Lééf as gesin

Om ’n kind te verloor….

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

…is nie ’n omdraaipad nie, maar te midde van pyn, verlies en gebrokenheid is daar tog ook hoop, en dié hoop staan vir ewig vas.

Wanneer ’n mens na gesprekke luister van ma’s wat kinders aan die dood afgestaan het, is daar ’n herkenbare spoor wat deur elkeen se verhaal kronkel. Hoe die omstandighede rondom die verlies, of manier waarop elkeen treur, ook al mag verskil, op die ou end kom almal by dieselfde besef uit: Niks wat ek doen of sê of bid, kan my kind terugbring nie. Dit is finaal. Dit gaan altyd so wees. Dit beteken allermins dat jy nou ’n punt agter jou rouproses kan sit en verklaar: “Ek is óór die dood van my kind. Ek kan nou aanstap.” Nee. Jou kind is immer teenwoordig. In elke dag se dink en doen en hoor en sien. Selfs in klein, onverwagse dingetjies. Die reuk van skooltoebroodjies. ’n Kleintydboek met sy naam voorin. Die kleur van die winterlug die dag toe hy weggegaan het. ’n Kaartjie. ’n Foto. Jy vergeet niks. Jou kind is onder jou vel, in elke sel van jou lyf.

Die onbekende pad

In haar boek Anderkant die ondenkbare verwoord Jeanette Morton haar gewaarwordinge ná die dood van haar 20-jarige seun Henno in ’n motorongeluk: Ek druk my gesig diep in die kussings in en probeer om die reuk van sy hare, van sy gesig, van sy ore en sy neus en sy voorkop en sy oë en sy lippe deel van my te maak. Soos deur osmose. Ek probeer om myself toe te vou met iets van hom… Ek voel leeg. Ek kan aan niks dink om te sê nie. Eintlik wil ek net alleen wees. Eintlik ook nie. Eintlik wil ek net my kind by my hê.

’n Jong vrou wie se baba sterf, skryf vir my:

“Ek is skielik van my bekende, vertroude koers afgegooi. Ek het noord gestap – met die son op my gesig. Nou strompel ek suid – op ’n onbekende pad wat ’n skaduwee oor my hele lewe gooi. In die donkerte soek ek na my bekende, vaste bakens. Ek tas rond na ’n plekkie waar daar ’n bietjie son is. Maar niks is meer soos dit was of waar dit was nie. Ek moet alles in my lewe van voor af leer ken. Myself, my man, my familie en vriende. Almal is nou onbekend vir my – en ek vir hulle. Van buite af lyk ek dieselfde, maar binne is dit stukkend en deurmekaar. Ek moet ook die God wat ek so liefhet, van voor af leer ken, want skielik verstaan ek Hom nie. Hoe kon Hy dit toelaat? Hoe vertrou ek Hom weer? Ek smag na Hom terwyl ek met Hom baklei…”

Dít is die spoor wat deur elke ma se verliespad loop. Onbegrip. Vrae. Verbystering. Dis ’n onbekende pad sonder rigtingaanwysers. Jy loop jou oral vas teen die wag-’n-bietjiebos waarvan Totius ná die dood van sy kind skryf: En steek ek dan my hande uit na u besluit/ dan gryp ek in die dorings vas.

Wanneer die onomkeerbare gebeur, word jy stom. Jy smeek nie meer nie: “Asseblief, Here! As U…, sal ek …” Die pleitgebede vir jou kind verstil. Die streep is getrek. Jou kind is dood.

Jy weet: Agter elke stroewe, ontoeganklike gesig is ’n storie.

Op engelhande

Ons as ma’s het drome vir ons kinders. Ons kyk hoe hulle die toekoms vol vreugde inhardloop. Wanneer een van hulle dan die aflosstokkie wat hy by sy ouers aangevat het, laat val, sukkel ons om sin daaruit te maak. Ons weet nie mooi hoe om ons eie lewenswedloop verder te voltooi nie. Al wat ’n ma dan weet, is: Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Die prentjie wat ek vir my kind in gedagte gehad het, is weg.

Die insigte kom langsamerhand. Soms in die stilte van die nag. Soms terwyl ’n mens gedagteloos opgekrul in jou gunsteling-leunstoel sit. Soms terwyl jy werk. Of motor bestuur. Of kosmaak vir jou gesin.

Om te treur is ’n lewensproses. Niemand kan dit aanjaag nie.

Verlies kan nie doodgeleef of weggelag word nie. Om gemaak-vrolik te wees, hef nie swaarmoedigheid op nie. Ontkenning ook nie. Ek moet deur my hartseer werk om vrolik te kan wees. ’n Uitdrukking lei: Make a shelter for your sorrow. Dit vra van my om ’n skuiling vir my hartseer te maak en daarbinne te gaan sit. En om bereid te wees dat God my troos en leer.

Jeanette Morton skryf: Ek staan weerloos naak voor die Almagtige Skeppergod. Soos ’n boom wat van sy blare gestroop is. Niks kan my bedek nie. Klein staan ek voor God, skaars groter as ’n sandkorrel. Ek kan niks sê nie. Al wat ek kan doen, is om soos ’n brose kind te prewel: “My Here en my God …”

In die lang, stil ure wanneer ’n mens woordeloos in God se Teenwoordigheid sit, begin jy die woorde uit die bergpredikasie verstaan: “Salig is dié wat treur…” Terwyl jy treur, kom die Heilige Gees self by jou sit. Hy vul jou met Sy troos. Hy laat waarhede uit die Skrif tot in jou diepste menswees sif. Hy leer jou dat treur eerder ’n proses is as ’n pad met ’n begin- en ’n eindpunt. Vir God gaan dit oor veel meer as die uitkoms. Hy is daaroor begaan dat ons sal groei en nader aan Hom kom. Hy hou die hele skepping in stand en laat niks per ongeluk uit Sy hand glip nie. Hy wil hê dat ons dit wéét en bewustelik ons eie maak.

Jeanette Morton se skok, matelose verdriet, verlange en worstelvrae ná die dood van haar seun eggo dié van baie ander ma’s wat ’n kind aan die dood afgestaan het. Dwarsdeur haar donkerste ure bly Jeanette egter bewus van die Heilige Gees wat haar vashou. In al haar vertellinge en die herroep van herinneringe loop ’n geloofsdraad, die vaste, seker wete dat God se beloftes – selfs in die doodsoomblikke – vir haar kind waar was. Selfs Psalm 91:12: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie”, wat sy dikwels oor Henno se lewe gebid het, kry nuwe betekenis. Sy besef dat die engele hom in sy finale oomblikke wél op die hande gedra het – na sy hemelse tuiste – sonder dat hy sy voet teen ’n klip gestamp het.

Sy skryf: Die skoene is ongedeerd. Dit makeer niks nie. Daar is nie skrape of krappe op nie. Nie bloed nie. Niks, heeltemal niks… En net daar kry ek ’n gewaarwording: Sy skoene was heel. Dit beteken sy voete was heel … Engele hét hom op hul hande weggedra.

Sy vind berusting in God se belofte dat Sy verbond vir ewig vasstaan. Hy sal nie een van Sy verbondskinders verlore laat gaan nie.

Dis ook die getuienis van die jong ma wie se baba sterf: “En stadigaan –soos die tyd verloop en ek die vaste geloofsbakens al duideliker in die donkerte begin onderskei – begin ek iets van Christus se kruisdood verstaan. Hy het gesterf sodat ek vir ewig kan lewe. En saam met my my geliefdes – en my kindjie wat reeds vooruit is. Net deur te glo dat Christus die dood oorwin het, kan ek seker wees dat ek weer my dogtertjie eendag sal kan sien.”

Met ’n stukkende, maar oop hart…

Wanneer ’n kindsterf, word jy aan die ewigheid gehaak. Jy klou aan die  hoop op weersiens. Soos die tyd aanstap, skuif jou hoop egter. Aanvanklik begeer jy om in die hemel te kom, sodat jy weer by jou kínd kan wees. Geleidelik groei jou verlange om met God verenig te word. Hy is die Volmaakte. Die Ek Is. Die Ewige Nou. Die God van prosesse. Sy tyd is ’n volmaakte sirkel. En ons is deel van Sy ewigheid. Nou reeds. Ons – wat getuies daarvan is – mág nie stilbly nie.

Pyn en verlies is ’n magtige wapen met geweldige krag, sê Jeanette tereg, dit kan jou óf vernietig óf versterk om te word waartoe God jou geroep het.

Ek hoef nie éérs te wag tot die pyn of hartseer weggaan voordat ek my roeping begin uitleef nie. Henri Nouwen skryf in sy boek The Wounded Healer dat ons reeds ons hand na ander kan uitsteek terwyl ons verwond is. Dit het soms meer waarde.

Die dood van ’n kind is ’n verskrikking, maar dit hoef nie ’n verskrikking te bly nie. Op ons elkeen se reis met verlies is dit belangrik dat ons sal vra: “Wat maak ek nou met hierdie onomkeerbare verlies, Here?” Of: “Wat wil Ú hê moet ek hiermee maak?”

Uit die smart en verslaenheid kom dikwels ongekende seën. ’n Mens moet in verwagting op hierdie seën bly leef en jouself oopstel vir God se stem

God praat met ons elkeen in ons eie omstandighede– in tye van pyn en swaarkry – maar ook in voorspoed. Ek hoef nie noodwendig deur lyding te gaan om nader aan Hom te kom nie. Hy kan vir my dieselfde dinge in goeie tye leer.

’n Ma vertel: “Met die loop van tyd het ek begin besef dat my kind nie hoef te gesterf het vir my om belangrike lewenslesse te leer nie. Ek kon dit op ander maniere ook geleer het. Ek dink egter ek was vroeër so op myself, en alles wat ek wou bereik, ingestel dat ek God se stem nie altyd gehoor het nie.

“Nou sien ek dat Hy nie net vir mý deur my kind se weggaan ryker en voller wil laat leef nie, maar ook vir ánder. Deur sy dood kan ek my deur wyd oopgooi en stukkende mense innooi sodat hulle veilig en beskut én welkom  kan voel.”

Wanneer ’n kind sterf, is jyself weerloos en breekbaar. Daarom raak jy meer op die nood van ander ingestel. Jy kyk met sagter oë na mense rondom jou. Jou deernis verdiep. Jou omgee verinnig. Jy leer om nie te oordeel nie. Jy sien die mens oorkant jou se broosheid. Jy weet: Agter elke stroewe, ontoeganklike gesig is ’n storie.

Tot in ewigheid

God kan enige iets in my lewe tot sy eer gebruik. Ook die dood van ’n  kind. En die pyn wat nooit weggaan nie.

Ek moet leer om nie my hartseer in my handpalm toe te klamp nie, maar om my hand oop te vou sodat my hartseer kan asemhaal en ek dit saam met hoop kan aangee. Wanneer ek dít besef, kan ek begin uitdeel. Eers bietjies-bietjies: ’n Glimlag. ’n Stemboodskap. ’n Oproep. ’n Bemoedigende woord. ’n Kuiertjie. Blomme uit my tuin…

Saam daarmee begin ek myself gee. En hóóp. Bowenal hoop op ’n Ewigheid saam met Christus  – en my geliefdes.

Jeanette Morton sluit haar boek met die woorde van Johannes 10:28 af: Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie.

Dít is ons hoop. ’n Belofte sonder ’n vervaldatum.

2019-09-30T15:47:02+00:00