Lééf mooi

Vrae wat pla

Deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Van velsorg tot grimering en die versorging van jou hare – ons beantwoord 10 algemene skoonheidsvrae.

My vel lyk dof en leweloos. Wat kan ek daaromtrent doen?

Die vel se boonste lagie bestaan uit dooie selletjies wat voortdurend deur nuwe selletjies vervang behoort te word. Sodra die proses van vernuwing verstadig, versamel die dooie selletjies op die oppervlak, en dit laat die vel grys, dof en ongesond lyk. Faktore soos stres, besoedeling en blootstelling aan die son strem selvernuwing. Dit ontneem die vel van vog, wat die vel leweloos laat lyk. Dis soms nodig om die afskilferingsproses aan te help sodat nuwe selletjies blootgestel kan word. Die weeklikse gebruik van ‘n skroproom sal die vel weer laat gloei. Gebruik andersins ‘n room wat AHA’s of beta-hidroksiesure bevat. Retinol stimuleer ook selvernuwing. Gereelde salonbehandelinge waar die vel afgeskilfer word, is ‘n effektiewe manier om van die dooie boonste lagie ontslae te raak.

Hoe lank sal dit neem om te sien of my vogroom werk of nie?

As jou vel sensitief of allergies is, sal jy sommer dadelik agterkom as ‘n room nie met jou akkordeer nie. Onder normale omstandighede duur dit gewoonlik drie tot vier weke voordat jy ‘n verbetering sien. Sommige produkte, soos ‘n verfermingsroom of ‘n hoë-konsentraat serum, maak dadelik ‘n verskil aan die vel.

Ek sukkel met die kleur van my onderlaag. Hoe gemaak?

Onderlaag behoort presies by jou velkleur te pas. Een skakering ligter of donkerder is verkeerd. Jy behoort met ‘n skoongewaste gesig te gaan onderlaag koop. Soek ‘n paar kleure uit wat jy dink by jou velkleur pas. Smeer ‘n bietjie onderlaag in die middel van jou wang aan. Die regte kleur is dié kleur wat heeltemal verdwyn teen die kleur van die res van jou gesig. Jy behoort met die finale kleur wat jy gekies het buitentoe te gaan, met ‘n handspieëltjie in die hand, om te kyk of dit ook in natuurlike lig die regte kleur is vir jou. Dit klink alles na baie moeite, maar onthou as jy eers die regte kleur onderlaag gevind het, hoef jy nooit weer te toets nie.

As ek self my naels verf, is die naellak geneig om gou af te splinter. Wat doen ek verkeerd?

Maak eerstens jou naels deeglik skoon met naellakverwyderaar. Gebruik altyd ‘n goeie basislaag onder jou naellak. Dit help die naellak om aan die nael te bly kleef. Bedek met ‘n bo-lagie. Hou die naellak langer vars deur dit na ‘n paar dae weer die naels met ‘n bo-lagie te bedek.

Ek koop graag nuwe velsorgprodukte. Is dit wys om produkte uit verskillende handelsmerke te meng?

Produkte binne ‘n spesifieke reeks is geformuleer om mekaar aan te vul om so die beste resultate te lewer. Deur produkte van verskillende skoonheidshuise saam te gebruik sal jy nie noodwendig jou vel skade berokken nie, maar jy sal beslis nie die beste waarde uit die produkte kry nie.

My hare lyk pragtig as ek by die salon uitstap. Wat kan ek doen om dit net so mooi te laat lyk as ek dit self by die huis versorg?

Begin met ‘n goeie sjampoe, opknapper en die regte stileermiddels. Vra jou haarkapper om ‘n aanbeveling te maak en ook om vir jou te wys hoe om jou hare reg te stileer. Om soos ‘n kenner jou hare te kan droogblaas het jy die regte borsel en haardroër nodig. Jou haarstyl bepaal die tipe borsel wat jy moet gebruik. ‘n Breë, plat borsel help om lang hare reguit te blaas.

Wat is die beste manier om ‘n puisietjie weg te steek?

Kies ‘n verbloemroom wat taai genoeg is om aan die vel te kleef, maar ook bestanddele bevat wat die ontsteking verminder. Gebruik ‘n grimeerkwassie om die vlekkie presies te bedek. Tik dan liggies met jou vingerpunt op die kolletjie om dit met die res van jou onderlaag te skakeer. Moenie meer verbloemroom aansmeer as wat nodig is nie. Set met ‘n los deurskynende poeier wat liggies aangeborsel word.

Is daar raad vir pofferige oë?

Pofferigheid word deur vetneerlagies rondom die oë veroorsaak. Die hoeveelheid vet rondom die oë is dikwels oorerflik. Jy kan egter keer dat die vetweefsel onnodig swel deur te veel sout en souterige kosse, wat waterretensie veroorsaak, te vermy. Moenie jou oë onnodig vryf nie; dit laat die oë ook swel. Slaap op ‘n hoër kussing om te keer dat vloeistof rondom die oë saampak. Gebruik koue kompresse, koue teesakkies en skyfies komkommer om die probleem te beheer. Kies ‘n oogroom in ‘n jelformule wat help om die pofferigheid te verminder.

Ek sukkel met pigmentasievlekke. Is daar raad?

Om van pigmentasievlekke ontslae te raak is ‘n tydsame proses. Daar is heelwat velsorgprodukte wat spesiaal hiervoor geformuleer is wat kan help. Begin deur jou probleem met ‘n dermatoloog of opgeleide skoonheidsterapeut te bespreek. Hulle sal waarskynlik ‘n reeks behandelinge aanbeveel. Dit kan wissel van ligte afskilferings tot laserbehandelinge.

My hare is vreeslik fyn en plat. Hoe kan ek my hare voller laat lyk?

Sny dit in ‘n styl wat volume skep. Bly weg van lang, reguit hare en moet dit nie met swaar of baie stileermiddels oorlaai nie. Kies ‘n produk wat spesifiek vir jou haartipe geformuleer is. Gebruik ‘n stileermiddel wat volume skep. Gebruik ‘n ronde borsel wat meer volume aan die hare gee wanneer jy dit droogblaas.

2019-09-30T15:03:50+00:00