Hartskos

Maklik én smullekker

Deur Christine Ferreira | Foto’s Nigel Deary

In haar kookboek Everyday wys Lisa Clarke hoe om met ‘n basiese tamatiesous, bolognaise en brooddeegresep ‘n verskeidenheid heerlike geregte voor te berei.

As werkende ma is dit vir Lisa Clarke belangrik om tyd te bespaar as dit kom by die voorbereiding van maaltye vir haar gesin. Met ‘n paar basiese resepte in die hand kan jy elke dag gesonde en smaaklike geregte met min moeite aan jou gesin voorsit, glo Lisa, wat al meer as 20 jaar in die kosbedryf betrokke is. Boonop kan al die onderstaande basiese resepte gevries word om Ma (of Pa) se lewe te vergemaklik!

Basiese tamatiesous (links)

Maak: 1 liter
Voorbereidingstyd: 15 minute
Kooktyd: 1 uur
Maklik om te maak

2 kg ryp tamaties, gesny of rofweg gekap
100 ml oyfolie
60 ml balsamiese asyn
20 ml suiker
Sout en varsgemaalde swart peper

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Plaas die gekapte tamaties op ‘n bakplaat en bedruip met olyfolie en balsamiese asyn.
  3. Besprinkel met suiker en geur deeglik met sout en peper.
  4. Rooster in die oond vir 1 uur, roer elke 15 minute en laat die kante van die tamaties effens verskroei. Dit skep ‘n heerlike geroosterde geur.
  5. Haal uit die oond en laat dit op die bakplaat afkoel.
  6. Plaas die tamaties in ‘n voedselverwerker en verwerk tot glad.
  7. Bêre in die yskas of vries vir latere gebruik.

Basiese bolognaise (regs)

Maak: ±3.6 kg
Voorbereidingstyd: 25 minute
Kooktyd: 2 ure
Maklik om te maak

30 ml olyfolie
1 wit ui, fyngekap
1 kg maer gemaalde beesvleis
250 g sampioene, gerasper
250 g murgpampoentjies, gerasper
1 kg wortels, gerasper
1 x 410 g blikkie tamatie-en-uie mengsel
60 ml rooi lensies
70 g tamatiepasta
250 ml bief-aftreksel
100 ml rooi wyn
100 ml tamatiesous
50 ml blatjang
50 ml Worcestershire-sous
10 ml bruin suiker
1 lourierblaar, gedroog of vars
Sap en skil van 1 groot suurlemoen
125 ml vars room of volroommelk
Sout en varsgemaalde swart peper

  1. Herhit die olyfolie in ‘n groot pan oor medium hitte. Voeg uie by en soteer tot sag en goudkleurig.
  2. Voeg die maalvleis by en soteer vir ongeveer 15 minute lank totdat die vleis mooi bruin is.
  3. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die room en geurmiddels, by. Verlaag die hitte en laat die bolognaise vir ten minste 1½ uur lank kook totdat die vleis sag en die sous ryk en dik is.
  4. Voeg die room en lourierblaar by en geur met sout en peper na smaak.
Haal uit die oond en laat die brood of rolletjies op ‘n draadrakkie afkoel.

Basiese brooddeeg

Maak: 1 groot brood of 2 medium broodjies of 24 klein broodrolletjies
Voorbereidingstyd: 20 minute, plus 2 ure om te rys
Baktyd: 30–35 minute vir die brode en 10–15 minute vir die rolletjies
Maklik om te maak

500 g wit broodmeel
15 ml sout
30 ml suiker
10 g (1 pakkie) kitsgis
45 ml olyf-, sonneblom- of klapperolie
±300 ml warm water

  1. Meng die meel, sout, suiker en gis in ‘n groot bak of die mengbak van staanklitser. Maak ‘n gaatjie in die middel van die mengsel en voeg die olie en water by. Meng totdat ‘n sagte deeg vorm. Voeg sowat 15–30 ml water by as die deeg te styf is. Keer die deeg op ‘n werksopppervlakte waarop meel gestrooi is uit en knie vir 10–12 minute lank totdat die deeg sysag en glad is. Meng vir dieselfde tydperk as jy ‘n staanklister met ‘n spesiale knie-apparaat gebruik.
  2. Plaas die deeg in ‘n bak wat liggies met olie gesmeer is en laat dit toe om vir ‘n uur lank te rys totdat dit in grootte verdubbel het.
  3. Klap die deeg ‘n keer of wat op die werksopppervlakte heen en weer en vorm dan die brood of rolletjies. Laat dit weer rys totdat dit in grootte verdubbel het.
  4. Voorverhit die oond tot 220 °C en plaas die brood of rolletjies in die oond sodra dit in grootte verdubbel het.
  5. Bak die brood vir 30–35 minute of tot goudbruin en dit ‘n hollerige klank afgee as jy op die brood tik. Bak die rolletjies vir 10–15 minute of tot goudbruin en deurgebak.
  6. Haal uit die oond en laat die brood of rolletjies op ‘n draadrakkie afkoel.

 

Hierdie deeg vries goed. Bêre dit wat jy nie dadelik gebruik nie in die vrieskas om later te gebruik.

Kaserige fikkadelbroodjies (links)

Maak: 10 klein broodjies
Voorbereidingstyd: 15 minute
Baktyd: ±20 minute
Nie te moeilik om te maak nie

½ van die Basiese brooddeeg
500 g Basiese bolognaise, afgekoel
250 ml gerasperde mozzarella
1 eier, geklits
60 g botter, gesmelt
2 huisies knoffel, gekneus
5 ml sout
15 ml vars pietersielie, gekap plus ekstra vir garnering
250 ml Basiese tamaiesous, vir doop

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verdeel die brooddeeg in 10 gelyke porsies en rol in sirkels van omtrent 1cm dik.
  3. Skep ‘n groot lepelvol van die maalvleismengsel in elke deegsirkel en plaas ‘n hopie kaas bo-op.
  4. Smeer die kante van die deeg met die geklitsde eier en druk die kante van die deeg saam om ‘n ‘balletjie’te vorm.
  5. Plaas die balletjies in ‘n sirkel, met die soomkant na onder, in ‘n gietysterpan
  6. Meng die gesmelte botter met die knoffel, sout en pietersielie. Borsel die balletjies met die bottermengsel en bak vir 20 minute lank of tot goudbruin.
  7. Koel af vir 5–10 minute. Plaas ‘n bakkie met die warm tamatiesous in die middel van die pan.
  8. Strooi pietersielie bo-oor, sit terug en kyk hoe almal dié gereg geniet!

Maalvleis en mozzarella roosterbroodjies (regs)

Maak: 2 roosterbroodjies

Voorbereidingstyd: 5 minute
Baktyd: ±6 minutes
Maklik om te maak

4 snye volgraanbrood
60 g mozzarella, in skywe gesny
120 g Basiese bolognaise
Sout en varsgemaalde swart peper
Botter of klapperolie, vir smeer

  1. Plaas die mozzarella en maalvleis op twee van die snye brood. Geur met sout en peper. Bedek elke broodjie met die oorblywende snye brood.
  2. Smeer liggies met botter of klapperolie aan beide kante van die toebroodjie.
  3. Verhit ‘n braaipan oor mediumhitte en rooster die broodjies stadig vir omtrent 3 minute lank aan elke kant totdat die kaas gesmelt is en die broodjies goudbruin is.
  4. Sny die broodjies middeldeur en bedien.

Resepte en foto’s uit Everyday deur Lisa Clarke met toestemming van Struik Lifestyle gepubliseer.

2019-06-01T13:52:09+00:00