Kuns van Lééf

In geloof

Deur Amanda de Lange | Foto’s Hanneri de Wet

Vir skilder, Irene Mynhardt (34) van Hopetown in die Noordkaap is haar kuns die uitleef van God se roeping vir haar lewe.

“Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.” Irene Mynhardt, 34 van Hopetown in die Noord-Kaap, het hierdie woorde uit Sagaria 4:10 geleef in haar reis as kunstenaar. En dit het haar gedien, want vandag is sy in staat om haar liefde vir die skilderkwas as ’n loopbaan uit te leef op meer vlakke as wat sy ooit kon droom.

Irene het as kind reeds haar liefde vir kuns ontdek, toe sy eensaam haar hartseer alleentye gevul het deur prentjies te teken. In haar grootwordjare was daar nie geleentheid om kuns as ’n vak te neem nie. En, as jy nie kuns op skool gehad het nie, kon jy dit nie op universiteit studeer nie, verduidelik sy.

“Ek het nie gedink ek kan ’n loopbaan uit kuns maak nie. Dit was nie ’n opsie nie, want niemand sou dit vir jou aanbeveel nie. Maar as kind was dit altyd vir my die lekkerste ding om te teken of enigiets kreatief te doen.”

Siende sy nie kuns kon studeer nie, het Irene besluit op ’n loopbaan in die onderwys. Ses jaar lank het sy by die plaasskooltjie op Hopetown klas gegee vir graad 3, 4 én 5 – gelyktydig. Dit het kophou gekos om vir elke kind te gee wat hulle nodig het, en ná ses jaar het sy gevoel sy het iets van haarself verloor. “Dit het gevoel of ek binne doodgaan. Dit is ’n stelselmatige proses; ’n mens raak amper depressief as jy jouself nie kan uitleef nie.”

Keerpunt

In 2010 het Irene besluit om verf en kwaste te gaan koop. Op Hopetown self, was daar niemand wat kunsklasse gegee het nie. Sy het begin verf. “Dit het my so bietjie aan die gang gehou,” vertel sy. “Ek het geverf en mosaïekwerk gedoen. Daardie bietjie skep het my gehelp. Ek het nooit gedink aan skilder nie, alhoewel ek van die fyn detail daarvan hou.”

Die keerpunt het gekom toe sy ervaar het die Here wys vir haar sy steek haar talente onder ’n maatemmer weg. “Ek was altyd bewus hiervan, maar ek het nie geweet hoe om dit na vore te bring nie.”

Die ommeswaai het nie in ’n dag gebeur nie, “dit was ’n hele proses wat dit na vore gebring het”. Maar op ’n dag, oorweldig deur desperaatheid, het sy albei haar klein kindertjies in die kar gelaai en na haar sus op Jacobsdal gery om te gaan leer wat sy kon. “My man was nie daar nie en my suster het ’n skilderkursus bygewoon. Ek het vir haar gesê ek kom nou na jou toe, jy moet vir my die basiese dinge leer, want ek kan nou nie meer nie. Ek moet iets anders doen as skool gee. Binne twee dae het sy vir my die basiese dinge van skilder geleer, soms so met die kleintjie op my heup,” lag sy.

Dít was die keerpunt. Irene het teruggegaan huis toe en dadelik begin toepas wat sy geleer het. Hoewel sy steeds nie aan skilder as ’n beroep gedink het nie, het sy in alle erns begin skilder. Sy het ook begin om die vroue op Hopetown te leer wat sy weet en vir kinders begin kunsklasse gee. Totsiens, onderwys!

“Ek het daarmee begin en gedink ek sal net daarmee aangaan.” In die proses – en met nog kursusse hier en daar – het haar talent het al hoe meer ontwikkel. “Een ding het na die ander gelei.”

“Hy het my belowe Hy sou die verlore jare teruggee en vir baie lank moes ek net daaraan vashou en vashou.”

Kuns as loopbaan

Soos wat haar kliëntebasis gegroei het en al hoe meer mense haar werk gekoop het, het die besef gekom dat hierdie ’n loopbaan kon word. Irene skilder meestal in akriel op doek en deesdae word haar werk ook op materiaal, as Bybelsakke en selfs op potstaanders gedruk en landwyd aan gastehuis en winkels verkoop. “Ek kan nou nog nie eintlik glo dis my beroep nie. Dis soos ’n droom wat waar geword het. Toe ek begin het om klas te gee vir die kindertjies en die vroue op Hopetown het ek geweet ek is op ’n pad wat die Here wil hê ek moet stap. Ek het geweet die Here wil my in kuns hê. Hý het vir my die talent gegee – of dit beteken het dat ek net klasgee en hier en daar iets skilder, het ek nie geweet nie. Maar terwyl ek klas gegee het, het ek self ook geskilder en mense het my begin vra om vir hulle skilderye te maak. Van daar af het dit net gesneeubal.”

En toe sy haar oë uitvee, het die klein begin omgesit in ’n heeltydse werk. Stukkie vir stukke het die deurbrake gekom, tot die dag waar sy haar kuns na ’n handelskou geneem het en kon sien dat ander ook dink haar werk is goed.

“Ek het verskriklik goed gedoen daar en ek kon dit eintlik nie glo nie, want skilder is so ’n alleenwerk … dis lekker, maar jy sien net jou eie goed en jy weet jy woon op Hopetown en die enigste kritiek is dié van jou vriendinne. Maar wanneer jy uitgaan en jy hoor wat ander mense van jou goed sê, is dit baie bevredigend. Dit is ’n heerlike gevoel. Maar die heel beste, die heel lekkerste gevoel is om te sien hoe mense reageer elke keer wanneer ’n skildery uitgaan na hulle toe. Terwyl ek skilder bid ek oor die skildery en ek kry Woord daarvoor. En om hulle reaksie daarop te sien, en te weet ek het reg gehoor by die Here … dít is die lekkerste van alles.”

“Die Here sê mos so. En ons moet in geloof stap.”

Om na Hom te luister

Met elke skildery volg sy die proses om te kyk wat die simbole in die skildery is waardeur die Here kan praat. “Maar gewoonlik kry ek heel eerste die Woord, nog voor ek die simbole raaksien. Dan lig ek net uit wat die Here daardeur wil sê deur dit vir mense uit te wys.”

’n Sterk geestelike grondslag is wat vir Irene die deursettingsvermoë gegee het om deur die moeilike tye in haar lewe te kom. “Ek het moeilike kinderjare gehad; as kind het ek baie alleen gevoel. Toe reeds was kuns vir my ’n ontvlugting uit die werklikheid. Ek het baie alleen gevoel, ek was baie verwerp en dít het my op ’n jong ouderdom baie ná aan die Here gebring. Op universiteit het ek my eerste werklike ‘geestelike ontploffing’ beleef. Ek was weg uit daardie omstandighede en geestelik het ek baie meer gegroei omdat ek geestelike leiding gehad het.

“Daar was baie dae wat ek gevoel het ek het net die Here, ek het net gebed. En daarom is die Here vir my regtig ’n groot werklikheid in my lewe. My verhouding met Hom was partykeer al wat ek gehad het. Nou is dit anders, ek het ’n wonderlike gesin.”

In haar alleentye was dit die beloftes van die Here wat haar deurgedra het. Irene het met mag en mening vasgehou daaraan. Een was dié in Joël 2:25 wat sê “Ek sal opmaak vir dit wat julle verloor het …”

“Hy het my belowe Hy sou die verlore jare teruggee en vir baie lank moes ek net daaraan vashou en vashou. As ek nou sien hoe die Here vir my ’n wonderlike gesin gegee het, kan ek sien hoe Hy besig is om alles te herstel. Dit is asof Hy stukkies glas gevat het en ’n mosaïek daarvan gemaak het; my hart op ’n mooi manier heelgemaak het. Ek stap ’n baie nou pad met die Here, want Hy is regtig vir my ’n werklikheid; Hy is my hartklop.”

Sy het ook geleer om haarself oop te stel om te hoor hoe die Here met haar wil praat, vertel Irene. “Ek dink die Here praat die hele tyd met ons, ons moet net ons oë en ore oopmaak. Hoe meer tyd jy het om stil te raak … ek dink ons lei ’n vreeslike gejaagde lewe. Dit is hoekom kuns vir my so lekker is, want dit dwing my om stil te sit en stil te raak. Dit is net jou eie gedagtes en dit gee jou tyd om met die Here te praat.”

’n Gejaagde lewe … op Hopetown?

Irene skater van die lag. “Ja, julle kan julle dit nie indink nie. Ons het net nie verkeer nie, maar ons het ook beroepe, hoor. Ons moet ook opstaan en goedjies doen.”

Dus nie stilsit op die stoep en kyk hoe die son oor die plaas opkom en sak nie?

 “Nooit, ooit!” lag sy. “Wat dink jy doen ons? Ek werk party aande tot middernag. Almal het maar beroepe, al is dit ’n effens rustiger lewe hier. Ons woon by die Oranjerivier, dus kan ons naweke met die kinders gaan ski en visvang. Ek skilder elke dag en probeer om elke week ’n skildery klaar te maak. Die groteres neem tot twee weke, want ek werk baie detail daarby in.”

So tussen klasgee, skilder en ma en eggenote te wees, glo dié pragtige, borrelende vrou dat die toekoms net belowend is. “Die Here sê mos so. En ons moet in geloof stap.”

Dít terwyl sy immer een droom in haar hart koester: “Dat die Here altyd deur my sal praat. Dat ek altyd kan doen wat ek doen. Dat my kuns ’n platvorm vir die Here kan wees. Ek wil ’n instrument in sy hande wees. Ek wil eendag voor Hom staan en hoor dat Hy sê, ‘goeie en getroue dienaar. Jy het die werk gedoen wat ek vir jou gehad het’.”

Dis al.

2019-04-30T18:48:26+00:00