Boekuittreksel

Toe ons jonk was

Deur Karen Kingsbury

Noah en Emily Carter was nog altyd bestem om saam te wees – van hul eerste ontmoeting, hul opwindende verlowing en pragtige troue. Hul liefdesverhaal is spesiaal en meer as ‘n miljoen aanhangers stem saam. Maar agter die perfek-gestileerde foto’s en bemoedigende boodskappies op sosiale media is alles egter nie maanskyn en rose nie. ‘n Gebroke Emily reik uit na haar vriend en vertel haar die waarheid: sy en Noah het besluit om uitmekaar te gaan. Hy trek die volgende dag uit. Maar daar gebeur egter vreemde dinge deur die loop van die aand en sy lewe neem ‘n bisarre wending. Sal Noah ‘n tweede kans gegun word om reg te maak wat hy verbrou het? Want dit sal ‘n wonderwerk kos om terug te keer na gister.

Uittreksel

‘Noah word stadig wakker, sy bene verstrengel in die beddegoed. ’n Koue briesie trek deur die vertrek en hy kyk na die venster. Waarom is dit oop? En hoe het dit so koud geword?

Die temperatuur moet onder vriespunt wees.

Hy sit sy voete op die vloer en . . . daar is dit weer. Die koue, krapperige mat. Hy ruk sy voete weer terug soos vantevore. Waar is die houtvloere? En hoe kon hy ingestem het om hierdie goedkoop mat te koop? Sy geheue is deurmekaar, maar in sy agterkop onthou hy iets.

Hulle woon nou in ’n woonstel. Dit is wat dit is.

Hy stap deur die vertrek en slaan die venster toe. Dis nie gewoonlik so koud in November nie. Veral nie wanneer daar donderstorms voorspel is nie. Nie net is die lug buitekant vriesend nie, maar dit is helder en sonnig, en die woonstel is stil. Sy kop klop weer en sy sig is dof, soos vroeër.

Emily en die kinders sal definitief nou al by die huis wees. Die partytjie in die park kan tog nie so lank aanhou nie. Hy trek ’n denim aan wat naby sy bed lê en loop kaal bolyf na die beknopte sitkamer. Daar op die klein hoektafeltjies naby die verweerde rusbank, is ’n klein plastiek-Kersboompie van ’n meter hoog.

Noah voel hoe die vertrek begin draai. ’n Kersboom? Wat gaan aan? Wie het na hul woonstel gekom en ’n Kersboompie opgerig? Hulle versier dit nooit tot ná Danksegging nie. En as dit dan al Kerstyd is, waarom het hulle nie ’n regte boom nie?

Hulle het nog altyd ’n regte boom gehad.

Hy loop na die klein plastiekboompie en kyk mooi daarna. Agt rooi balle en agt groen balle hang aan die plastiektakke. Dis al. Die groen is nie eens realisties nie. Meer soos die kleur van ’n ou weermag-Jeep.

Iets is verkeerd: Sy gesin moet by die huis wees en dit is nie Kersfees nie. Hy kyk na die toonbank, sien sy selfoon en gryp dit. Dit sal hom die antwoorde gee. Die kode om dit te ontsluit, werk met die eerste probeerslag.

Uiteindelik. Noah blaas sy asem uit. Iets wat sin maak. Dit is halfses in die oggend en binne ’n paar klikke kom hy agter dat hy verkeerd was. Dit is reeds Desember. Die eerste Saterdag van die maand.

In die kalenderblokkie staan daar: “Aiden se sokkerwedstryd – 9:00.” Vandag, 5 Desember. Aiden het ’n sokkerwedstryd? Wanneer het Aiden begin sokker speel?

Noah val op die naaste stoel neer en laat sy kop in sy hande val. Ná sy pragtige droom, is Emily al wat hy wil hê. Die verwarring en die hoofpyn . . . die geheueverlies . . . niks maak sin nie. Wat ook al in sy gedagtes aangaan, hy het hulp nodig. Dit is duidelik. Die harsingskuddings is besig om sy lewe te steel en hy kan niks daarvan onthou nie.

Maande is besig om weg te glip. Jare.

Hy moet so gou moontlik by ’n dokter uitkom. Dalk ongevalle toe gaan. Noah kyk om hom rond. Hy moet homself eers oriënteer. Hy gaan sit op die rusbank en kyk hoe die son opkom, kyk hoe die oggendlig op die aaklige klein Kersboompie weerkaats. Dalk is die plastiekboompie ’n grap, iets wat Emily gekoop het om hom te laat lag.

Hy het nog altyd gespot dat sy te veel Kersversierings het. Sierkranse voor die vensters, ’n Bethlehem-toneel op die kaggelrak, sneeumanne langs die voordeur. Noah sit ’n bietjie regopper. Wag.

Waar is al Emily se versierings? Sy het dalk die klein boompie gekoop as ’n grap, maar sy sou nie al haar ander Kersversierings in bokse hou nie. Selfs hier in die klein woonstelletjie. Sy sou ten minste ’n vrolike atmosfeer wou hê.

’n Rilling trek deur sy arms. Waar is almal? Hy loop in die gang af en loer by die kinders se kamer in en dan weer by sy eie. Vir ingeval Emily nog in die bed is en hy haar nie raakgesien het nie. Maar die kamers is leeg. Hy is alleen.

Dalk het Emily saam met die kinders na haar tannie se huis in Texas gegaan. Sy doen dit elke nou en dan. Maar as sy so ver gery het, waarom het hy nie saam met haar gegaan nie?

Noah het geen antwoorde nie. Hy gaan sit weer op die rusbank en toe sy selfoon wys dat dit agtuur is, staan hy op en gaan trek aan. Hy trek ’n hemp en sweetpakbaadjie, dik sokkies en werkstewels aan. Volgens die weertoepassing op sy selfoon is dit minus agt grade buite. Wat sin maak, noudat hy weet dit is Desember.

Toe hy gereed is, gryp hy sy sleutels van die toonbank af en gaan buitentoe om sy bakkie te soek. Dit sal gewoonlik in die motorhuis wees, maar dit is nie sy gewone blyplek nie. Waarom het hy hier by die woonstel geparkeer? Hy druk die afstandbeheerder ’n paar keer, maar in plaas van ’n bakkie, biep ’n Volkswagen wat so vyf meter van sy voordeur af geparkeer staan.

Dit lyk of hy nou ’n Volkswagen bestuur. Nog ’n ding om aan gewoond te raak. Agter die wiel voel dit vir Noah asof dinge terugkeer na normaal.’

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Toe ons jonk wasdeur Karen Kingsbury met komplimente van Struik Christian Media wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is die naam van die paartjie oor wie daar in hierdie verhaal geskryf word? Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019.
2019-08-01T20:29:08+00:00