Boekgesprek

Lééf gesels met Priscilla Shirer oor  haar jongste boek, Radiant, wat spesiaal vir tienermeisies en jong vroue geskryf is.

Radiant is ’n persoonlike uitnodiging aan tienermeisies en jong vroue om hul ware identiteit in Christus te ontdek. Priscilla Shirer deel lewenslesse wat sy as tienermeisie en volwasse vrou geleer het en wys hoe God se Woord haar identiteit gevorm het, asook hoe dit jou lewe kan verander en vorm. Hoewel kultuur en die wêreld jou sal probeer definieer, smag ons almal egter na iets anders, iets meer wat net van ons God kan kom. Elkeen van ons is geskep om Sy lig te reflekteer … ons is geskep om te Skitter.

Priscilla Shirer is ’n spreker met ’n meestersgraad van die Dallas Theological Seminary. Sy is ook ’n gewilde outeur en skrywer van verskeie topverkoper-boeke soos onder andere Die standvastige vrou, een van die boeke wat saam met die fliek Courageous verskyn het. Sy is getroud met Jerry. Sy en Jerry is die stigters van Going Beyond Ministries.Sy staan tans voltyds in vrouebediening en het haar filmdebuut in War Room gemaak. Sy vertolk ook die rol van Olivia Brooks in die nuwe rolprent deur die Kendrick-broers met die titel Overcomer. Priscilla en Jerry het drie seuns en woon in Dallas, Texas.

Vraag: Priscilla, jy is betrokke by soveel projekte, hoe het dit gebeur dat jy ook jou lyf aktrise hou?

Of ek nou op ’n platform voor mense staan en preek, of skryf met een van my boeke, of ’n onderhoud soos hierdie, of deur ’n rolprent – solank ek die Woord van God aan mense kan oordra en hulle kan help om te sien hoe wonderlik Hy vir ons is en hoe baie hy vir ons doen is ek gelukkig. Ek sou nooit in my wildste drome kon raai dat ek eendag ’n aktrise sal wees nie. Dis nie waarvoor ek studeer het of wat die plan vir my lewe was nie, maar hier is ek. Ek geniet dit ongelooflik baie en dit is wonderlik om te weet dat ek ook met dit God kan verheerlik.

Vraag: Jy doen dit baie goed en baie mense ken jou as Elizabeth Jordan in War Room.  Jy is nou te sien as Olivia Brooks in Overcomer. Wat gebeur agter die skerms?  Hoe besluit die Kendrick’s wie in hulle rolprente speel? 

Een ding wat ek van Alex en Stephen Kendrick waardeer is die feit dat hulle eers baie lank oor elke projek wat hulle aanpak bid. Hulle kan letterlik vir jare lank bid oor ’n rolprent voor hulle met dit begin. Ek het baie vertroue in hulle en hul rolprente. Hulle het die eerste keer sowat vier jaar gelede met my gesels oor die storielyn van Overcomer.  Dit was net nadat War Room in teaters geopen het. Dit beteken dat hulle dus vier jaar saam met ons wat deel sou vorm van die rolprent gebid het oor dit. Hulle het gevoel dat die karakter Olivia Brooks iemand is wat by my sal resoneer en ek het natuurlik onmiddellik ingestem.

Vraag: Jy noem dat hulle baie lank oor elke projek bid.  Hoe werk dit op die stel terwyl die rolprent gemaak word?

Elke dag begin met oordenkings in die oggend. Al die akteurs en die tegniese span kom bymekaar en dit is hoe ons, ons dag begin. Ek weet Andy en John Erwing, skeppers van die rolprent I Can Only Imagine doen dieselfde. Dit beteken dat die dag se werk en die rolprent dus aan God opgedra word voor ons begin. Terwyl ons besig met die verfilming het dit ook gebeur dat Alex alles gestop het en ons ook eers ’n tyd van gebed gehad het. By spesifieke kritieke tonele.

Vraag: Jy noem die rolprent I Can Only Imagine wat baie goed gedoen het by die lokket en die Kendrick’s se War Room was ook ’n lokket-treffer? Christelike rolprente doen al hoe beter. Is dit omdat die gehalte van Christelike flieks verbeter het die laaste tyd?

Absoluut. Ek is so dankbaar en so opgewonde oor wat tans aan die gebeur is in die Christelike rolprentmark. En om te weet dat God my die geleentheid bied om deel te wees van dit is net ongelooflik. Dis jammer, maar ek moet self ook erken dat Christelike rolprente in die verlede nie die beste films was nie. Die gehalte van die films het die laaste sowat tien jaar so verbeter dat dit nie een tree terug hoef te staan teen groot Hollywood-treffers nie. Die lokket-sukses van rolprente soos War Room en I Can Only Imagine het dit bewys. Dit herinner my aan ’n artikel onlangs in die USA Today met die opskrif “Hollywood should Stop Being Surprised”.  Dit het juis gegaan oor die sukses van hierdie rolprente. Hierdie sukses by die lokket is bewys dat mense ’n behoefte het aan sulke rolprente, en wat ’n voorreg om deel te wees hiervan.

Vraag: Jy is baie passievol oor die Skrif. Dit is waaroor jy skryf, wat jy vir mense leer en deel van die rolprente waarin jy speel. Wat is die rol van die Bybel en Skrifgedeeltes uit die Bybel in hierdie rolprente, veral Overcomer?

Dit speel ’n baie groot rol in elke rolprent van Alex en Stephen Kendrick en dus so ook in Overcomer. Hierdie rolprent konsentreer baie op Efesiërs hoofstukke een en twee. Op een stadium word die een karakter gevra om alles neer te skryf wat sy in hierdie twee hoofstukke in die Bybel lees oor wie en wat God sê ons is en wat Hy alles vir ons gee omdat ons Sy kinders is. Almal van ons kan dit gerus ook doen.

Vraag: Terug by jou boeke. Hoeveel boeke het jy al geskryf? Dis moeilik om te tel…

Om eerlik te wees, ek tel ook nie, maar ek dink dit is so 15 of 16 algemene boeke en dan ook omtrent so 16 Bybestudies.

Vraag: Vertel ons meer oor jou jongste boek, RadiantHierdie boek is gemik op jong meisies en oorvleuel baie met die tema van die rolprent Overcomer, wat juis ’n jong tienermeisie het as hoofkarakter. Is identiteit iets waarmee jong meisies en vroue sukkel?

Ek dink ons almal sukkel hiermee. Nie net jong meisies en jong vroue nie, maar ek het die boek juis geskryf vir jong meisies en vroue omdat hulle op so wonderlike ouderdom is, maar ook so gevaarlike ouderdom. Dit is die ouderdom waar hulle geneig is om hulself te definieer in terme van hulle swakhede – of dit wat hulle dink hul swakhede is. Ek wil hulle met die boek leer dat jy nie deur jou gedrag, gewoontes of gevoelens gedefinïeer word nie. Jy word ook nie gedefinïeer deur iets wat met jou in die verlede gebeur het nie. Jy is wie God sê jy is. Sodra jy dit besef en so begin leef gaan daar ’n hele nuwe wêreld vir jou oop. Jy gaan dan nie meer twyfel in jouself nie en jy sal dan voluit leef, omdat jy weet hoe lief God jou het en dat Hy jou spesiaal geskep het.

Vraag: Jy sal seker hierdie boek wil vat en iewers by ’n skool gaan uitdeel vir soveel jong meisies as moontlik?

Absoluut! Ons beleef tans ’n identiteitskrisis. Letterlik regoor die wêreld. Mans en vroue word anders gedefinïeer, ons huwelike word anders gedefinïeer, gesinne, kerke, geloof – letterlik alles. Dit is asof alles wat God in die Skrif duidelik definïeer aangeval word en herdefinïeer word. Dit het tot gevolg dat mense onseker voel en hul doel in die lewe begin bevraagteken. Ons word beheer deur dinge van die wêreld. As jy jou werk verloor dan voel jy soos ’n mislukking. Maar ons moet besef dat ons sukses en wie ons is nie in dit geanker is nie, maar in God.

Vraag: Wat is volgende op jou beplanning? Die Kendrick’s beplan verseker nog rolprente, en dit sal wonderlik wees om jou weer in een te sien, maar wat van nog boeke?

Ek het baie lank terug reeds vir God gesê, dat wat ookal hy vir my beplan sal gebeur.  Dit is in Sy hande. As Hy iets vir my beplan en as ek Hom in die proses kan eer, dan is ek gereed. Ek geniet die toneelspel en om te skryf. Om in die publiek te praat en die Woord te verkondig is ook vir my belangrik, maar ek het eintlik ’n baie belangriker werk.  Dit is om my drie seuns groot te maak en hulle van God se wonder in ons lewens elke dag te leer. My grootste genot is om te sien hoe God in hulle lewens teenwoordig is en werk.

Radiant deur Priscilla Shirer word uitgegee deur CUM. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/radiant-paperback-1

2019-08-31T16:38:37+00:00