Kuns van Lééf

Van mieliepit tot meesterstuk

Deur Arno Hurter | Foto’s verskaf

Lute Vink bekoor die wêreld al vir dekades met sy verstommende realistiese kuns, maar wie is die man agter die meesterwerke?

Ek onthou nog die dag toe ’n merkwaardige wildlewe-skildery op Facebook my laat regop sit het. Dit was van ’n majestieuse jagluiperd – dramaties en aangrypend. So realisties soos ’n foto, maar selfs mooier, meer poëties, meer ég. Het ’n mens dit geskilder, het ek gewonder? Dit was mos onmoontlik! Die uitbeelding was net te goed. Die kunstenaar se naam was egter onderaan die plasing: Lute Vink. Selfs die naam was bekorend, asof ’n verbeeldingryke skrywer dit uitgedink het.

Ek het die naam onmiddelik gegoogle en op sy webwerf afgekom. Vir iemand met ’n liefde en waardering vir kuns was dit soos om Alladin se grot te ontdek, ’n spelonk gevul met glinsterende skatte. Magiese skilderye van veral wildlewe het die webwerf gevul, die een meer asemrowend as die ander. Ek het letterlik vir ure daarna gestaar. Ek kon die gras ruik, die bosveld wind voel, die sonlig en skadu in elke kunswerk intens ervaar. Dit was ’n openbaring. Daardie dag het ek ’n lewenslange aanhanger van hierdie wêreldbekende kunstenaar geword. Dit was ’n voorreg om met hom te gesels en meer oor sy werk en sy lewe uit te vind.

Omring deur die natuur

Lute – onder sy vriende en familie bekend as Ludi– is in 1961 as jongste kind in Den Helder, Nederland, gebore en het saam met sy gesin Suid-Afrika toe geëmigreer toe hy twee was. Kort daarna het hy sy pa in ’n tragiese motorfietsongeluk verloor. Lute het die grootste deel van sy laerskoolloopbaan in Trichardt (vandag Secunda) deurgebring. Daar het hy geleer van platteland en plaas en het hy gereeld in damme geswem en tussen hooimiede gespeel. Sy liefde vir die natuur het vroeg reeds begin. Hy was van jongs af kreatief en behendig daarmee om draadkarre, pyl en boë en ketties te maak. Na ’n ongeluk waarin sy arm erg deur glas gesny was moes hy ’n lang periode uit die skool uit bly en het sy punte gevolglik geval. Dit, gepaardgaande met die feit dat hy vir jare meedoënloos geboelie was, het Lute met ’n swak selfbeeld gelaat, iets wat soms vandag nog by hom spook.

Op hoërskool is hy eers na die koshuis in Bethal, toe later na Heidelberg gestuur. Dit was maar ’n moeilike, eensame tyd. Hy was ondeund en aandagsoekend, want daar was ’n liefdestekort met die dat hy so ver van die huis af moes skoolgaan. Die onophoudelike afknouery het ongelukkig op hoërskool voortgeduur, omdat Lute nie stereotipies en hoofstroom was nie. Hy’t ’n ware kunstenaarstemperament gehad, die een dag opgeruimd, die ander hartseer en buierig. Hy’t ontvlugting van die akademie af gesoek en het hom op sy tekenvernuf toegespits. In kuns het hy min kompetisie gehad. Daarin kon hy presteer en homself ten volle uitleef. Sy gunsteling tydverdryf was om alleen in die veld te stap, omring deur die natuur. Hierdie faktore het bygedra om van hom ’n introvert te maak.

Skilderye wat jy partykeer dink nié verkoopbaar is nie verkoop soms eerste.

Voltyds kunstenaar

Na militêre diensplig het hy grafiese kuns begin studeer, maar weens omstandighede kon hy nie met ’n tweede jaar aangaan nie. Omdat hy uiters prakties en bekwaam was met sy hande het Lute vir agt en ’n half jaar by Telkom as technikus gewerk. Dit het ’n standvastige inkomste gebied vir ’n getroude man met kinders, maar Lute het bly smag na ’n loopbaan in die kunste. Sy eerste stap in hierdie rigting het in die vorm van pirografie (brandskilder op leer) gekom. Dit was ’n monochromatiese medium en het Lute se tekenvermoë tot nuwe dimensies ontwikkel. Sy skeppings het egter flink begin verkoop en in 1989 kon hy die skuif maak na voltydse kunstenaar.

Lute het die brandskilderwerk vir jare beoefen, maar het later die behoefte ontwikkel om homself in kleur uit te leef. Hy wou verf soos die topkunstenaars wie se skilderye hy vir jare lank bewonder het. Dit was ’n periode van groot uitdagings en aanpassing, want Lute het geen formele opleiding in skilderkuns gehad nie. Hy’t die volgende tien jaar in akriel gewerk en die medium stelselmatig bemeester. Lute wou later die stadslewe ontvlug en het in 2002 met sy gesin na Leeupoort-vakansiedorp toe verhuis. Geleë op ’n 600 hektaar wildsplaas waar zebras, vlakvarke, rooibokke en ander klein wild gereeld tussen die huise dwaal, was en bly dit vir hom ’n inspirasie. Hier het Lute die bos intiem leer ken – van die verskil tussen rosyntjiebos, apiesdoring en vaalboom tot nog vele meer. In Leeupoort het streekshitte die akrielverf egter te vinnig uitgedroog, wat Lute genoodsaak het om na olie oor te slaan. Hy moes van voor af ’n nuwe medium leer ken en beskryf die proses as ‘loop en val’. Lute verf die afgelope agt jaar egter uitsluitlik in olie en skep ook hoogs gedaileerde uitbeeldings in potlood en grafiet. Hy benader sy kunsskepping met oop, helder denke.

“Baie kunstenaars roem daarop dat hulle selfgeleerd is. Niemand is egter volkome selfgeleerd nie. Jy word gevoed en beïnvloed deur ander om jou. Jy tel bewustelik of onbewustelik tips en tegnieke op deur kuns op sosiale media, in gallerye en boeke waar te neem. Jy leer by ander, al leer niemand jou direk nie. Mense sê baiekeer jy hou seker nie daarvan om dit wat jy doen met ander te deel nie. Ek antwoord altyd kuns is mos nie ’n kompetisie nie. In die naam van kuns is dit net reg dat jy deel. Hoekom wil jy dit vir jouself hou? Nee, ek sê vir mense hoe ek grassies skep met ’n pizza-snyer, hoe ek verf spat met ’n deurmekaar kwas en hoe ek bome se blare met opgerolde koerantpapier of gefrommelde plastiek optoor. Daar’s baie dingetjies… Mens moet net uit die boks uit dink. Die moontlikhede is eindeloos.”

Elke kunswerk vertel ‘n storie

Hoe beskryf Lute sy kuns? “As realisties impressionisties. Ek dink baie soos ’n kamera met ’n zoom lens en plaas gewoonlik meer fokus op die diere en hul onmiddelike omgewing. My agtergronde is meer impressionisties. Ek gee die indruk van byvoorbeeld bome en blare. Ek vestig ook aandag op kleiner vignettes soos tarentaalvere, skoenlappers en voëls wat strategies geplaas word voor, agter en om die hoofonderwerp om sodoende ’n leesverhaal in die kunswerk te skep. Dit moet ’n storie vertel. Verder werk ek maar met al die kunsfassette: temperature (warm teenoor koud), teksture (grof teenoor sag), in fokus teenoor ook figure, stillewes, donkiekarre, plaastonele ensovoorts. Ek wil ook Indiese tonele begin verf, geïnspireerd deur ’n onlangse besoek aan dié land.”

Sy raad aan voornemende kunstenaars? “Dink groot in alle opsigte. Sien jouself as ’n potensiële meester vorentoe, al het jy nog nie eers verf of kwaste aangeskaf nie. As jy die passie en dryf binne jouself het – die geloof dat jy iets groot kan vermag  – kan jy berge versit. Lank voor ek nog met akriel of olie gewerk het, het ek geweet ek het die vermoë om ’n goeie kunstenaar te wees, want die wil was daar. Mense sê gereeld jy’t darem ’n groot talent gekry, maar talent beteken net mooi niks. Dis soos ’n mieliepit op ’n rak. Dit gaan daar lê. Daar’s potensiaal, maar jy moet dit plant. Jy moet dit voed, sonlig en water gee. Dit moet ’n pad stap, enduit, en dan sal daardie mieliepit eers spreekwoordelik vrugte dra. So, stap die pad. Mense daarbuite wil sien dat jy groei en verbeter. Vernuwe jouself, toets jouself en kyk waarnatoe dit lei. Skilderye wat jy partykeer dink nié verkoopbaar is nie verkoop soms eerste. Daar’s altyd ’n koper vir ’n werkstuk, altyd.

“Met die groei, koop beter materiale. Dis dieselfde soos in sport. Met beter gereedskap gaan jy beter vaar. Die geheim is deursetting. Ek probeer daagliks om nie op ’n negatiewe te eindig nie. As iets waaraan ek gewerk het misluk, probeer ek om dit dieselfde dag nog reg te maak, want dan begin ek môre met ’n positief. Kunsklasse is goed, maar jy moenie net by een persoon lesse vat nie. ’n Chinese gesegde lui: luister meer as wat jy praat. As jy heeltyd praat dan dra jy net oor wat jy weet, maar jy leer niks by nie. Leer dus om aandagtig te luister, want daar’s altyd iets nuut om te leer. Werk hard, bly nederig en onthou… in kuns, nes in die lewe, leer uit en verbeter elke dag op jou foute sodat jy eendag iets mooi sal nalaat.”

Kunsliefhebbers is ongetwyfeld dankbaar dat Lute Vink sy metaforiese mieliepit lank gelede geplant en sorgvuldig gegroei het tot meester. Mag sy oeste vir nog geseënde seisoene bly inkom. Mag die landerye wat hy daagliks met soveel deernis, passie en oorgawe bewerk welverdiende vrug dra. Mag die vreugde en inspirasie in sy kuns aanhou om hoop en lig in ons onseker, soms neerslagtige lewens te straal. Die wêreld het dit nodig.

Om meer van Lute se werk te sien, besoek www.lutevink.co.za of stuur ’n epos na lvink@vodamail.co.za/ skakel 0825467780 om kontak te maak.

2019-10-31T19:53:48+00:00