Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Da Luca Sparling Rosé

Die ligpienk vonkelwyn is gemaak van ‘n mengsel van merlot en rabosa-druiwe afkomstig van die Veneto-streek in die noorde van Italië. Dit het ‘n vrugtige boeket met note van aarbei en framboos. R89

De Krans Premium Red Moscato Perlé2017

Hierdie is ’n natuurlike soet, rooi perlé-wyn wat hoofsaaklik van muscat de frontignan-druiwe gemaak is, versny met ’n klein persentasie van Suid-Afrika se eie pinotage om die ideale balans tussen kleur, geur en smaak te skep. Die gevolg is ’n pragtige, ligte robynrooi kleur met fyn borreltjies en vars vrugtegeure van aarbeie, swartbessies en eksotiese speserye. Heerlik saam met charcuterie en kerries. R59.

Vriesenhof Unwooded Chardonnay 2018

Dié wyn wat in Februarie vrygestel is, is lig en verfrissend en propvol vrugtegeure. Wynmaker, Nicky Claassens, sê hoewel die droogte-toestande ‘n invloed op die vrug gehad het, is die vrug waarvan hierdie wyn gemaak is, pragtig en kompak. Die wyn is ryk aan karakter en styl met aromas van sitrus, appelliefie, peer, wit perskes en sitrus. R100.

False Bay Revenant Red 2017

Die klassieke rooiwyn is ’n versnit van 80% Cabernet Sauvignon en 20% Cinsault, wat die pragtige, komplekse vrugte van die koeler Helderberg-streek vertoon, maar ook die mond koester met ’n sagte en geïntegreerde tannien-profiel. Revenant Red is by Waterkloof teen R100 per bottel beskikbaar en is landswyd te kry by van Suid-Afrika se beste restaurante.

Robertson Winery Constitution Road Shiraz

Die lieflike rooiwyn het ‘n diep pers kleur en ryk aromas van swartbessies en pruim omvou deur speserye en donker sjokolade. Bedien saam met ‘n gebraaide varkskouer met ‘n pruimsous, ‘n peperfilet met bloukaas en uiesous, ‘n lamsrak wat in kruie gerol is of wildsvleis. R220.

Roberston Winery Constitution Road Chardonnay

Dié wyn is onder meer bekroon met die Michelangelo International Wine Awards 2018 Dubbelgoud, Chardonnay Du Monde 2018 Silwer en die Vitis Vinifera Awards 2018 Goud-toekennings. Die wyn het ‘n neus van sitrus, roosterbrood met botter, marmalade en vanielje. Op die palet word peer, sitrus en botterkaramel geproe. Heerlik saam met geroosterde garnale, salm en hoender. R150.

Leer ken die landgoed

Nederburg is weer eens ingesluit in die top 50-lys van die The World’s Most Admired Wine Brands van die gesaghebbende VK-gebaseerde publikasie, Drinks International. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat dié bekende Paarlse wynlandgoed hierdie lys haal. Nederburg is een van slegs twee Suid-Afrikaanse wynhandelsmerke wat vanjaar op die lys ingesluit is. Die lys is saamgestel deur meer as 200 van die bekendste en invloedrykste mense in die globale wynbedryf. Volgens Drinks International verg dit volgehoue of toenemende gehalte; ’n weerspieëling van die streek of land van oorsprong; ’n positiewe reaksie op die behoeftes en smake van die teikenmark; uitstekende bemarking en verpakking; en gewildheid onder ’n breë demografie om die top 50-lys te haal. Nederburg se sukses as een van Suid-Afrika se mees geloofde wynhandelsmerke is gebou op ’n ryk geskiedenis en tradisie van wynmaak-uitnemendheid wat oor meer as 200 jaar strek. Die talentvolle keldermeester, Andrea Freeborough, lei tans die hoogs opgeleide span wynmakers en is boonop pas aangestel as die hoof-wynmaker van die Distell Groep en sal vanaf Junie hierdie leisels oorneem.

Sjefstafel

Die Gabriëlskloof Restaurant by dié landgoed in die Overberg het pas hul swartbord-spyskaart vir die wintermaande bekendgestel. Hier smul jy aan kontreikos op sy beste.

Guy Bennet is onlangs aangestel as die hoofsjef by die Gigi Rooftop Restaurant by die Gorgeous George Hotel in Kaapstad. Probeer gerus The Fig, een van Guy se kenmerkende seisoenale disse.

Belthazar Grill & Seafood Restaurant & Wine Bar by die V&A Waterfront in Kaapstad spog met die grootste ‘wyn by die glas’- versameling in die land en net die beste vleissnitte word hier bedien.

2019-05-14T13:13:15+00:00