Sielsmaats

Deur Johan Ferreira | Foto Pexels

’n Opregte verskoning is dikwels die enigste manier om ’n verhouding te herstel.

In alle tipes verhoudings kom daar soms teëspoed. Iemand doen iets verkeerd, oortree ’n sosiale reël, sê iets wat seermaak of vergeet ’n belangrike gebeurtenis. Teleurstelling is ’n negatiewe emosie wat meeste mense vermy. Ons hou nie daarvan om teleurgestel te word nie, maar ons emosies stuur ons darem seker ook weg daarvan om ander mense teleur te stel.

Dikwels is mense so vasgeval in hulle eie lewens dat daar maar min van ’n bewussyn is van die pyn wat hulle vir ander veroorsaak word. Hierdie gedrag is dikwels nie intensioneel nie, maar daar is bloot ’n afwesigheid van die bewussyn van wat die gedrag regtig aan ander doen. ’n Opregte verskoning is dikwels die enigste manier om ’n verhouding te herstel wat seer en teleurstelling die bande van die konneksie verswak of gebreek het.

Hoe nou gemaak as ’n verskoning, ’n jammer sê, benodig word?

Weens die algemene gebrek aan bewussyn tydens teleurstelling, is die eerste stap in jammer sê om bewus te raak van wat jy gedoen het. Vra jouself af wat moontlik die pyn veroorsaak het. Indien jy kan agterkom wat die bron van die seer is, herken dit eerstens, en erken dan dat jy dit gedoen het. Of dan natuurlik moontlik iets nagelaat het wat jy móés gedoen het. Die kommunikasie na die persoon toe moet kan verduidelik dat jy insig het in wat gebeur het, en verantwoordelikheid daarvoor neem.

Sonder opregte intensie is ’n verskoning natuurlik niks werd nie. Probeer om nooit die verskoning te regverdig of verduidelik nie. “Ek is jammer, maar…”, werk gewoon nie. Indien jy opreg jammer is, sê dan so en laat dit daar. Só ’n verskoning wys dat jy begrip het en nie net regverdiging soek nie.

Moenie na ’n verskoning kyk binne die konteks van ’n magstryd nie. Sodra jy daaraan dink dat iemand gaan wen en die ander gaan verloor, gaan jy die proses kontamineer en die opregtheid verloor. Die doel van ’n verskoning is nie om iemand te beheer of te oorheers nie. Binne verhouding vra ons verskoning omdat ons die verhouding bo onsself ag. Indien ons iemand dwing om verskoning te vra verloor ons die integriteit van die proses, dit word dan net die woorde wat gesê word.

Indien ’n verskoning binne ’n permanente verhouding aangebied word, sal daar ook ’n versoek om vergifnis moet wees. Om verhoudingsherstel te bewerkstellig moet die ander persoon jou verskoning aanneem, maar moet dan ook kies om die proses van vergifnis te betree.  Natuurlik kan mense kies om jou nie te vergeef nie, maar dan gaan die voortgesette verhouding nie gemaklik en glad kan verloop nie. Onvergifnis veroorsaak struikelblokke in verhoudings en bring voortdurend ou gebeure weer te voorskyn tydens tye van konflik.

Om in opregtheid jammer te sê verg emosionele volwassenheid en waagmoed.

Onthou dat vergifnis ’n proses is en wanneer iets groot verkeerd geloop het binne ’n verhouding moet ons bereid wees om herhaaldelik dieselfde verskoning aan te bied totdat die persoon die vergifnis kan beleef. Natuurlik kan ons dan moedeloos raak en voel dat die verskoning nie van waarde is nie, maar druk dan deur en wys jou verbintenis tot die verhouding deur jou ego sover as moontlik uit die proses te hou. Natuurlik moet ons nie toelaat dat iemand jou nou vir jare lank laat skuldig voel nie – dit is nie vergifnis nie, maar manipulasie.

Sonder gedragsverandering is vergifnis nie moontlik nie. Ons kan nie iemand vergewe wat aanhou om dieselfde ding te doen nie. Dit beteken gewoon dat nie een van ons twee in die proses iets leer nie! So ’n siklus kan ’n leeftyd aanhou, waar een bloot voortgaan met pynlike gedrag en die ander een bloot aanhou om die gedrag te verskoon. Dit is nie opregte berou of vergifnis nie.

Indien jy die oortreder was, kommunikeer jou intensies tot ander keuses en ander uitkomste. Maak ’n verbintenis tot gedragsverandering, begin ten minste met die insig dat jou gedrag problematies is. Maak ’n plan om beter keuses te maak, kies stadiger, wees minder impulsief, meer bedag op die ander se behoeftes en gevoelens. Wend ’n poging aan om ’n beter weergawe van jouself te wees.

’n Verskoning wat gepaard gaan met blamering is natuurlik nul werd. Dit help niks om te sê dat jy jammer is vir jou dade, maar dat daar ’n rede voor was nie! “Ek is nou jammer vir jou pyn, maar ek het maar net in reaksie op jou gedrag opgetree”. Sê eerder niks voor jy hierdie stelling aanbied as ’n flou poging tot ’n verskoning. Dit wys geen insig of opregtheid nie.

Om in opregtheid jammer te sê verg emosionele volwassenheid en waagmoed. Natuurlik kan jou verskoning verwerp word en dan voel jy hulpeloos, moedeloos en verslaan. Dit bly altyd die ander persoon se reg om jou verskoning te aanvaar of nie. Jou verantwoordelikheid is om die verskoning opreg aan te bied. Daarna is dit uit jou hande.

Dit is so dat sommige mense en kontekste langer tyd neem om tot vergifnis te kom. Indien jou verskoning aangeneem word, maar tyd vir deurwerk en deurtrap benodig, hê dan genoeg genade om die tyd te gee sonder druk of verwagting. Sommige mense sal dalk meer as ’n verskoning verwag, moontlik wil waarneem en so sal verandering in gedrag tot vergifnis lei.

Dan is daar natuurlik mense wat jou verskoning sal verwerp en duidelik laat weet dat hulle jou nie gaan vergewe nie. Aanvaar dat jy daaraan niks kan doen nie en tree dan uit die verhouding om verdere emosionele skade of manipulasie te vermy.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielmaats.co.za vir meer inligting.

2019-04-30T18:32:49+00:00