Boekuittreksel 2019-10-31T19:38:01+00:00

Boekuittreksel

Twee weke

Deur Karen Kingsbury

Cole Blake, seun van Landon en Ashley Blake, staan op die punt om universiteit toe te gaan en die eerste treë na sy droom te neem – ‘n loopbaan in geneeskunde. Maar wanneer hy in sy finale semester op hoërskool begin, ontmoet hy vir Elise, ‘n geheimsinnige nuwe meisie wat sy aandag, en hart met die eerste oogopslag vasvang…

Uittreksel

“Toe sy na die deur toe draai, snak Elise na haar asem en slaan haar hand oor haar mond. “Cole!” Die woord is ’n halwe fluistering, ’n halwe uitroep. Sy glimlag en haas haar na hom toe.

Toe hulle buite in die gang kom, lei sy hom na ’n stiller hoekie naby een van die medisynetrollies. Cole kan nie wag om met haar te praat nie. “Elise. Dit was pragtig. Mooier as mooi.”

Sy lyk senuweeagtig, asof sy nie seker is of hy daar mag wees nie. “Daardie liedjie . . . dit is haar gunsteling.” Hartseer vul haar blou oë. “Haar naam is Evelyn. Sy het net ’n paar uur oor.” Die situasie raak haar duidelik diep. “Die familie gaan nie betyds hier kom nie. Tensy daar ’n wonderwerk gebeur.”

“Kom ons bid dan daarvoor.” Cole neem haar hande en toe hy dit doen, voel hy hoe sy effens verstyf. Hoe sy haar terugtrek. Hy kyk in haar oë. “Dis oukei. As ons hier bid.”

“Reg.” Sy knik, maar sy lyk ongemaklik. Heeltemal anders as net ’n paar minute gelede. “Jy kan bid.”

Cole verstaan nie haar reaksie nie. Hy huiwer ’n oomblik of twee en begin dan. “Here, ons ken nie vir Evelyn nie. Maar U ken haar. Kan U haar asseblief laat bly leef totdat haar familie opdaag? Tot wie ook al na haar toe op pad is, hier kom? Sodat sy nie van hier af op haar eie vertrek hemel toe nie.” Cole dink daaroor na. “Natuurlik, ons weet sy is nie alleen nie, Jesus. Sy het vir U en . . . vir ’n rukkie vir Elise. Dankie, Here, vir Elise se omgee-hart vir Evelyn

en alle mense. En dankie dat sy in my lewe is.” Hy glimlag, selfs met sy oë toe. “In Jesus se Naam, amen.”

“Amen.” Elise los dadelik sy hande. “Cole.”

Iets in haar stemtoon sê vir hom daar is ’n probleem. “Is jy bekommerd omdat ek hier is?” Hy kyk in die rigting van die dienskamer. “Hulle ken my. Dis oukei.”

“Nee . . . dis nie dit nie.” Sy druk haar hand teen haar maag. “Ek voel nie lekker nie.”

Wat?Cole knip sy oë ’n paar keer. Dit maak nie sin nie. Net ’n paar minute gelede het sy by Evelyn se bed gestaan en vir haar gesing. En nou voel sy nie lekker nie? “Bedoel jy . . . dat jy hierheen gekom het terwyl jy siek is?”

Sy skud haar kop. “Nie regtig nie. Ek bedoel, ek is nie seker nie. Ek het gedink dit was die slaaisous by die skool, maar –”

Sonder om nog ’n woord te sê, hardloop sy in die gang af na die naaste badkamer. Cole is nie seker wat om te doen nie. Wat kon haar sonder enige waarskuwing so siek gemaak het? Hy kyk na die badkamerdeur terwyl hy teen die gangmuur leun. Slaaisous by die skool? Sou sy nie dan al vroeër begin sleg voel het nie?

Uiteindelik kom sy uit, haar gesig rooi en haar oë waterig. Sy kyk stip na hom terwyl sy naderkom. “Cole. Ek moet gaan. Ek voel nie reg nie.”

“Goed so. Ek sal vir die suster gaan sê.”

Sy knik en wag terwyl hy dit gaan doen. Cole se gedagtes is ’n warboel. Dit maak nog steeds nie sin nie. Sy was nou-nou nog gesond. Hoe kon sy so vinnig siek geword het? In so ’n kort tydjie? Hy wag terwyl sy haar goed uit die badkamer se sluitkassie gaan haal en dan stap hy in stilte saam met haar na die hoofuitgang en uit na die parkeerterrein.

Hy lei haar na sy Explorer en toe hulle in die kar sit met die deure toe, draai hy na haar toe. “Elise. Wat gaan aan?”

“Ek het opgegooi.” Sy laat sak haar kop. “Iets is fout.”

Hy leun nader en voel aan haar wang, net soos sy ma oor die jare met hom en sy sibbe gedoen het. Dit is koel. “Ek dink nie jy het koors nie.”

“Nee.” Sy snuif en leun terug teen die sitplek. “Ons moet praat, Cole. Kan ons?”

“Goed.” Sy ma maak hoender vir aandete, sien daarna uit om haar te ontmoet. Maar as hulle eers na ses gaan eet, is daar nog tyd. “Kom ons gaan na my huis toe. My ma wil hê jy moet bly vir ete.” Hy bly ’n oomblik stil. “Ons kan gaan stap. Agter die huis is ’n stroompie met ’n groot rots. Ons kan daar gesels.”

Sy knik, maar op pad huis toe sê sy nie ’n woord nie. Asof die meisie wat hy by die sterwende vrou sien sing het, binne ’n paar minute verdwyn het. En in haar plek is hierdie siek, hartseer persoon wat lyk asof haar wêreld ineenstort.

Cole wil nie hê Elise moet sy ma ontmoet terwyl sy in hierdie toestand is nie. Die reën het opgehou en dit is net warm genoeg om buite te sit. Daarom stop hy in die oprit en loop saam met haar na die rots langs die stroompie. Alles sonder om naby die huis te gaan. Toe hulle langs mekaar sit, laat sak sy weer haar kop.

Wat dit ook al is, dit is iets wat haar ontstel. Hy sit sy hand op haar skouer. “Elise, ek is hier.” Hy hou sy stem sag. “Praat met my.”

Vir ’n rukkie sê sy niks nie. Sy sit net daar en afkyk. Dan haal sy stadig en diep asem en kyk op, draai haar oë na hom toe. “Ek het jou nie alles vertel nie, Cole.”

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Twee wekedeur Karen Kingsbury met komplimente van Struik Christian Media wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag:  Wat is Cole se ma se naam? Sluitingsdatum: 30 November 2019.