Vanmôre toe ek onder die herfsbome hier by Larmenier stap, skiet ‘n eekhorinkie blitsig oor die pad. Dit bring skielik die verhaal van Tante Linneke en haar kat by my op. My Hollandse skoonfamilie vertel die storie graag. In Wêreldoorlog Twee se Hongerwinter van 1944-45 raak Tante Linneke, wat alleen met haar kat in Amersfoort woon, op ‘n gegewe moment so desperaat, dat sy besef haar skamele kosrantsoen kan nie meer Cornelius ook onderhou nie. Sy kon ‘het vermagerd poesje niet meer aanschouwen ”. Eerder as hom van honger te laat omkom, sou sy hom moes wegmaak

Maar hoe ‘n getroue, enigste oorgeblewe metgesel“wegmaak”? Geld vir veearts is daar nie, Vergiftig?  Dít kan tog nie! Versmoor? Nooit! Na smartlike oordenking is al waarvoor sy moontlik kans sien om Cornelius in die grag te verdrink. Verskriklik soos dit ook al mag wees. Uiteindelik skraap sy elke vesel moed bymekaar, wikkel die kat stewig in lap toe, bind tou om. Probeer nie dink wát sy doen nie.

Met hom in die saalsak van haar fiets ry sy na die naaste grag, haal verskriklik diep asem, gooi toe die wriemelende pakkie in die water. Traanverblind vat sy sonder agtertoe kyk die pad terug  huis toe. In haar binneste knaag verwyt genadeloos. Haar verdriet verhewig as sy aan die leë  huis wat haar inwag, dink. Verbygangers wat ‘n droewig wenende vrou op die fiets sien, haal die hoed respekvol af. Sekerlik ‘n man, broer of seun aan die Nazi-geweld afgegee.

Maar siedaar, toe sy voor haar huisie van die fiets afstap, wie wag haar in? Niemand anders as Cornelius self nie! Hy sit hom verontwaardig op die stoepmatjie te was. Sommer kortpad huis toe gesteek. Oorstelp van dankbaarheid gryp sy die nat kat vas om hom nooit weer te laat gaan nie.  Vir die res van daardie bitter winter deel Tante Linneke eenvoudig elke krummel met Cornelius. Dit bring hulle op die randjie van verhongering, maar hulle haal albei die einde van die oorlog in lewe.

Waartoe stel die liefde mens tog in staat?

Toe ons nog in ons vorige huis gewoon het, het iets so mooi een jaar in ons tuin gebeur. Jare lank het ons daar lemoenduifies en eekhorings gevoer, sodat ons langsamerhand mak geraak het vir mekaar. Ons astrante Siamees, Shlomo en twee onstuimige Jack Russells, Sarah en Sandy, ten spyt. Die vorige jaar sluit vier tarentale by ons dierversameling aan. Soggens vroeg kon mens hulle soos ‘n droë windpomp voor die kamervenster hoor kners. Later raak hulle so hans dat hulle teen die glasdeur kom pik tot ons wakker word.

Maar met die koms van die voorjaar verdwyn al vier sonder meer. Ander weivelde gaan soek, reken ons teleurgesteld.  Tot ‘n oggend twee weke later. Wonderbaar! Op die grasperk loop ons tarentale met tien fraai kuikentjies wat op dun rooi beentjies agter hulle aanhol. Dis tóé dat Shlomo reken hier vang hy vanmôre ‘n voël wat nie kan vlieg nie. Famous last thought! Hy het hom nog nie behoorlik platgetrek vir spring nie, of Pa Tarentaal lig sy vlerke en storm krysend. My arrogante kat wat vir geen hond die aftog blaas nie, vlieg daardie môre haastiger as ‘n cheetah die seringboom op.

Maar blitsiger nog as Shlomo, het Ma Tarentaal ook haar vlerke gelig en verdwyn die kuikentjies daaronder. Oombliklik verstom hulle sagte tjiep-tjiep wat ons die hele tyd kon hoor.

Ontroering oormeester my daar toe ek die woorde onthou: “Jerusalem! Jerusalem! hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak…”

Wêreld van beangstiging om my, ek ken die veilige plek!

2019-06-01T14:32:37+00:00