Lééf as gesin

Gesonde grense

Deur Gary Chapman | Foto Pexels

Min dinge is belangriker in jou rol as ouer as om vir jou kind gesonde grense te stel.

Gesonde grense groei uit ’n besorgdheid oor die kind se welstand. Dit is nie willekeurige reëls wat van die een geslag na die volgende oorgedra word nie. Ons wil hê ons kinders moet veilig en gesond wees en ook goeie besluite kan neem. Ons hoop dat hulle uiteindelik verantwoordelike, selfbeheersde volwassenes sal word wat ’n positiewe impak op die wêreld sal maak.

Die realiteit van reëls

Een van die belangrikste rolle wat ouers speel, is om vir hulle kinders algemeen aanvaarde gedragstandaarde te leer. Babas kan nie besluit hoe om te leef nie en sonder enige reëls van die ouers sal ’n kind nie tot by volwassenheid oorleef nie. In die babatyd moet ouers die reëls geheel en al afdwing en die kind se gedrag beheer. Vanaf hierdie babatyd waar totale beheer nodig is, beweeg ouers aan na die volgende stap waar hulle hul kinders help om selfdissipline te ontwikkel. Hierdie pad na volwassenheid is een wat elke kind moet loop en waarvoor elke ouer verantwoordelikheid moet aanvaar. Dit is ’n wonderlike taak wat wysheid, verbeelding, geduld en groot hoeveelhede liefde vereis.

Kom ons begin met een eenvoudige realiteit: Ouers is ouer as kinders. Met hierdie hoër ouderdom aanvaar ons dat hulle meer wysheid het as kinders. Daarom moet ouers die reëls maak wat hulle glo die beste vir die kind is. Die besige, moeë ouers van vandag vind dit dikwels baie makliker om klein Jakob of Emma laat te laat wakker bly of gemorskos te laat eet. Dit is egter ook waar dat sommige ouers hulle gesag misbruik. Tog is die groter gevaar om ’n kind te hê wat sonder die grense grootword wat hulle so broodnodig het.

In ’n gesonde en liefdevolle gesin word ouerlike gesag tot voordeel van die kinders gebruik. Die ouers verbind hulle tot hoë etiese en morele standaarde. Hulle staan die deugde van vriendelikheid, liefde, eerlikheid, vergifnis, integriteit, harde werk en om ander mense met respek te behandel voor. Kinders wat aan sulke ouers gehoorsaam is, sal voordeel daaruit trek om onder gesonde gesag te leef.

Voordat ons egter gesels oor hoe om gesonde reëls te maak, wil ek een ander belangrike saak aanroer. Ouers moet onderskei tussen wat toepaslike gedrag vir ’n sekere ontwikkelingsfase is en wat wangedrag is. Toepaslike gedrag vir ’n sekere ontwikkelingsfase is daardie dinge wat ’n kind doen om die wêreld rondom hom te ondersoek en te ontdek hoe dit werk. Dit kan beteken dat ’n eenjarige ’n gemors maak terwyl hy met sy kos speel, dat ’n tweejarige nee sê vir baie versoeke bloot omdat sy leer praat, of dat ’n driejarige water in die bad spat omdat dit pret is.

Hierdie tipe gedrag kan ’n ouer dalk ontstel en sulke gevalle is beslis geleenthede waarin ouers hulle kinders kan leer wat aanvaarbaar is of nie. Tog is hierdie tipes gedrag nie werklik wangedrag nie. Dit is gedrag wat op grond van ontwikkeling verwag kan word. Kinders ondersoek en ontdek hulle omgewing. Hulle geniet dinge. Hulle groei in hulle fisieke en kognitiewe vermoëns sodat hulle geleidelik nie meer so lomp is nie en meer in staat is om reëls en verwagtinge aan te leer en te gehoorsaam.

Grense is reëls wat die ouers daarstel ter wille van die kind se gesonde ontwikkeling. Die daarstel van grense moet gepaardgaan met die konsep van gevolge wanneer die grense geïgnoreer word. Kinders moet leer dat alle soorte gedrag gevolge sal hê. Gehoorsame gedrag bring positiewe gevolge; ongehoorsame gedrag bring negatiewe gevolge. Dié proses behels drie dinge: die stel van reëls, die stel van gevolge (goed en sleg) en die uitvoering van dissipline. Kom ons kyk na dié drie.

Die stel van reëls

Om te doen of nie te doen nie, dit is die aard van reëls. Reëls gee riglyne vir die gesinslewe. Hier is ’n paar dinge wat ons nie in ons gesin doen nie: kougom kou aan tafel, met ’n bal in die kombuis speel, die huis verlaat as daar iewers kerse brand, op die bank spring, of die hond sleg behandel. Hier is ’n paar dinge wat ons wel in ons gesin doen: bêre gereedskap sodra ons dit klaar gebruik het, bêre speelgoed sodra ons klaar daarmee gespeel het, sit ligte af wanneer ons ’n vertrek verlaat, gooi ons vuil klere in die wasgoedmandjie, en sê: “Mag ek verskoon word?” wanneer ons klaar geëet het. Alle gesinne het reëls, maar nie alle gesinne het gesonde reëls nie.

Goeie reëls het vier karaktereienskappe: dit is intensioneel, dit is wedersyds, dit is redelik en dit word met die hele gesin bespreek. Intensionele reëls is dié wat ons doelbewus daargestel het. Dit ontstaan nie sommer so vanuit ons eie frustrasie in ’n gegewe oomblik nie, maar dit het ontstaan met deeglike nadenke oor hoekom die reël nodig is, wat die doel daarvan is en of dit werklik tot almal se voordeel is.

Goeie reëls verg wedersydse insette van die pa en die ma se kant af. Elkeen van ons het in verskillende gesinne grootgeword; dus het ons verskillende reëls gehad. Ek is geneig om my reëls na die huwelik te bring, en my vrou bring hare. Indien hierdie reëls nie ooreenstem nie, ontstaan daar dikwels konflik oor die reëls. Dié konflik moet opgelos word deur na mekaar te luister, deur die ander persoon met respek te behandel, en deur na ’n oplossing te soek waaroor albei van ons kan saamstem. Wanneer ouers oor die reëls verskil en voor die kind daaroor stry, word die kind verward en sal hy uiteindelik by die argument aansluit.

Gesonde reëls is ook redelik. Dit vervul die een of ander positiewe funksie. Die oorkoepelende vraag is: “Is hierdie reël goed vir die kind? Sal dit ’n positiewe uitwerking op die kind se lewe hê?” Hier is ’n paar praktiese vrae om te vra terwyl julle besluite oor ’n spesifieke reël moet neem.

Beskerm die reël die kind teen gevaar?

Leer die reël vir die kind ’n positiewe karakter eienskap: eerlikheid, harde werk, vriendelikheid, mededeelsaamheid, en so meer?

Beskerm die reël eiendom?

Leer die reël vir die kind verantwoordelikheid?

Leer die reël goeie maniere?

Dis faktore waaroor ons as ouers besorg is. Ons wil ons kinders weghou van gevaar. Ons wil nie hê ’n kar moet ons jong kind raak ry nie, en ons wil nie hê ons ouer kind moet met dwelms te doen kry nie. Ons wil ons kinders positiewe karaktereienskappe leer wat met ons eie waardes ooreenstem. Ons wil hê kinders moet ander se eiendom respekteer; daarom kan ’n reël oor geen krieket in die agterplaas keer dat hulle ’n buurman se venster breek. Ons wil hê hulle moet leer om hulle eie besittings op te pas; daarom het die reël oor fietse wat saans in die motorhuis gebêre moet word ’n doelbewuste rede.

Gesonde reëls word ook duidelik aan die hele gesin verduidelik. Onuitgesproke reëls is onregverdige reëls. Daar kan nie van ’n kind verwag word om aan ’n standaard te voldoen waarvan hy onbewus is nie. Dit is ouers se verantwoordelikheid om seker te maak hulle kinders weet en verstaan wat die reëls is.

As ouers moet ons nie toelaat dat ons eie emosionele toestand bepaal hoe en wanneer ons die kind dissiplineer nie.

Die stel van gevolge

Gehoorsaamheid word aangeleer deur onder die gevolge van ongehoorsaamheid te ly. Die doeltreffende onderrig in gehoorsaamheid vereis dat die gevolge wat meegebring word deur die reëls te breek vir die oortreder groot ongemak moet veroorsaak. Daar is twee tipes gevolge: natuurlik en logies. Natuurlike gevolge is dié dinge wat gebeur sonder dat die ouers enigiets hoef te doen. Indien ’n kind byvoorbeeld weier om te eet wat sy ouers vir aandete gemaak het, sal hy natuurlik honger word (natuurlike gevolg). Ouers kan hierdie honger toelaat, want hulle weet die kind sal die een of ander tyd vra om te eet. Dan kan hulle die kind herinner dat hy honger is omdat hy nie sy aandete geëet het nie, en hom inlig dat die gesin die volgende oggend ontbyt sal eet. As jy dink dit is wreed, kan jy vir die kind iets kleins gee om te eet en vir hom sê as hy weer weier om sy aandete te eet, sal die peuselhappie volgende keer nog kleiner wees. Om ’n ete te mis, sal die kind geen skade doen nie, maar dit sal hom leer dat aandete die tyd is om in ons huis te eet.

In ander gevalle is logiese gevolge die beter keuse. Die gevolg het ’n logiese verband met die reël wat oortree is. ’n Kind is dalk nalatig met sy elektroniese toestel of speelding. Die reël is om dit “te bêre” wanneer jy klaar daarmee gespeel het. Indien nie, verloor die kind die voorreg om die volgende dag daarmee te kan speel. Indien hy die reël oortree, kan die verlies aan voorregte vir die kind frustrerend genoeg wees sodat hy sal leer om beter na sy besittings te kyk.

Ek beveel regtig aan dat jy die gevolge vasstel wanneer jy die reël maak en die kind dan van die reël vertel asook die gevolg sou dié reël oortree word. Die reël is duidelik en die gevolge is duidelik. Almal het die nodige inligting. As die kind dan nou die reël oortree, weet beide ma en pa wat om te doen, en die kind weet wat om te verwag.

Pas die gevolge liefdevol maar ferm toe

Die sleutelwoord hier is konsekwentheid. Indien ons een dag die dissipline toepas en die volgende dag iets oorsien, raak die kind verward. Hy vra dan vir homself: “Is dit ’n reël of nie? Is daar gevolge of nie?”

As ouers moet ons nie toelaat dat ons eie emosionele toestand bepaal hoe en wanneer ons die kind dissiplineer nie. Dit is waarom dit so belangrik is om die logiese gevolge vas te stel voordat die oortreding plaasvind. Jy hoef nie te dink: “Wat moet ek nou doen?” nie. Jy weet reeds wat om te doen; jy moet dit bloot met liefde en fermheid doen.

Ek raai egpare aan om hulle dissipline in liefde “toe te draai”. Dit beteken dat wanneer jy gereed is om die gevolge toe te pas, jy die kind se primêre liefdestaal voor en ná die dissipline praat.

Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om vir jou kind grense te stel nie; nie net vir jou kind se veiligheid nie, maar ook om eiewaarde, karakter en besluitnemingsvaardighede te bou. Te veel ouers laat kinders toe om hulle grense met min of geen weerstand nie af te breek. Ma’s en pa’s is dikwels so moeg van die daaglikse sleur dat wanneer ’n kind ’n grens teëstaan, die ouer redeneer: “Dit is nie die moeite werd nie”; dus gee hulle toe en die kind doen net wat hy wil.

Elke keer wanneer ’n grens wegval, voel die kind minder veilig. Die kind bly onbewustelik daarteen stoot met die hoop dat die muur stewig sal bly staan. Wanneer die muur val, is die kind se wêreld net meer verwarrend.

Uittreksel uit Is jy gereed vir die avontuur van ouerskap deur Gary Chapman met toestemming van CUM gepubliseer.

2019-08-31T15:39:30+00:00