Boekuittreksel

Die seders van Libanon

Deur Adriana Faling

Ilizabith, Pascale, Talitha en Yasmine: Vier vroue se paaie kruis; elkeen moet besluit of sy bereid is om te doen wat God van haar vra. Ilizabith vrees vir haar lewe. Die man wat haar ontvoer en sy vrou gemaak het, is onvoorspelbaar en boos. Sy paai hom en bly onderdanig. Tot twee vroue eendag aan haar deur klop, twee onverskrokke vroue wat die verloop van haar lewe omverwerp. In Libanon probeer Pascale haar roeping uitleef soos sy dit verstaan, maar sal haar ouers dit kan insien? In Pretoria is Talitha en Yasmine saam op skool, maar hulle wêrelde verskil hemelsbreed. Talitha veg vreesloos vir wat reg is, terywl Yasmine net probeer oorleef en nooit voel of sy behoort nie.

Uittreksel

‘Port Said, Egipte. 30 April 2011.

Hy is kwaad. Ilizabith hoor dit aan die gebulder van sy stem. Nie dat hy ooit anders praat nie. Hy is kwaad gebore. Wanneer hy by die huis instap, verander die atmosfeer altyd: almal loop op eiers en dans na sy pype. Nou klink hy egter baie kwaad. Sy is bang. Om bang te wees is vir haar tweede natuur, soos asemhaal, maar nou is sy banger as gewoonlik. Sy wag met ingehoue asem, hoor hoe hy bevele blaf. Hy storm met die trappe op, harde voetstappe. Dankie tog! Hy gaan na Eboni se kamer.

Ruk die deur oop.

“Pak my tas en maak gou!” Sy hoor elke woord wat hy skree. Die voetstappe draai terug en storm met die trappe af. Hy bars by haar kelderkamer in. Ilizabith se maag ruk. Khaled kyk haar met veragting aan en spoeg op die grond. Sy krimp ineen.

“Pak jou goed, kafir! Jy kom saam met my.”

Sy sit versteen op die bed. Hy pluk haar aan haar arm regop en gooi haar teen die grond. Vloek. “Ek het gesê: pak!”

Hy verdwyn om die hoek van die kamerdeur. Sy spring op en ruk die kasdeure oop waaragter haar karige besittings is. Waarin kan sy haar goed pak? Sy hardloop op na Eboni se kamer en klop versigtig. Geen antwoord nie. Sy huiwer.

Klop weer.

Eboni pluk die deur oop. “Wat is dit? Jy weet tog ek moet vir hom pak!”

“Hy sê ek moet ook pak, Eboni, maar ek het nie ’n tas nie.”

Die ouer vrou kyk haar met soveel haat aan dat sy innerlik ineenkrimp. Eboni stap na die kas, ruk ’n tas uit en slinger dit in haar rigting.

Shukran,” prewel sy ’n dankie terwyl sy dit optel.

Sy hardloop terug na haar kamer en bondel die enkele besittings in die tas. Sy gryp die swart abaya van die haak agter die deur en bind ’n hijab om haar kop om haar hare te bedek.

Taal jai, mara!” jaag hy haar aan.

Haar hart klop in haar keel. Fokus, Ilizabith! Sy probeer dieper asemhaal. Dit sal die eerste keer wees dat sy haar buite die gevangenis van die huis bevind. Miskien kan sy wegkom . . .

Buite staan die motor reeds gereed. Onder die dekmantel van die donkermaan klim hulle in. Sy sit alleen op die agterste sitplek, in die verste hoek van Khaled af. Sy is vreemd bang om die bekendheid wat die huis bied, agter te laat.

Sy probeer die omgewing deur haar venster bespied, maar Khaled gee haar nie kans om te sien waarheen hulle ry nie. “Lê plat!” Sy spits haar ore om die mans se gesprek te volg.

“Wat het gebeur?” Die bestuurder is duidelik net so nuuskierig soos syself.

“Dinge het skeefgeloop.” Khaled is kortaf. “Ek wou my broer se baba skiet, maar toe tref ek ’n buitelander. Hy’s dood.”

Ashraf lewe dalk nog!

“My gesig hang teen al wat ’n lamppaal is soos wat die internasionale media hierdie ding uit proporsie blaas.” Khaled se stem is grof. Hy is nie net kwaad nie, hy is bang ook. Só het Ilizabith hom nog nooit gehoor nie. Sy hoop hulle vang hom en hang hom op.

“Wat gaan jy nou maak?”

“My vriende by die Moslem Broederskap het vir my ’n paspoort gereed. Ek moet vanaand nog oor die Suez en dan sluit ek by die weermag in Sinai aan.”

“Watter weermag?” Die man agter die stuur is net so verbaas soos sy.

“Die MB se weermag. Die rewolusie het vir ons die geleentheid gegee om hierdie land vir Mohammed – vrede en seën van Allah heers oor hom – terug te wen.”

“En die meisie?”

Ilizabith hou haar asem op. “Die heidense slet hier agter?” Khaled lag lelik en draai effens

skuins om na haar te kyk. “Sy gaan saam. Sy is my gyselaar, my menslike skild en my afleiding as die dae te lank raak.”

Ilizabith wil gil, maar dit sal nie help nie. Sy moet dink. As die motor stop, kan sy miskien die deur ooppluk en hardloop. As sy net deur die venster kan sien of daar wegkruipplek is. In die ooptes staan sy nie ’n kans nie. As hulle haar inhaal en vang, sal sy dit sekerlik nie oorleef nie – sy ken Khaled se woede.

Die geselskap het opgedroog. Die mans se sweetreuk, gemeng met dié van haar eie vrees, hang in die lug. Sy sal ’n kans moet vat en uitspring, maak nie saak hoe die omgewing lyk nie. Sy moet hardloop soos sy nog nooit in haar lewe gehardloop het nie; in die see of in die Suezkanaal spring as dit moet. Hulle gaan haar nie weer vang nie.

Sy maak seker dat die deurknoppie gelig is. Haar hand vou om die deurhandvatsel. Sy isualiseer hoe sy uitspring en rol wanneer sy land. Haar liggaam is snaarstyf gespan. Sy skraap al haar moed bymekaar. As hulle net weer wil praat! Dit voel of haar hartklop

en asemhaling die binneruimte vol weergalm.

Die motor rem effens, ry oor ’n hobbel. Nou! Sy pluk hard aan die handvatsel en stamp met haar lyf teen die deur. Dit gaan nie oop nie! Die kinderslot!

Khaled swaai om, ruk haar terug aan haar hare wat uit die kopdoek losgekom het. Sy vuis tref haar kakebeen. Die pyn skiet tot in haar skedel. Sy gil. Haar hande skerm vir haar gesig.

“Jy dink jy sal dit regkry om te ontsnap, hè?” Khaled vloek. “Dink jy regtig dat jy weer na jou pappa en mamma kan terugkruip?”

Sy asem is walglik. “Vergeet dit, my meisie. Niemand wil jou meer hê nie. Jy is opgebruik! Jy is niks meer werd nie. Boonop sal ek jou jaag tot aan die uithoeke van die aarde, jy sal nêrens veilig wees nie. My broer het ook gedink hy kan vir my wegkruip en ek het hom uitgeruik. Moenie dink dat jý, ’n onnosele kind, van my sal kan wegkom nie. Maak vrede daarmee dat jy nou aan my behoort.” Hy stamp haar op die agterste sitplek terug.

Daar is bloed in haar mond. Die pyn is verskriklik.’

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Die seders van Libabon deur Adriana Faling met komplimente van Lux Verbi wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag:  Noem die naam van een van die vroue waaroor daar in dié verhaal geskryf word? Sluitingsdatum: 31 Oktober 2019.
2019-09-30T17:09:34+00:00