Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Antonij Rupert Optima 2015

Die wyn bied ’n heerlike tussenspel van swartbessies, cassis, viooltjieparfuum en ’n aardse rykheid. Die wyn is fluweelsag op die tong. Geure van donker bessievrugte, Kerspoeding, sigaarboks en speserye verleen aan die wyn ‘n statige karakter.  R200.

Diemersfontein The Prodigy 2018

Die geliefde rooiwyn is veral bekend vir sy sjokolade en koffienote. Geniet dit saam met Suid-Afrikaanse gunstelinge soos bobotie, buuny chow of braaivleis. R75 per bottel.

L’Olmarins Blanc de Blancs 2013

Die vonkel straal elegansie en sofistikasie uit danksy sy treffende verpakking. Die L’Ormarins Blanc de Blancs is perfek op sy eie, verkil, of saam met vars oesters, pangebraaide garnale met lemoen en Pernod, ’n heerlike nektarien-en-frangipanitert, of selfs met ’n klassieke Duck a l’Orange. Hierdie beperkte MCC is by uitsoekhandelaars beskikbaar teen R220 per bottel.

The Mentors Carméneré 2017

Die Mentors-reeks wyne is ‘n tentoonstelling van Suid-Afrika se beste wynmakerstalent. Dié wyn kan dadelik geniet word of vir die volgende agt jaar gebêre word. Bedien saam met geroosterde vleis en wildsvleis. Beskikbaar by die Emporium in die Paarl teen R250 per bottel.

Durbanville Hills Sparkling Wine Rosé

Vier die somer met dié gesofistikeerde vonkelwyn met geurnote van aarbei, sitrus, roos en Turkse lekkers. Die vonkelwyn proe na pomelo en bessies. Geniet dit daam met oesters, gerookte salm of aarbeie en room. R90.

Robertson Winery Sauvignon Blanc 2018

Dié wyn is volrond met sterk note van soetrissie, groen appel en varsgesnyde gras. Die wyn het ‘n goeie struktuur en balans en bied uitstekende waarde vir geld. Tussen R55 en R60 per bottel.

Leer ken die landgoed

Bon Courage Wynlandgoed, geleë in die Robertsonwynvallei, is as die top presteerder aangewys tydens die pas afgelope Novare SA Terroir Toekennings met drie nasionale wenners én twee trofees. “Colombard is een van Bon Courage se “claim to fame’s” veral vir André Bruwer, na wie die wyn vernoem is. André’s Fame Colombardhet oor die laaste paar jaar vir ons baie toekennings ingebring. Die spesifieke terroir van die 15 jaar ou wingerd, staan op die koeler gedeeltes van die plaas, langs die Breërivier op diep aluviale grond. Die wingerdboupraktyke asook die wynmaakproses verleen hom daartoe om maksimum geur na vore te bring wat weerspieel word in die spesifieke wyn” sê keldermeester, Jacques Bruwer.  Die Lady of the House Pinotage Rosé 2019 en die 2011 Bon Courage Jacques Bruére Blanc de Blanc Cap Classique het ook onderskeidelik toekennings ontvang.

Op die spyskaart by Tokara

Tokara se sjef, Carolize Coetzee, het pas haar spyskaart vir die nuwe seisoen bekendgestel. Groente en vrugte uit die Simonsberg-omgewing, sowel as die plaas se eie olyfboorde, en eg-Kaapse bestanddele soos kapokbos en renosterbos is die inspirasie agter dié spyskaart. Bespreek by 021 885 2550, epos reservations@tokara.com of besoek www.tokararestaurant.co.za.

Sjefstafel

Biltong is die perfekte pasmaat vir die Survivor Pinotage 2017 uit die Swartland.

Die Tomme De Waterkloof is pas bekendgestel. Dié semi-harde, Frans-geïnspireerde kaas, word plaaslik deur die bekroonde Healey’s Cheesery & Deli, op die bio-dinamiese Waterkloof Landgoed buite Somerset-Wes, gemaak.

Dié heerlike vars Burrata-slaai is deel van Constantia Glen se nuwe  somerspyskaart.

2019-10-31T20:22:55+00:00