Lééf mooi

‘n Vrou in elke geur

Deur Christine Ferreira | Foto’s Pexels

Laat jou emosie en intuïsie jou lei as dit by die keuse van ‘n fyngeur kom. Jou uieke geur sê iets van jou persoonlikheid.

‘Kom in die aand
en geniet van haar geure
Foelie, jasmyn,
angelier, minjonet:
Kom in die môre
en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud,
Groen en blou, violet!’
A.G. Visser uit die gedig ‘Rosa Rosarum’

Op ‘n doodgewone dag kan ‘n spuitjie van jou gunstelinggeur jou verplaas na die soel hitte van ‘n tropiese eiland, ‘n blommeveld in die Franse platteland of ‘n lemoenboord op die plaas waar jy grootgeword het. Geur is gekoppel aan jou emosies en kan binne oomblikke vergete herinneringe oproep. Fyngeure is sinoniem met alles wat mooi is… dis ‘n wêreld van drome en romantiek.

Parfuum is iets persoonliks. Daar is ‘n geur vir elke vrou – ‘n spesiale fyngeur wat jou emosies roer en jou meevoer. Ons tref onderskeid tussen parfuum en eau de toilette. Parfuum is die suiwerder en meer gekonsentreerde weergawe van ‘n geur en is nie noodwendig swaarder nie. Daar bestaan losweg vier geurfamilies. Nuwe geurkategorieë maak egter van tyd tot tyd hul verskyning, maar geure word basies in vier hoofgroepe verdeel, naamlik blomgeure, chypre (mos-agtig), groen en Oosterse geure. Vermenging vind binne die geurfamilies plaas en dan ontstaan ‘n geur waar kenmerke en bestanddele uit verskillende families gekombineer word.

Blomgeure het enkel- en veelvoudige blomnote en wissel van sagte, eenvoudige geure tot elegante, gesofistikeerde blomgeure. Die chypre-familie ruik veral na mos met tone van leer en vrugte. Groen geure is vars en skoon en ruik na die natuur en sitrus, terwyl Oosterse geure kragtig, sensueel en spesery-agtig is. Moderne geurfamilies sluit in helderkleurige blomme; oseaan of osoon, sitrus- en vrugtegeure en gourmand-geure soos dié wat byvoorbeeld na sjokolade ruik.

‘n Fyngeur bestaan meestal uit drie groepe geurnote. Die topnote word dadelik geruik en bestaan uit klein molekules wat gou verdamp. Die middelnote is die hart van die parfuum en word eers geruik as die topnote verdamp het. Die basisnote en middelnote vorm die eintlike geur. Die basisnote verleen diepte aan ‘n geur en word eers na sowat ‘n halfuur geruik.

‘Vreugde is ‘n parfuum wat jy nie op iemand spuit sonder dat daar ‘n paar druppels ook op jou val nie’ Ralph Waldo Emerson

Fyngeur-feite

  • Geur en emosie loop hand aan hand. Die vrou wat die lekkerste ruik, is glo die moeilikste om te weerstaan.
  • Parfuum bestaan uit 20% tot 30% geurkonsentraat wat met natuurlike alkohol gemeng word. Eau de Parfum bevat 10% tot 20% geurkonsentraat, terwyl Eau de Toilette minder as 10% van die geurkonsentraat bevat.
  • Geure word vandag ook sinteties vervaardig. Dit stel die parfumeur in staat om talle nuwe geurkomposisies te skep wat nie voorheen bestaan het nie. ‘n Parfumeur het gemiddeld 5 000 en meer sintetiese geurnote en ongeveer 200 natuurlike grondstowwe tot sy beskikking om ‘n nuwe geur te skep.
  • Die neiging is tans vir blomgeure wat met vrugtige geure vermeng word. Die tradisionele geurpiramide word ook deesdae vervang deur geure met ‘n sirkelkomposisie. Dit beteken dat ál die geurnote in een harmonie – eerder as in lae – saamwerk om die geur vry te stel. Suiwer blomgeure bly steeds van die gewildste geure.
  • Die skep van ‘n nuwe geur begin met ‘n konsep, ‘n briljante idee, ‘n storie wat in ‘n geur  omskep word. Die ontwerp van die houer is net so belangrik en help om die geur se ‘verhaal’ verder uit te beeld.
  • Die Franse parfuumbedryf het sy oorsprong in die 16e eeu in Grasse. Dié dorp word as die wêreld se ‘hoofstad’ van geur beskou. Hier kan jy onder meer die Museé Inetrnational de la Parfumerie besoek of maak ‘n draai by die Musée de la Parfumerie in Parys.

Wenke

  • Beskerm jou parfum teen lig, humiditeit en hitte aangesien dit die geur kan belemmer. Jou fyngeur behoort altyd op ‘n koel, droë plek gebêre te word. Kenners sê dit is wys om jou bottel onderstebo te laat staan, sodat die lugblasie aan die onderkant van die bottel kan rus en nie oksidasie van die geur veroorsaak nie.
  • Moenie jou parfum aanwend daar waar die vel aan die son blootgestel is nie, dit lei tot pigmentasievlekke. In die waai van die been, tussen die borste en agter die ore is perfek – jou liggaamshitte sal die geur verder versprei.
2019-06-01T10:30:47+00:00