Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

’n Kleinkind klim ná ’n lang skooldag kop-onderstebo in die motor. Hy sit stil op die agterste sitplek, waar hy homself diep in die hoek probeer onsigbaar maak. Die boodskap is baie duidelik: “Los my uit. Moenie nou karring nie. Ek wil nie praat nie.”

By die huis gooi hy sy skoolsak in sy slaapkamer, trek sy speelklere aan en eet sy kos in stilte.

Sy ma laat hom begaan. Hy sal wel met die sak patats vorendag kom.

Dit is presies net so. Toe sy veel later met die aandkos-voorbereiding in die kombuis doenig is, kom die kleinman ongeërg langs haar staan.

Terwyl sy uieringe in die pan braai, vra sy: “Is jy lus om my te help om die aartappels en wortels te skil? Of wil jy liewer die rys in die kastrol afmeet?”

Terwyl Boeta die wortels opkap, kom die storie uit.

“My juffrou het vandag ’n hele bladsy uit my werkboek geskeur. Ek het die bladsy klaar vol geskryf.”

“Ai, dis nie lekker nie! Hoekom dink jy het sy dit gedoen, Boeta?”

“Sy sê my werk is als verkeerd… En toe moes ek alles oordoen!”

“En? Het jy dit toe gedoen?”

“Ja. Baie mooi.”

“Maar dan is daar mos nie fout nie.”

“Ja, daar is! ’n Mens skeur nie kinders se blaaie uit nie.”

“Nou wat dan?”

“Sy kon net mooi met my gepraat het. Ek sou dit self oorgedoen het. Nou het sy ’n stuk van my hart uitgeskeur.”

Hoe dikwels skeur ons as opvoeders en ouers nie ’n stuk van ’n kind se hart uit nie. Ons kwets die kind, eerder as om die probleem aan te spreek. Daardie vernedering sny diep. Die kind ‘wórd’ daardie uitgeskeurde bladsy. Hy voel verwerp en skaam en minderwaardig.

Wanneer die probleem op sy eie aangespreek word, word die kind se eiewaarde nie aangetas nie. Die kind behou sy selftrots. Meer nog. Hy wil vir die gesagspersoon wys dat hy beter kán doen. Hy wil dit ook aan homself bewys. Deur na ’n fout ‘terug te blaai’, erken ’n kind dit en aanvaar eienaarskap. Terselfdertyd probeer hy aan homself en die gesagsfiguur bewys dat hy tot beter in staat is.

’n Kind smag na nog ’n kans. Ons as volwassenes ook. God weet dit. Daarom vat Hy ons by die hand en help ons op en moedig ons aan. Hy is ’n God van tweede kanse. Die God van weer-probeer. Van opbou. Nie van afbreek nie.

En tog sien Hy nie ons foute oor nie. Hy is immers die regverdige Regter wat oor Sy hele skepping heers. Hy is streng, maar terselfdertyd vol erbarming en liefde en genade.

Daarom skryf die Psalmdigter in Psalm 103:13:  Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

God skeur nie ons bladsye uit nie. Hy help ons om hulle oor te skryf.

Here Jesus

Dankie vir U liefde en genade, Here. Help ons om met dieselfde erbarming na die kinders in ons sorg te kyk en hulle aan te moedig en nie af te kraak nie. Amen  

Amen

2019-06-30T23:06:47+00:00