Geloof het ‘n adres

‘n Baken van hoop

Deur Lizette Murray | Foto’s Hanneri de Wet

By die Bonne Esperance-gastehuis op Stellenbosch, leef bestuurder en mede-eienaar, Annemien Kotze, haar liefde vir God én mense uit.

Ek hou onder die bome langs die Bonne Esperance-gastehuis stil. Dis tienuur. besoekers met sakke en oornagtasse op wieletjies stap na hul motors. Hulle groet mekaar. Die onderlinge gemoedelikheid val my op.

“Hopelik sien ons mekaar weer hier. Goedgaan!” roep iemand met die waai van ’n hand. 

Ek stap al met die paadjie tussen salies en malvas en gesnoeide struike en inheemse waterwys-plante deur. Onder ’n koelteboom  staan ’n houttafel met stoele. Daar is ’n prieël met rankers. Voëltjiebaddens. Netjies-geknipte heininkies. ’n Pot met vetplante.

’n Tipiese ou-Bolandse Victoriaanse tuin, dink ek. Ek stap op met die stoeptrappies. Annemien Kotze, Bonne Esperance se bestuurder, kom by die groot voordeur uit en verwelkom my op die breë stoep met sy gietystertraliewerk.

Victoriaanse grasie

Die prominente spits daktoring met sy klein venstertjies, die houtraamvensters met hul hortjies, die koel voorportaal met sy ronde houttafel, antieke stinkhout-linnekas en moderne hanglig verklap die stylvolle hartlikheid  wat kenmerkend van die hierdie statige Victoriaanse woning is.

Bonne Esperance is inderdaad ’n voorbeeld van die laat-negentiende eeuse boustyl waar welvaart vergestalt is in breë stoepe, “broekiekant”-verandas, houtvloere en ruim vertrekke met  hoë staalplafonne.

Ons sit by ’n teetafeltjie in die ruim eetkamer met sy lang tafel. Die blou-en-wit teepot en koppies pas by die wit en grys en tinte donkerblou van die vertrek.

Bonne Esperance beteken Goeie Hoop in Frans. In Spaans is dit “Buena Esperanza” en in Italiaans is dit “Buona Speranza”.Vir oorsese gaste is die bekendheid van die naam dadelik ’n aansluitingspunt. Dit suggereer iets van goedheid en ’n aangename verblyf weg van die huis. Iets daarvan dat daar aan jou verwagtinge voldoen gaan word.

“Ek het gewonder waar ek gaan begin wanneer ek iets oor Bonne Esperance vertel. En toe besluit ek om doodeenvoudig my getuienis stappie vir stappie met jou te deel,” sê Annemien.

“Ek was van kleins af reeds lief vir onthaal. Vanaf twaalfjarige ouderdom het my ma my toegelaat om self spyskaarte vir gaste op te stel. Sy het saam met my gegaan wanneer ons die voorrade aankoop. Dan het sy groepies vriende oorgenooi. Ek moes al die kos self maak. My kleinsus het bedien – kompleet met wit servet oor die voorarm. My ma het boek gehou van al die etes, met die spyskaart van elk, asook wie teenwoordig was. My pa het geglo ’n mens gesels nie sommer net bolangs nie. Daar moet ook in diepte gesprek gevoer word. Hy het dus vooraf interessante gespreksonderwerpe uitgedink.

Annemien is steeds dankbaar vir die voorreg om as een van vier kinders in ’n gesin te kon grootword waar ouers die Here geken en gedien het.

“Voorin my eerste Bybel het my pa Romeine 12:2 geskryf. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

“Dis vandag nog vir my ’n rigsnoer. Ek moet voortdurend my gedagtes vernuwe en op Hom rig. Dit geld in alle omstandighede.”

“Ek moet voortdurend my gedagtes vernuwe en op Hom rig. Dit geld in alle omstandighede.”

God loop voor

 Tussen die teedrink vertel Annemien verder: “Ek het Verbruikerswetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Dit het my voorberei vir die gastehuisbedryf, al was dit nie tóé my oogmerk nie.

“God het oral langs my lewenspad vir my rigtingaanwysings gegee. Toe my man Danie vaste sekerheid wou kry of hy my moes vra om te trou, het hy die Here gevra om vir hom uit die Bybel bevestiging te gee. Hy het besef dat hy nie sommer lukraak deur die Bybel kon blaai in die hoop dat sy oog op iets val nie. En tog was God getrou. Danie het by ’n foto van ons twee oopgemaak wat by Spreuke 18:22 ingesit was: Wie ’n vrou kry, vind geluk en geniet die goedheid van die Here.

“Vir my was Prediker 4:9-12 ’n bevestiging. Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

“Ons is in 2005 getroud en is Bloemfontein toe waar Danie as siviele ingenieur by ’n firma gewerk het. Ek was sjef  by ’n onderneming wat kos by huweliksonthale verskaf  het. Harde werk! Toe iemand my die moontlikheid van ’n aandeel in ’n koffiewinkel aanbied, was ek dadelik entoesiasties. Ek het my werk bedank en na ’n geskikte plek met die regte atmosfeer begin soek. Toe ek uiteindelik die ideale plekkie in Westdene, Bloemfontein, raakloop, het my weldoener gesê dat ek altyd moet onthou dat daar nooit kortpaadjies gevat mag word nie. In besigheid moet alles volgens die reëls gedoen word. Wat jy saai sal jy maai. Die dag toe ek die kontrak wou teken, het ek besef alles is nie pluis nie. Ek het toe nooit die koffiewinkel gekoop nie. Maar in my hart het ek geweet dis die regte ding om te doen.”

God het voorsien. Annemien was sonder werk, maar Danie het twee keer binne ’n jaar ’n onverwagse verhoging gekry. Dit was dit ’n besondere nadinktyd en voorbereidingstyd vir haar. Toe iemand haar aan die einde van 2006 nader om te hoor of sy sou belang stel om ’n aandeel in Bonne Esperance te koop, was sy gereed. Danie het feitlik oornag die werk in Stellenbosch gekry waarvoor hy hulle reeds lankal gehoop en gebid het. Hul studentedroom, om in Stellenbosch te woon, het waar geword.

In Januarie 2007 het Annemien saam met drie vennote Bonne Esperance as gastehuis gekoop nadat dit in die mark gekom het. Haar pa – wat terminaal siek was – het by haar aangedring dat hy graag die gastehuis wou besoek. Hulle het hom met ’n rolstoel tot in die eetkamer gestoot. Daar het hy ’n seënbede oor die gastehuis en Annemien en haar vennotese betrokkenheid daarby uitgespreek – net soos die stamvaders en gesinshoofde in Bybelse tye. Drie weke later is hy oorlede. Na twaalf jaar is Annemien steeds bewus van God se seën op die roeping wat sy hier uitleef.

“Hulle moet my Christenskap kan raaksien in die manier waarop ek bly hoop. Dis my roeping.”

Koninkrykswerk

Annemien het ’n baie goeie verhouding met haar werknemers. Terwyl ons deur die gastehuis loop, groet die personeel vriendelik waar hul die kamers skoonmaak en beddegoed ruil. Die oggendson stroom deur die vertrekke en laat die ou houtvloere glim. Oral teen die mure is skilderye, onder andere een wat Annemien se ma geskilder het nadat hul vier kinders uit die huis is en die leë nes-gevoelhaar oorval het. Die fokuspunt van die skildery is die woorde: All the days that came and went little did I know that it was life. ’n Herinnering om elke dag ten volle te geniet en te waardeer.

Annemien en Danie het drie kinders: Daniël (9), Mienke (7) en Joshua (5). Vir hulle as ouers is elke kind ’n unieke geskenk van God. Hulle vind groot vreugde daarin om hul kinders se uiteenlopende gawes en talente te ontdek en hulle aan te moedig om dit te ontwikkel.

“Die grootste geskenk wat ons vir hulle kan gee is om hulle te help om hul identiteit in Christus te vind. Ons sien daarna uit om te beleef hoe elkeen in Sy koninkryk gebruik gaan word.”

Die geskiedenis van Bonne Esperance loop parallel met die wel en weë van gesinne. Vandat dit in 1907 gebou is, was dit die tuiste van ’n hele paar families. In 1955 is dit deur die Slabbert-gesin omskep in ’n studentehuis. Vele Maties onthou die heerlike huiskos wat die streng, maar moederlike mevrou Slabbert in Bonne Esperance se kombuis gekook het.

Bonne Esperance is veel meer as ’n gastehuis met oornaggeriewe vir moeë besoekers. Hier beleef gaste ’n gevoel van ‘huis weg van die huis’.

Die sorg, toewyding en liefde om ’n huislike atmosfeer vir die gaste te skep, is sigbaar in klein detail, soos byvoorbeeld ‘n ry Nederlandse porseleinhuisies op die kaggel; die groen loof in glaspotte; die gesellige vertrekke waar oud en nuut knus langs mekaar staan.

In 1990 is die Bonne Esperance-gastehuis deur die vorige eienaars gerestoureer om die Victoriaanse karakter tot sy reg te laat kom.

Die ekstra vleuel met kamers wat in die sestigerjare aangebou is, skep ’n natuurlike binnehof waar gaste langs die swembad kan ontspan. Vanuit die skuifraamvensters kyk jy uit op dié beskutte oase. Veral oorsese besoekers kan nie genoeg van die milde son, blou lug en lieflike groen tuin kry nie.

In 2018 het Bonne Esperance twee prestige-toekennings gekry, onder andere die Tripadvisor.com-sertifikaat van uitnemendheid vir een van die top 10% toerisme-ondernemings in die wêreld. Dis ook deur die gaste op booking.com as die beste driester-hotel in Stellenbosch aangewys.

Desondanks is Annemien se hoofdoelwit steeds dat Bonne Esperance ’n plek van hoop vir elke gas sal wees.

“Hoop is so ’n belangrike element van ons verhouding met God. In die Bybel word baie klem op liefde en geloof gelê. Hoop is die klein woordjie tussenin. Byna weggesteek, soos in 1 Korintiërs 13:13: En nou: geloof, hoop en liefde … Bybelse hoop is ’n God-versekerde verwagting en begeerte na Sy goedheid in die toekoms.

“In my gastehuis – waar ek nie noodwendig met elke gas oor God kan praat nie – moet ek hoop uitleef. Hulle moet my Christenskap kan raaksien in die manier waarop ek bly hoop. Dis my roeping.

In ’n wêreld waar mense dikwels uitsigloos lewe, word Annemien ’n hoopgewer, en Bonne Esperance word ’n baken van hoop – in die hartjie van ’n bedrywige studente- en toeristedorp.

2019-04-30T17:21:20+00:00