‘Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie…’ Matteus 6:19a

Honderde boeke en preke word gewy aan ‘n poging om die Here sover te kry om ons te seën. “God wil ons graag seën, sien, dis sy doel, maar ons moet weet hoe om dit te ontvang. In Hom is ons tot welvaart bestem! As ons net die regte geestelike tegnieke inspan (bid só, bely só, glo só, saai só), dan sal die oes inkom, die oorvloed daar wees.”

Hierdie lering is egter vreemd aan Jesus en die apostels en ver verwyderd van die Bybelse leefwêreld. Die eerste Christene was meestal bitterlik arm, maar ryklik geseënd! ‘n Probleem van die voorspoed-teologie is dat dit God se seën aan aardse rykdom meet. Materiële dinge kán ‘n seën wees, maar dit kan ook ‘n vloek wees. In die Bybel is seën ook te sien in dinge soos gesondheid en krag, ‘n lang lewe, kinders en kleinkinders, die respek van ander. Ja, seën lê in jou verhoudings, in jou maat-wees, jou liefde gee, jou kinders se gesigte. Seën is om te kan gee, sê Jesus, om ánder te kan seën. Bo alles is seën ‘n lewe met God. Dit is vrede-in-jou-gemoed, die feit van sy teenwoordigheid in jou op en jou af. Die armste gelowige het dit en die rykste ongelowige ontbeer dit! Jou seën is die oorvloed van jou hart; jou rykdom is ‘n toestand in jou brein. Jy is geseënd as jy besef hoe geseënd jy is – as jy dit kan sien, kan sê. Die een wat altyd dankie sê, is waarlik geseënd! Geld wat vergaan is pure armoede in vergelyking.

Gebed

Dankie vir my oorvloed, Here!

‘Die lewe wat sy seëninge tel, ontdek baie meer daarvan as wat dit ooit kon dink.’ Ann Voskamp

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2019-06-01T15:11:10+00:00