Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Ons hanslam is pas dood. Die sjokoladebruin een met die wit hart op sy voorkop. Milo. Omdat hy soos ‘n beker warm wintersjokolade lyk, het Dawid  gesê. Nou is my hart bitter seer. Nie omdat hy dood is nie, maar om die volslae teleurstelling in die seuns se oë te lees, waarop ek nie nou vir hulle ‘n verstaanbare antwoord kan gee nie. Milo het siek by ons aangekom met wat ons vermoed “naelstring” siekte is. Dis ‘n bakterie wat deur die pasgebore naelstring die bloedstroom binnekom en hulle baie siek kan maak. Maar ons het hom elke twee uur gevoed en medisyne gegee en vir hom gebid totdat Milo weer op sy eie vier bene kon staan en ons jubelend dankie gesê het en mekaar ge-high fivehet en Darius ewe groot-meneer aangekondig het, hy weet “dat wat jy insit is wat jy sal uitkry…” En nou dit.  Presies in dieselfde tyd as wat ek die seuns aangepraat het oor die studies wat nou voorlê en die pogings wat hulle hiervoor moet insit. Toe Dawid bleek om die kiewe sy wiskunde moet skryf, het ek diep in sy oë gekyk en vir hom gesê hy sal oukei wees omdat hy hard gewerk het aan sy somme en die lewe ook maar so werk: wat jy insit is wat jy uitkry. Maar ek moes by-las – partykeer. Want partykeer werk dit net anders uit as wat jy gehoop en dink het. Ons kyk dan nog steeds hemelwaarts en bid sonder ophou vir ons reën. Bid en bid en bid. Sit tyd en geloof en hoop in jou daaglikse binnepraat en vertel jouself dat vir hierdie vasbyt in die stryd, jou geloof weliswaar beloon sál word.  En wat as dit anders uitdraai? Wat as die prognose, of uitslag of uitkoms anders is as waarvoor jy geglo het?

Ons is met dié  vraag gekonfronteer by een van Riekert Botha se onlangse  Droogtehulp vir die Siel-seminare. Wat as God nie meer een van jou gebede beantwoord nie? Sal jy Hom steeds dien? Sal jy steeds na Hom as die anker van jou siel en die Gewer van alle goeie dinge kyk? Want dis die moeilike antwoord wat ek nou vir die seuns moet gee. Dit gaan nie oor die geskenke nie. Dit gaan oor die Gewer. In Hom, deur Hom en vir Hom is ons bestaan. Dis waar God van ons verskil. Dis nie wat jy insit om iets terug te kry nie. (Dink maar aan die werkers in die wingerd wat elk dieselfde loon ontvang het vir ongelyke werksure.) Ons is vír God geskape en vir Sy plesier. Wat ons ontvang is suiwer genade. Nou sal ons nie net mooi wysies meer sing nie, maar waaragtig soos Habakuk moet kan getuig: Al sou die Here nie meer een druppel reën vir ons stuur nie, sal ons Hom steeds dien. Ons hoef Hom nie te verstaan nie. Ons hoef Hom net te vertrou.

Leer jou kind:

  • In die Ragamuffin Gospel deur Brennan Manning sinspeel hy op die aweregsheid van God se “manier van doen”.
  • Vir God is niks waarskynlik nie. Hy. IS. God.
  • Ons kan almal weer terugkeer na die Soewereinheid van God se Wil. Hy bepaal alles, nie ons nie.
  • Dat die lewe onregverdig is, is verseker. Dat ons steeds ‘n positiewe ingesteldheid en volgehoue geloof in God moet hê, noodsaaklik!

Lees meer:

Unshakeable Hope. Building our lives on the promises of Goddeur Max Lucado, asook Wees oor NIKS bekommerd niedeur dieselfde skrywer. ( Iets wat ons almal nou nodig het…?)

2019-09-05T20:40:11+00:00