Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

My tienjarige kleindogter roep my nou die dag om alleen saam met haar in haar kamer te gaan speel. Sy maak die deur agter ons toe en begin haar speelgoed vir my wys. Elke poppie en kosbare klippie en glasskerfie; elke vlindervlerk en gebreekte spikkel-eier; elke kettinkie en armbandjie en blinkrooi hartjie-oorbelletjie word versigtig uit sy eie boksie gehaal. Die veelkleurige houer met die stapeltjie briefies en kaartjies word uitgepak. Dan vertel sy by wie sy elke kosbaarheid gekry het of waar sy haar natuurvondse ontdek het.

“Maar,” fluister sy, “Ouma mag vir niemand van my geheimste geheime vertel nie.”

Sy haal ’n houtkassie wat met ’n klein slotjie toegeluit is, uit. In die kassie is ’n onder andere ’n boekie waarin sy haar geheime neerskryf. Dis net vir haar eie oë bedoel.

“Nie eers Ouma mag dit lees nie.”

Ek dink terug aan my eie dagboek wat ek as kind onder my kopkussing of tussen my skoene weggesteek het. Ek onthou die behoefte aan “Net myne”. En die tinteling van opgewondenheid dat niemand anders as nét ek weet wat in my dagboek staan nie. Selfs wanneer iets besonders gebeur het, was dit vir my lekker om eers alleen die gedagte te koester.

“Partykeer voel dit vir my asof ek bid wanneer ek iets neerskryf wat my hartseer of bly maak,” sê nog ’n dogtertjie.

“Ek weet Jesus lees wat ek skryf. Hy weet mos alles. Partykeer is my dagboek  soos ’n brief vir Hom.”

Hoeveel ontneem ons nie ons kinders deur alles wat hulle doen aan die groot klok te hang nie?

Kinders word verleë wanneer ’n ma of ouma hul uit die bloute vorentoe stoot en aanpor: “Ag, toe! Sê gou vir die tannie daardie mooi gediggie van die kat op.” Of: “Sing vir Oupa die liedjie wat jy nou net vir my gesing het.”

Hoeveel ontneem ons nie ons kinders deur alles wat hulle doen aan die groot klok te hang nie? Is dit werklik nodig dat bekend en onbekend op sosiale media ingelig word dat my kind die hoogspringkampioen is, of eerste in sy klas staan?

Ons het al die media tot ons beskikking om elke mylpaal te verewig. Natuurlik is dit ’n voorreg en lekkerte om ná ’n vakansie weer na al die gelukkige familie-oomblikke te kyk en die samesyn te herleef.

Maar. Bêre ons nog genoeg gedagteprentjies in ons diepste geheue-laaitjies weg? Laat ons daardie unieke, kosbare oomblikke onuitwisbaar in ons harte inbrand – sonder om dit op ’n skerm vas te lê? Maak ons slegs op vlietende foto’s en video-insetsels staat om ons aan gevoelsbelewenisse te herinner? Doen ons ons kinders ’n guns om die sosiale media as dagboeke van hul lewensloop te gebruik?

Wat sou hul doen indien hul self hieroor kon besluit? Dalk sou hul ’n dagboek met ’n slotjie en geheime sleutel onder ’n kopkussing verkies.

En dalk is dit eintlik wat ons ook wil hê– om onsself volkome aan ’n oomblik te kan oorgee – sonder om eers ons hare (en glimlag) reg te trek vir ’n foto.

Here Jesus, help ons as ouers om ons kinders nie onnodig en onnadenkend bloot te stel nie. Help ons om hulle altyd te koester en om hulle te beskut teen dinge wat hulle kan benadeel. Laat ons hulle behoefte aan privaatheid nie misken nie. Amen

2019-04-30T20:14:44+00:00