Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Selfs al sit sy Graad 2-broek ’n halfmeter bo sy enkels en dra hy sy bultende skooltas steun-steun oor sy skouer, is Dawid se grootste wens om steeds onder sy ma en pa se verekombers in te kruip en vir altyd en ewig opgekrul op ons skoot te lê. Ons lees steeds saam bedtydstories, help sy slaaplomplyf aantrek op ’n stikdonker Maandagoggend as hulle koshuis toe moet gaan, en pak saam met hom sy sagte diertjies uit wat hom saans geselskap moet hou. Ons doen dit met geduld en deernis want oor ’n kort rukkie staan die grootmenswêreld vierkantig in sy deurkosyn en is daar geen terugdraai na die onskuld, sorgvryheid en koestering van sy kleintyd nie. Maar voor jy jou moederhart heeltemal week het, vloei daar ’n soort afhanklikheid uit hul mond wat erger is as die kwylbek, fopspeendae van ouds. Asof van nêrens hoor ons al hoe meer die woorde; “ek kan nie.”

“Ek kan nie die somme doen nie, ek kan nie die draadjie ingeryg kry nie, ek kan nie dit teken nie, ek kan nie my leesboek kry nie – ek kan nie, ek kan nie, ek kan nie”. Hoe meer ons oortuigend probeer klink dat mens wel alles kan doen wat jy besluit jy wíl, hoe meer kerm hy dat hy regtig “nie kan nie”. Pa Jan se stem is dreigend toe hy uiteindelik sê: “Dawid, nou luister jy vir my mooi. Hier is wat jy gaan doen.” Twee vingers gaan op en sy oë pen Dawid vas. “Maak ’n plan. Vra vir hulp, maar moet net nie kerm nie!” Daarmee was die saak vir Pa Jan afgehandel. Darius haal sy skouers op want hoe maklik kan dit nou wees? Ek voel of daar pas ’n engelekoor van bowe die wysheid onthul het, so verlig is ek. Dawid sluk aan sy trane, want ook vir hom het die onmoontlike skielik dalk moontlikheid geword.

Dis amper ’n halwe jaar later en die woorde eggo steeds deur ons huis. Maak ’n plan!“Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. (2 Timoteus 1:7) Vra vir hulp! “Hy is ons hulp en beskermer soos ’n skild … (Psalm 33:20) Moenie kerm nie! “Doen alles sonder kla of teëpraat … (Filippense 2: 14) Die versoeking om terug te val op die geykte verskoning van “nie kan nie” het vir baie ’n soort mantra en lewensbeskouing geword. Dit hou jou klein en op ’n gemaklike plek waar min of geen groei kan plaasvind nie. Begin eers by jouself en kyk of jy dalk aan ’n kreatiewe oplossing vir jou situasie gedink het. Moet dan nie skaam wees om iemand anders se hulp of perspektief te vra nie! Verander jou kla in hoera en kyk hoe jou lewe vlerke kry.

Leer jou kind:

  • Moedig kinders se eie inisiatief en probleem-oplossing aan.
  • As hulle jou hulp vra, gee dit onvoorwaardelik, maar begelei hulle steeds na selfstandigheid.
  • Prys jou kind en laat klink die hoera’s as hulle ’n probleem opgelos het.

Luister na:

Die sanger, Jo Black, se lied “Skepe”. Die verhaal van Josef is só inspirerend vir kinders, veral omdat hy geleer planne maak het!

2019-06-01T15:22:31+00:00