Vra jouself…

Deur Amanda de Lange | Foto Hanneri de Wet

Almal van ons gaan deur tye waar ons eenvoudig nie weet wat om te doen, of hoe om uitkoms te vind nie. Dis wanneer ons die wysheid van die Here die nodigste het. Maar hoe kom ons daar uit?

Die heel eerste ding wat ons moet weet oor die wysheid van die Here is dat dit vir almal beskikbaar is. In Jakobus 1:5 staan dit so duidelik: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

Dit klink maklik genoeg, nie waar nie? Vra net en jy sal ontvang. Dis so maklik. En ook nie.

Dit is wel maklik om God om wysheid te vra. En dis wel waar dat Hy dit gee. Die probleem ontstaan wanneer ons sukkel om te onderskei tussen God se wysheid en ons eie slimmighede.

Die Woord vermaan ons om te onderskei tussen die “standaarde van die wêreld” en “God se standaarde” (1 Kor. 3:18–19, NLV).

Vra Jouself: Watter standaard gebruik jy wanneer jy na wysheid soek? Meet jy die antwoorde wat jy vind aan die konvensionele wysheid van die wêreld of aan die wysheid van God, wat dikwels in die wêreld se oë soos dwaasheid klink? Dis ’n belangrike onderskeid hierdie, want konvensionele wysheid, so goed as wat dit mag klink, lei jou dalk na ’n dieper moeras eerder as om vir jou die antwoorde te bied waarna jy opsoek is.

As jy werklik volgens die wysheid van die Here wil leef, sal jy soms bereid moet wees om ’n pad te loop wat vir die wêreld soos dwaasheid lyk.

Dit bring ons by die oorsprong van wysheid uit. Dit lê nie in ons intellek nie. Spreuke 9:10 sê wysheid begin waar daar ontsag vir die Here is. Wanneer ons ontsag het vir die Here, is ons ontvanklik vir godvrugtige lering en opdragte. Liefde vir die Here en vertroue in Hom kweek die begeerte om sy leiding te volg. Ons kan dus begin om in God se wysheid te leef wanneer ons agting vir Hom groter is as ons begeerte om te doen wat ons wil en te leef soos ons lus het.

Vra Jouself: Het ek ontsag vir die Here? Hoe word dit in my lewe weerspieël? Is daar tye wanneer ek my eie wil en planne hoër ag as God se wil en planne? Hoe goed werk dit vir my?

Wanneer jy weet wat waarlik in jou hart en gedagtes aangaan, is dit ’n goeie plek om te begin om jou lewe só te rig dat jy al hoe meer in God se wysheid kan leef.

Nog ’n aspek van wysheid, is insig. Insig behels onderskeiding, begrip en interpretasie. Ons kan toegang hê tot al die kennis in die wêreld, maar sonder insig help dit ons nie veel nie. Dit is dus nodig dat ons, met die hulp van die Heilige Gees, aktief daarna streef om eerstens te onderskei wat van die Here is en wat nie. Ons moet ook ons begrip van wie God werklik is, gedurig uitbrei, nie net deur ons kennis van die Bybel nie, maar ook deur ons persoonlike verhouding met Hom. Dit help ons om dít wat Hy vir ons sê en wys te interpreteer.

Vra Jouself: Neem tyd waar jy rustig met die Here kan sit. Identifiseer iets waaroor jy wysheid nodig het. Vra dan die Heilige Gees om jou volgens bogenoemde riglyne te help om nuwe wysheid en insig in jou situasie te kry. Skryf neer wat Hy vir jou wys.

Wat het jy geleer? Hoe kan jy dit begin toepas in jou lewe en jou situasie?

Amanda de Lange is ’n veranderingstrateeg, spesialis-lewensafrigter en spreker. Haar boek, Suurlemoenseisoen: Herbou jou lewe in 52 weke, het onlangs by Lux Verbi verskyn. Kontak haar by 0846090344 of stuur ’n e-pos na amanda.dlange@gmail.com.

2019-08-01T07:49:04+00:00