Leesgoed vir die jongklomp

Kweek van jongs af ’n liefde by jou kinders vir die Woord. Hier is van die jongste lekkerleesboeke vir jou kroos of kleinkinders …

Jesus is lief vir klein hartjies

Jesus is lief vir kindertjies en sorg graag vir hulle, dit is duidelik in die Bybelverhaal waarin Jesus die kindertjies na Hom toe nooi. In Jesus is lief vir klein hartjies ontdek peuters presies hoe lief Jesus hulle het. Van die bekendste stories oor Jesus en sy liefde word eenvoudig oorvertel sodat kleingoed dit maklik sal verstaan. Die kleurvolle illustrasies tesame met die unieke manier hoe die kartonbladsye gesny is om sommer ook ’n handvatsel te skep, sal hierdie kartonboekie gou ’n gunsteling maak van kinders tussen 0 en 3 jaar.

Skitter

Deur Priscilla Shirer

God se lig skyn deur elke faset van ons lewe. Skitter rig ’n uitnodiging aan tienermeisies en jong vroue om ’n eerlike gesprek te geniet oor hulle identiteit. Priscilla Shirer deel lewenslesse wat sy vanaf haar tienerjare tot nou geleer het. Sy wys vir jong meisies en vroue hoe die lig van God se Woord haar identiteit gevorm het en leer hulle hoe dit ook hulle lewe kan verander. Die samelewing probeer ons identiteit bepaal, maar hierdie wêreld hunker na iets anders as wat ons net in die kreatiewe Skepper kan vind. Ons is geskep om sy lig te weerkaats … ons is geskep om vir Hom te straal. Skitter is gebaseer op die fliek Overcomer deur Alex en Stephen Kendrick wat in Augustus in plaaslike teaters gespeel het. As ’n New York Times-topverkoper-outeur, spreker en aktrise deel Priscilla Shirer God se Woord passievol met vroue van alle ouderdomme, of hulle jonk of net jonk van hart is. Sy staan al vir die afgelope twintig jaar voltyds in die bediening van vroue, as internasionale spreker en die outeur van meer as twee dosyn boeke en Bybelstudies. Sy en haar man, Jerry, het Going Beyond Ministries gestig om gelowiges oor ’n wye spektrum van die liggaam van Christus te bedien. Sy het ook drie seuns: Jackson, Jerry jnr en Jude.

Op my naam

Deur Alex en Stephen Kendrick en Troy Schmidt

Wie is ek? Dit is ’n vraag wat elke jong man gereeld mee worstel. Op my naam, deur Alex en Stephen Kendrick en Troy Schmidt, sal tienerseuns lei om die antwoorde op hierdie vraag te vind. Hulle sal leer dat hul identiteit nie bepaal word deur goeie akademiese punte, hul voorkoms of hul vermoë op die sportveld nie, maar deur die enigste Een wat hul werklik ken, ons Skepper. Op my naamgee vir jong manne antwoorde oor wie hulle is en waarheen hulle oppad is. Dit sal hulle ook lei om hulle ware Christus-gelykvormige identiteit te ontdek. Dit is gebaseer op die fliek Overcomerdeur Alex en Stephen Kendrick, vervaardigers van die topverkoper-flieks Fireproof, Courageous enWar Room.

My eerste woorde-Bybel

Hierdie Bybelboekie help om peuters se vroeë praat-, luister- en waarnemingsvaardighede te ontwikkel terwyl hulle leer om verskillende diere, mense en voorwerpe te herken.My eerste woorde Bybel met sy vyf bekende Bybelstories sal peuters se woordeskat uitbrei met 70 woorde, beeld en woordherkenning aanmoedig met kleurvolle prentjies saam met elke woord sodat hulle die woord met die prentjie kan assosieer, begrip verbeter omdat hulle “wie”- en “waar”-vrae moet beantwoord deur na die regte prentjie te wys, en leesvaardigheid ontwikkel wanneer hulle die woorde moet klank. My eerste woorde Bybel is ’n opvoedkundige kartonboek wat kleingoed op ’n prettige manier noodsaaklike vroeë vaardighede help leer. Die vyf Bybelstories is: Die Tuin van Eden, Noag se ark, die Rietsee, die storie van Kersfees en Jesus is lief vir kindertjies. Elke storie sluit die Skrifverwysing in sodat dit in die Bybel gelees kan word en hierdie boek is die ideale hulpmiddel vir ouers en kleuterskole.

Bybeldagboek vir seuns em vir meisies

’n Wonderlike dagboek wat ’n stewige grondslag sal lê vir seuns en meisies se geloofsgroei. Die 365 dagstukkies vir beide seuns en vir meisies is gebaseer op van die bekendste Skrifgedeeltes en beloftes in die Bybel. Jong seuns en meisies sal elke dag van die jaar bemoedig, uitgedaag en geïnspireer word. Enkele temas wat in hierdie dagboek voorkom, is God, Jesus, die hemel, liefde, wonderwerke, wysheid en vele meer. Elke oordenking is gerig op die daaglikse leefwêreld van jong sense en meisies en bied woorde van troos, vrede en hoop. Bestel jou kopie by www.cumbooks.co.za

2019-09-30T17:38:36+00:00