‘Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg. Die Here sal jou raaksien en vir jou Sy liefde gee. Die Here sal jou goedgesind wees en vir jou voorspoed gee.’ Numeri 6:24-26

Vanoggend is net ek en die honde tuis. Johan is reeds vroeg weg werk toe. Ek was die afgelope naweek in die Kaap en gryp die geleentheid aan om vroegoggend agterstallige takies af te handel. ’n Rits e-posse wag om beantwoord te word. Maar heel eerste moet my radioteks vir môre se program gefinaliseer word. Daarna volg kopie vir hierdie uitgawe, onder meer vir die redakteursbrief wat gewoonlik tot laaste uitgestel word. My gees is rustig, ek werk lekker en tik een vir een die take op my doenlysie af.

Vrydagmiddag was ek een van die gaste by SARIE-tydskrif se 70e verjaarsdagviering. 70 personeel en ook oud-personeellede is vir dié spesiale geleentheid genooi om by ’n langtafel in die Kokkedoor-stoor aan te sit. Vir meer as 13 jaar was ek deel van hierdie span – eers as skakelbeampte en later as skoonheidsredakteur vir bykans 10 jaar.

Wat ’n heerlike samekoms van ou bekendes! Tot laat in die middag word daar gekuier en mooi herinneringe en staaltjies uit die ou dae gedeel. Ons gesels asof ons nooit uitmekaar was nie. Dié spesiale middag word vir my ’n bron van groot vreugde en nuwe inspirasie. Maar ook ’n tasbare herinnering aan God se goedheid.

Op die vliegtuig op pad terug huis toe sit ek by die venster. Die vlug is leeg en stil. Met toe oë kry ek rustig die kans om te reflekteer – oor my lewenspad en hoe God se hand nog altyd sigbaar was, in goeie en slegte tye. Al het dit soms nie so gevoel nie, was Hy altyd daar. Dit weet ek wel.

Ons land teen die tyd wat son oor die horison sak en die landskap in skakerings van pienk en oranje baai.

Vanoggend dwaal my gedagtes weer na my Kaapse kuiertjie. Teen elf uur se kant stap ek buitentoe met ’n koppie tee in die hand. Ek staan ’n rukkie in ’n sonkol op die stoep waar gesiggies en heuningblommetjies vrolik in potte blom. ’n Swerm swart voëltjies baljaar op die gras. En hoewel die krismisrose nou slegs droë en harde stingels is, sien ek in my geestesoog hoe oorvloedig dit in die somer hier in die koelte gaan lyk.

Seën totdat die volgende aanlyn-uitgawe op 1 September hier by www.leef.co.za verskyn. Die Winter 2019 gedrukte uitgawe van Lééf met hart & siel is tans op die rak te koop.

Christine Ferreira

Redakteur

2019-08-06T22:03:03+00:00