Kuier by

Franse inspirasie

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Dina en Johann Greyling het as ’t ware ‘n stukkie van Frankryk verplant na die geil bosheuwels van Swavelpoort, Pretoria-Oos vir hul trouvenue en gastehuis, Nouveau en KammaFrans.

Eintlik is dit maklik om by KammaFrans uit te kom, ‘n gastehuis in die Ooste van Pretoria. Koppig ignoreer ek my GPS en ry met ‘n selfgetekende kaart wat my op ‘n ompad vat. Heel eenvoudig: Hou reguit aan met Lynnwoodweg Oos, tot dit Grahamweg word.

Uiteindelik, met telefoniese aanwysings, wag ek dat ‘n skuifhek oopgaan en parkeer onder een van die groot koeltebome. Ek word verwelkom deur ‘n swaaiende stert. Die vriendelike Foxterrier ruik aan my hand en begelei my na die voorportaal. Carla Beyer, die ontvangsdame wat my oor die foon gehelp het, stel die swartbruin gevreetjie voor as Vlekkie. Hy herinner my aan my eerste brakkie toe ek in graad 1 was, ook ‘n Foxterrier en ook genaamd Vlekkie.

Terwyl ek ‘n cappuccino teug, sink die eiesoortigheid van die omgewing in. Teen ‘n diepgrys muur word witgeverfde koedoehorings omring deur religieuse prentjies in houtrame. Die kandelaar teen die plafon is toegerank met droë takkies. Teen ‘n ander muur leun drie ou houtdeure sedig op ‘n ry; ‘n aangrensende ou goud muur vertoon ‘n versameling porseleinborde en wit bokhorings. ‘n Vierkantige glasbak is vol blokkies afvalhout. Neffens die uitgang na die stoep pryk ’n spreuk van ene Freda Schoeman: “My hart kom affie plaas waar die wind en die son en stilte my speelmaats was.” Die tuin-uitsig oor welige plantegroei en grasperke kan jou oortuig jy is wel op ‘n bosveldplaas ver van die stad af. Vlekkie les sy dors by ‘n fonteintjie langs ‘n rotstuin.

Lief vir mense

Dis Dinsdag en rustig, selfs stil. Naweke raak dit bedrywig wanneer bruide en hul gaste opdaag. Dan bruis die twee kapelle (een opelug), onthaallokale, stoepe en tuine met geselligheid.

“Jy moet lief wees om met mense te werk,” erken Dina Greyling (46), ‘n gasvrou wat die fynkuns verstaan om elke besoeker spesiaal te laat voel. “Hulle gee ons energie.” “Gelukkig kan ons ons eie tyd bestuur en ons persoonlike voorkeure en kreatiwiteit uitleef,” voeg Johann (52) by. “Ons maak ’n werk uit ons stokperdjies – onthaal, blomme, dekor, mense. Wat ‘n voorreg!” Gaste noem hom soms Frans, lag Dina.

Vantevore het sy haar dekorwinkel, Faded Grace in Pretoria, bestuur en by die Pretoria College en Pretoria Technikon (deesdae TUT) klasgegee. “Toe arriveer my eersteling. Ons het drie kinders in vier jaar gehad,” onthou sy. “Ek kon nie tuis sit en niks doen nie. Johann was in die motorhandel saam met my boetie, Neil Reyneke. “Toe is Faded Grace gebore.”

‘In eerste elf jaar van getroude lewe het ons 12 huise reggemaak en drie babas gehad. Ons deel ‘n passie vir eiendom, meubels en om iets op te bou’

Kreatiewe herwinning

Sowat ‘n dekade gelede met die vintage oplewing het bruide begin om tafels, stoele en allerlei dekorstukke uit haar winkel te huur vir hul troues. “Hulle wou potjies en blomme en kandelare huur, en so beland ons toe in die troubedryf.”

Hulle het ‘n nis ontdek, om hul eie winkelware vir troues te verhuur: ou spieëls, vase, kershouers, kandelare waaraan harte en koppies hang, mosaïekwerk. Los bate-veilings is ‘n goeie bron van oudhede en dekor. “Ons gaan saam of afsonderlik. Dis waar ons ou kiste, leertasse en lere raakloop; ou deure en hortjies of ‘n ou kas waarop welkomdrankies bedien kan word.”

In 2012 het die Greylings ‘n plot gekoop en die ou geboue en store begin opknap. “Die vorige eienaar was meestal weg en die woonhuis was baie oud en verwaarloos; ‘n tweede huurhuis was in ‘n verskriklike toestand,” vertel hulle beurtelings. “In elf jaar van getroude lewe het ons 12 huise reggemaak en drie babas gehad. Ons deel ‘n passie vir eiendom, meubels en om iets op te bou. Ons is albei baie kreatief en het ‘n oog vir mooi goed.” Kreatiewe herwinning van deure en houtsparre is in elke ruimte sigbaar. Die panele van die destydse Lynnwood Inryteater is in die gastehuis ingebou.

Lief vir kinders

“Ons het ‘n droom gekoester om eendag ons eie gastehuis te hê. Dis die ideale ding vir ‘n egpaar. Johann is ‘n regte gasheer; dit pas hom soos ‘n handskoen,” meen Dina.

Dina is “die kwaai een” wat die teuels styf hou. “Mense het altyd gewonder hoe ons dit regkry dat ons kinders so soet is. Ons is mal oor kinders en hier kom altyd baie kinders kuier. Hulle vra raad by Dina, want al is sy streng is sy oopkop. “ Dié goeie rapport met jonges skryf Dina toe aan die invloed van haar pa, André Reyneke, wat direkteur van nasionale eksamens was. “Hy was ‘n man met ‘n oop gemoed en sonder vooropgestelde idees. “Ek kan met kinders gesels oor enige kwessies, want ek is toeganklik en vorm saam met hulle menings en ontdek nuwe fases.”

Hulle het twee dogters en ‘n seun. Tana (20) studeer argitektuur by Tukkies, Luka (18) skryf vanjaar matriek en wil tale en joernalistiek studeer, en Hanu (16) besluit nog wat hy eendag wil word. “Hulle is baie uiteenlopend. Die oudste deel ons passie en help met die troues se blomme. Luka en Tana het 90% vir kuns in matriek gekry.”

Kunstig verby!

Johann se familie is kunstig en musikaal, vertel Dina. Op skool het Johann die hoofbeuel in die kadetorkes gespeel en klavier- en orrellesse geneem. “Al oefen ek te min, kan ek trekklavier en melodika (mondorrel) bekfluit speel.”

Dina is lief vir taal en skryf, ‘n passie wat sy by haar bibliotekaresse-ma, Sybil Reyneke, geërf het. Johann, wie se pa Herman en ma Wilma Greyling op suiwer Afrikaans gesteld was, gebruik seldsame woorde soos tafelkleed, katel, penskafee, smouskas en kruiptrekker. Met al die kuns, musiek en taal in dié huis, die wedersydse liefde vir opknap, bou en blomme rangskik, is die twee ‘n ware Renaissance-paartjie wat mekaar aanvul en inspireer. “Ons is vanjaar 24 jaar getroud, maar jy moenie die tyd omwens nie,” sê Johann. “Ek hou van dink en sy van doen. Sy lees baie en kry idees uit tydskrifte, reis en sosiale media.” “Johann het alles leer doen. Hy moet ‘n loodgieter wees met die 35 toilette op die perseel,” vertel Dina. Hulle het hul eie boorgatwater, kragopwekkers en 20 geysers. Somernaweke is besig terwyl Januarie morsdood is. In Augustus is daar al tot agt troues gehou. Daar is twee dames op kantoor en agt werkers op die perseel wat kelners, skoonmakers en  tuiniers insluit. “Ons lag as mense vra: ‘Wat doen Johann hier?’ Ons werk die hardste wat ons ooit vantevore gewerk het. Dis ‘n voltydse werk.”

Johann is gebore in Tzaneen en getoë in Potgietersrus. Ná matriek het hy sy BA Ed L.O.-graad en Honneursgraad in Rekreasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria voltooi. In 1992 het hy ‘n jaar diensplig gedoen. “Hier in Pretoria het ek mens geword,” glo hy. “Maar ek het nog nooit ophou speel nie.” Hy was 13 jaar in die onderwys, 11 jaar by Hoërskool Wonderboom waar hy liggaamsopvoeding en Noord-Sotho gegee het, en twee jaar by Laerskool Broederstroom. Dina, ‘n boorling van Volksrus in Mpumalanga, het groot geword in Edenville enVrede in die Vrystaat en gematrikuleer aan Hoërskool Eldoraine in Pretoria. Daarna het sy ‘n B Com in Ondernemingsbestuur aan Tuks behaal en ‘n HOD.

‘Ons kom albei van die platteland af en het dadelik verlief geraak op die Franse plattelandse lewenstyl en argitektuur.’

Frankryk toe

In 2010 het ‘n toer deur Frankryk, met hoogtepunte soos Parys, Avignon en Lion, die konsep vir ‘n Frans-geïnspireerde gastehuis laat posvat.

“Ons kom albei van die platteland af en het dadelik verlief geraak op die Franse plattelandse lewenstyl en argitektuur. Dit is rouer en ryker as in die stad. Ons monde het oopgehang vir die markte, met alles van vars produkte tot oudhede, porselein en silwer kandelare. As dit skemer word, transformeer die voorraad na die mooiste gedekte tafels. Die uitstallers lêdan weg aan gerookte varksnitte, vars brode en wyn, terwyl deftige linne en servette, alles met pryse aan, gebruik word. Jy stap verby trokke waarop hemelbeddens staan. Daar het ons voorliefde vir onthaal vlamgevat.”

Johann het die naam KammaFrans uitgedink, wat die allure van Frankryk, die Bosveld en Afrikaans suggereer. Die gastehuis het geleidelik ontwikkel van vier tot ses kamers, en tans is daar 18 eenhede wat tot 50 mense kan huisves. In pas met die tema bied hulle kontinentale ontbyte, geïnspireer deur die gastehuis in Avignon waar hulle tuisgegaan het. “Soggens was daar ‘n toumandjie aan die deurhandvatsel, met enigiets van croissants, baguettes, Franse brood, vrugte, koue vleis en hardgekookte eiers, Ons gasheer was ‘n ware karakter met ‘n snyersbaadjie. Sy plek het ons gehelp om ons droom te visualiseer.” Hulle het ‘n kleiner venue genaamd L’Atelier begin waarna die behoefte na ‘n groot venue hulle genoop het om die plot langsaan te koop. Venue Nouveau is toe gebore. “Dit dui op ‘n nuwe begin vir ons lewe, asook ‘n nuwe begin vir elke paartjie wat daar trou. “Alles word deesdae makro-besighede. Ons wil ook op kleiner skaal onthaal. Dis stil en landelik hier teen die koppies, soos op ‘n plaas,”

Onthou die goeie

“Dis lekker om kliënte se behoeftes te identifiseer en dit selfs mooier te maak as wat hulle verwag. Ons probeer om die meeste dienste self te verskaf en seker te maak daar is geen negatiewe verrassings nie.”  So beskryf die Greylings hul lewensuitkyk: “Ons wil die outydse konsep van uitsien na iets, ‘n geleentheid voluit vier en dit dan nádie tyd onthou en waardeer, by ons kinders tuisbring. Deesdae is alles gemik op bolangse kitsplesiere en Instagram-momente wat vinnig vasgevang en net so gou weer vergeet word.”

Vlekkie, een van die sewe honde van KammaFrans, kom my verlaas by my kar afsien, en kyk my uittog stertkwispelend agterna.

2019-06-01T08:34:11+00:00