Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ek help my vyfjarige krulkop-kleinkind om te stort en hare te was.

Eers moet ek die water se temperatuur presies reg instel vir die kleine juffrou. Teen hierdie tyd is ek halfpad saam onder die stort en my moue papnat. Dan begin die proses om die lang krulhare te was. Ek sukkel om die nat rekkie uit die gekoekte vlegsel los te kry. Ons probeer sjampoe. Tevergeefs. Dan ’n goeie skoot opknapper. Maar nee!

“Ouma weet, daar is twee soorte koeke. Lekker koeke en slegte koeke. Hierdie is slegtes.”

“En die lekker koeke?” wil ek nuuskierig weet.

“Dis koeke wat ons eet, met versiersuiker en jellielekkertjies en smarties op.”

Sy vertel van haar onlangse partytjie en die prinseskoek wat ryklik met lekkergoed en silwer balletjies versier was. Ek hoor van die wye lang rok met sy pienk versiersuiker-patroontjies.

“En skoenlappertjies wat ’n mens kan eet. Én pers rosies. En ’n blink kroon op die prinses se kop.”

Sy borduur voort. Ek hoor van maatjies wat mekaar gejaag het en van een wat gehuil het toe haar prinseskroon per ongeluk geskeur het. Ek hoor van die hond wat die laaste stuk koek van die tafel af gegaps het. En van ’n boetie wat hulle geterg het en van pure snaakswees klere en al in die swembad gespring het.

Ons kan ’n kind help ontdek dat daar ook ’n vrolike kant aan iets is wat onoorkomelik sleg lyk.

So tussen die lag en gesels en “Aau! Eina!” deur, raak ons die ‘slegte koeke’ baas. Dit verg vernuf – maar veral geduld, en selfs ’n paar danspassies. Uiteindelik kom die rekkie tussen die hare waarin dit verstrengel was, los. Ek was versigtig die gekoekte krullebos en spoel die skuim af. Dan borsel ek die krulle een vir een uit. Die lang hare gly glad en blink deur my vingers. Niemand sou kon raai dat diéligte kartels ’n kort rukkie tevore onwennige krulhare vol koeke was nie.

Ons blaas die nat hare droog. Die sonlig maak ’n goue krans om haar kop.

Die los krulle lê donsig-sag en veerlig in my hand.

Koek en koek. Die een ooglopend heerlik. Die ander sleg, vol sigbare moeilikheid en frustrasie.

Hoe dikwels staar ons ons nie teen die negatiewe kant van iets vas nie. Ons vergeet dat daar midde-in oomblikke van frustrasie en pyn en hartseer ook ligte oomblikke van suiwer vreugde kan wees. Ons kan ’n kind help ontdek dat daar ook ’n vrolike kant aan iets is wat onoorkomelik sleg lyk. En ons ma’s en oumas kan gerus ook self leer om onbevange opgetoë te wees oor blinkertjies en dik versiersuiker op ’n verjaarsdagkoek.

Soms maak ’n klein dogtertjie met ’n bos onwennige krulhare onverwags ’n mens se oë oop. Jy besef weer dat lekker en sleg kan hande vat. Dit is die lewe.

Here Jesus, U leer ons dikwels belangrike lewenslesse deur die kinders wat U in ons lewens plaas. Help ons om te ontdek dat daar in elke moeilike omstandigheid ook ’n vreugdeoomblik skuil. Help ons dat ons oë nie so op die negatiewe en swaarmoedige gefokus sal wees dat ons die verskuilde vreugde mis nie. Dankie dat U in elke situasie is. Help ons om U raak te sien. Amen

Lees meer

Glo soos ‘n kind deur Chante Hinds-Möller

Lesersbriewe

Maklike maaltye vir die gesin

2019-05-30T13:49:42+00:00