Spoon, Jêm en Pantoffels, The Trading Post . . .

Die duine vou bakarm om die baai. Ronderug-rotse bult soos brode op die strand.

Flertsies rooi vang die oog: ’n uithangbord, ’n hortjie, Paternoster-hotel se vensterrame. Voorstrand Restaurant se sinkdak. Dié bekende rooi-en-groen sinkplaatgebou van meer as ’n eeu oud staan reg voor op die strandfront. Hier kan jy aansit en vergeet van tyd terwyl jy kyk na spikkels wit seemeeue op die verste rotse; mense wat op die strand verby drentel, buk om skulpe op te tel en staan dan stil om oor die water te kyk.

Bo-oor die witgekalkte huise hang die stralende son in die blou lug. Die huise staan kris-kras aan weerskante van die smal kronkelstraatjies uitgepak – tussen bokbaaivygies, krulblaar-gousblom, deurmekaar struike en fynbos.

‘Die see is onvoorspelbaar. Jy weet nie of jou geliefdes vanaand weer by die deur gaan instap nie. Jy móét glo’

’n Lig in die donker

Die stoepe wat uitkyk op die see is gepantser teen die suidoostewind of die geniepsige noordwester wat in die wintermaande hortjies en deure laat klap.In die skoorsteen van Baywatch, die gastehuis waar ons tuisgaan, is ’n glasruit ingemessel – net dáár waar die houtstompe gepak word en die vlamme helderrooi en oranje opstaan.

Shirley Ansley, die eienaar vertel: “Vroeër jare het elke skoorsteen op Paternoster so ’n ruitjie gehad. Wanneer die bote snags op die oopsee was, het die vroue tuis die kaggelvure gestook. Die vissermanne kon die liggies in die donker sien.”

Hulle het geweet: Waar die flikkerende vlammetjies was, was land. En ’n veilige, warm tuiste.

Paternoster se mense ken die in- en uitasem van die see. Soms is dit net ’n ligte veeg oor die klam sand en ’n sagte teug terug. Soms is die asem woedend en blasend. Die see is die dorp se lewensasem. Die rede vir sy bestaan.

In 1829 het ’n skip, die Columbine, langs die kus gesink. Die skipbreukelinge het aan wal geswem en volgens oorlewering uit dankbaarheid die Onse Vader-gebed opgesê. Hulle het toe die baai Pater Noster genoem – die Latyns vir Onse Vader. Paternoster het die drenkelinge se tuiste geword. Vandag is dit hul  nageslag – die vissers van Paternoster – se hartsplek.

Die see en plantegroei en geskiedenis van hierdie besondere vissersdorp is in die name van strate en buurte verewig. Jy sien en ruik die veld wanneer jy deur die dorp drentel. Jy proe die name op jou tong: Kriedoring. Koenibos. Tamaryn. Aandblom. In sommige straatname hoor jy die roep van die seevoëls. Malgas. Visvanger. Malmok. Kiewiet. Seemeeu. Strandloper.

Die bekende bakens is die dekor waarteen die verhaal van Paternoster hom byna twee eeue lank reeds afspeel. Warrelklip. Mosselbank. Voorstrand. Kliprug. Bekbaai. Hopland. Die vuurtoring by Kaap Columbine wat reeds vanaf 1936 snags sy waarskuwingsligte wyd oor die baai gooi.

‘Almal is familie hier’

Ek gesels met twee susters, Carmen Jordaan en Venessa Abrahams. Hulle ken die see. Hul pa, Christie, was ’n bestaansvisser wat elke dag met sy skuit, bekend as ’n  bakkie, op die diepsee uitgegaan het om vir sy gesin kos op die tafel te sit.

“Dis ’n harde lewe,” vertel Venessa. “Voordat ’n visserman uitgaan, moet hy reeds R500 uithaal. Dis nét die koste om sy boot te diens, petrol in te gooi en sy bakkie seewaardig te kry. En dan kla mense oor die hoë vispryse.”

“Wanneer ’n mens jou bestaan uit die see maak, besef jy dat jy uitgelewer is. Die see is onvoorspelbaar. Jy weet nie of jou geliefdes vanaand weer by die deur gaan instap nie. Jy móét glo. Jy kan jou nie oorgee aan bekommernis nie,” sê Carmen.

“ ’n Paar jaar gelede het my pa en broer op die oopsee weggeraak. Dit was verskriklik. Hul selfone se batterye het pap geword en hulle kon met niemand kontak maak nie. Boonop het hul bakkie in die diepsee naby aan walvisse gelê. Hulle was doodsbenoud dat die walvisse opspring en die groot golwe hulle dan bakkie en al onder die water intrek. Hulle het die Onse Vader oor en oor gebid.

“Ons het in daardie drie dae voordat ’n groot boot my pa en broer opgepik het, beleef hoe die mense van Paternoster by mekaar staan. Hulle het kos aangedra en oral gehelp waar hulle kon.”

Jaco van der Westhuizen, Paternoster Visserye se besturende direkteur,  beaam dit.

Die Paternoster Groep van Maatskappye het ’n projek, Paternoster Heroes, begin. Plaaslike jongmense wat bo hul omstandighede uitgestyg het, word as rolmodelle aan die jeug voorgehou. Hulle hou motiveringspraatjies en inspireer die kinders om hul drome na te jaag.

‘Op Paternoster besef jy dat dinge wat vir jou dringend of belangrik lyk, glad nie belangrik is nie’

Neal Pietersen is so ’n jongman wat, ten spyte van struikelblokke en gebrek aan erkenning of geldelike ondersteuning, een van Suid-Afrika se top-seiljagvaarders geword het. Hy is boonop net die derde Suid-Afrikaner wat man alleen in ’n amptelike wedvaart om die wêreld geseil het.

Met Jaco aan die spits borg die Paternoster Groep verskeie plaaslike sportinisiatiewe, onder meer die sokkerspan. Hy haal een van die pragtige blou hemde met Paternoster Visserye se embleem daarop uit sy plastiekomhulsel en verduidelik dat, wanneer mense self verantwoordelikheid aanvaar, hulle ook eienaarskap neem.

“Deur sport help ons hulle om in hulself te glo en hul drome na te jaag. Hier – net soos op ander dorpe – is dwelm- en drankmisbruik ’n werklikheid. Deur iets anders in die plek daarvan te stel en werksgeleenthede te skep, baat ’n hele gemeenskap daarby.

“Ons belangrikste taak in Paternoster is om hoop aan te gee. Hoop is die brug oor die afgrond. Daarom belê ons in ons kinders.”

Jaco het vir Christian Neuber, ’n Duitse filantroop,  genader en gevra: “Kom Paternoster toe en ondersteun ons kinders.” In antworod op hierdie versoek is die Paternoster Project NPC in 2016 gestig om die leerders van die primêre skool St Augustine’s te help om hul skoolloopbane suksesvol te voltooi en hulle vir die toekoms toe te rus. Duitse studente van die Universiteit van Onderwys/Weingarten word vir drie maande as vrywilligers na Paternoster gestuur om die kinders met hul skoolwerk en naskoolse bedrywighede te ondersteun.

Christian glo dat dit ’n suksesstorie kan word wat as rolmodel vir ander dorpe langs die Weskus kan dien – juis omdat die gemeenskap aktief daarby betrokke is.

Daar is besluit om ’n huis – met grasdak en gewels soos dié van huise in die laat-1800’s – in die hartjie van Paternoster te bou. André Kleynhans, ’n boorling van Paternoster en een van die mense wat gehelp het om die Vrywilligersprojek te loods, is die bouer van Volunteer House, waar die Duitse vrywilligers vir die duur van hul verblyf kan woon.

Die gemeenskap se steun vir die bouprojek is oorweldigend. Meer as die helfte van die bouspan is Paternoster-inwoners. Die vissermanne kom ook gereeld op die bouperseel by mekaar om te bid voordat hul uitgaan op see.

“Ek wil hê die mense van Paternoster moet die huis as hul eie beskou – die vissermanne, vroue, ek, jy, almal,” sê André.

Kom, eet!

Dis opmerklik hoe trots die inwoners op hul dorp is. Die suksesstories van inwoners wat self inisiatief geneem het en ’n onderneming uit niks opgebou het nie, getuig hiervan.

Ouma se Kombuis, Venessa Abrahams en Carmen Jordaan se eetplek knap langs die hoofstraat is een so ’n storie.

“Ek het lank begeer om ’n plekkie te hê waar ek huiskos aan mense kan voorsit.En hier sit ons nou. Dis ’n droom wat waar geword het,” vertel Venessa.

Ons eet viskoekies en kerriehoender. Uit die kombuis vlak agter die toonbank kom die geur van brood wat bak. Dit voel soos huis.

Op Paternoster is daar ’n restaurant of indraf-eetplek vir elke smaak en behoefte. Of dit nou vis en skyfies of streekkos of pizzas by Blikkies Pizzeria is, of visgeregte by De Seekat, of ’n ligte ontbyt by Mondvol, of dalk ’n à la carte-ete by Square Spoon – oral word jy met tipiese Weskus-hartlikheid en uithalerdisse bedien.

Tussen die huise en langs die strand lê bakkies in helder kleure, met hul swart registrasie-nommers op die verweerde sykante. Dit herinner ’n mens daaraan dat Paternoster eintlik ’n vissersdorp is. Die plaaslike vissers is steeds die ruggraat van die gemeenskap. Jy sien hulle breed glimlag waar hulle hul dag se vangs langs die hoofstraat of by die vismark verkoop. En jy besef: Hierdie vissermanne kom uit ’n lang ry bestaansvissers wat aan die dorp sy beslag gegee het. Hulle en hul bakkies was hier, lank voordat al die ontwikkeling gekom het.

Paternoster het gegroei van ’n klein, eenkant-vissersdorpie wat slegs met ’n grondpad van Vredenburg af bereik kon word, tot ’n dorp met teerstrate en ’n lewendige sakekern. Besoekers en mense wat hier kom strandhuise bou, gee die ekonomie ’n welkome hupstoot.

Een van die inwoners sê: “Vooruitgang is onvermydelik. En dis goed. Maar ons moet daarteen waak dat Paternoster se eie karakter en unieke atmosfeer in die slag bly. Daarom is daar duidelike bouregulasies. Al die huise moet in die kenmerkende styl gebou word, met wit mure en hortjies wat in sagte kleure geverf is.”

Vir ’n wyle . . . tydloos

Die strandhuise en huise van permanente inwoners staan gesellig sy aan sy. Die verskil is dat die meeste vakansiehuise se luike dig teen die namiddagson toegemaak is, met die deure op slot. Voor die inwoners se huise speel die kinders in die straat. Die hortjies staan wawyd oop. Die wasgoed wapper op die draad – selfs tot teen die oop straatkant.

“Wat is die wese van Paternoster?” vra ek aan my gasheer, Paul Vorster.

“Daar is iets veel groter hier. Byna soos by Stone Henge in Engeland waar ’n mens besef dat die lewe misterieus en veel groter as jyself en jou eie klein lewetjie is. Op Paternoster besef jy dat dinge wat vir jou dringend of belangrik lyk, glad nie belangrik is nie.”

Ek laat die kusdorpie agter met die besef: Die lewe is vlietend. Hier op Paternoster het inwoners en besoekers die voorreg om ’n kort rukkie deel te wees van die tydlose see en die roerlose blou lug wat oor die baai en sy mense span. Die skepping behoort nie aan ons nie. Ons is slegs rentmeesters. Deurstappers. Ook hier op Paternoster.