Lééf as gesin

Bou só gesonde gesinsverhoudings

Deur Johan Smith | Foto Hanneri de Wet

Die realiteit van diskonneksie in gesinne vandag is nie ’n mooi prentjie nie. Wat kan jý as ouer doen om dit te verander?

Vinniger as ooit

Die taal van ons tyd is spoed. Die taal van ons tyd is vinnig. Die taal van ons tyd is haastig en gejaagd. Soveel mense, soveel ouers en kinders, en daarom gesinne, praat dié taal en is daarom besig om al hoe verder van mekaar te dryf. Jonk en oud raak al hoe meer verslaaf aan vinnig en haastig. Dit plaas geweldige druk op die reeds baie brose verhoudings in gesinne vandag. Baie ouers verkeer onder die indruk dat hulle juis ter wille van hulle kinders besiger moet wees, harder moet werk en meer moet doen. Dis ’n absolute illusie.

Jou kind soek meer van jóú, nie meer van jou besig-wees nie. Jou kind soek meer van jou menswees en minder van jou geld en besittings. Jou kind verlang na jóú.

Die statistieke oor ontspanning is skokkend. In die VSA sê meer as 14% van die bevolking dat hulle geen tyd kry om te rus of ontspan nie. 40% sê dat hulle baie min tyd het vir ontspan. 65% van werkende ma’s is desperaat oor te min of geen tyd vir ontspan, terwyl 55% van werkende pa’s voel hulle val in dié kategorie. Ontspanning raak ’n luukse, en die moderne mens se verhoudingslewe ly daaronder, beginnende by huweliksmaats en die gesin. Ons skeep mekaar af, en dis dalk nodig dat iemand dit hard, reguit en eerlik sê: Dis nie goed nie. Dit beskadig jou en die mense rondom jou.

In die baie gejaagde en kompeterende kultuur waarin ons vandag leef, is die dinge wat afgeskeep word dinge soos om as gesin saam te eet, om te kuier om ’n braaivleisvuur, om vir naweke saam weg te gaan of om kwaliteit vakansies saam te hê. Waar is die sogenaamde ‘konnekted’ waarvan almal praat? Dis uit by die agterdeur. Dit verdwyn soos mis voor die son as gevolg van haas en kompetisie.

Die een statistiek wat ek nooit hoef op te soek nie, maar wat in my kop en hart gegraveer is, is dit wat die bekende skrywer Leonard Sweet in sy boek From Tablet to Table sê. Sestig jaar gelede was die gemiddelde aandetetyd negentig minute om ’n tafel. Vandag is die gemiddelde aandetetyd twaalf minute. En ek weet dat daardie twaalf minute grotendeels ook nog voor die televisie gebeur. Ek wil my hande in die lug gooi en desperaat uitroep: “Hoe op aarde kan jou gesin gesond wees as dít waar is van jou huis?”

Die een ding wat Leonard Sweet egter ook skryf wat hom – en my – baie hoop gee, is dat ten spyte van die baie slegte en negatiewe statistieke, almal, oud en jonk, vandag meer as ooit smag na dieper, intieme verhoudings.

Die gesin is in gevaar

Gesinsverhoudings is vandag meer as ooit in die spervuur. Dit gaan oor veel meer as net die misbruik of oorgebruik van tegnologie. Reeds in 1994 het die bekende Amerikaanse politikus Hillary Clinton in ’n toespraak op Moedersdag gepraat oor die tradisionele gesin wat nie meer bestaan nie. Daarin het sy verwys na Sondagaand-gesinsetes wat deur nasionale telefoonkonferensies vervang is. Sy verwys in haar toespraak daarna dat ooms, tannies, oupas en oumas vervang word deur baba-oppassers en dagsorgsentrums. Dit was in 1994!

As jy dink dit is erg en uitdagend, neem kennis van die psigiater David Cooper se boek The Death of the Family wat reeds in die sewentigerjare verskyn het en mense aangemoedig het om die tradisionele gesin te verwerp en dit te vervang met nuwe vorme van menseverhoudings. Alvin Toffler, die outeur van Future Shock, topverkoper van die sewentigerjare, het ook die uiteindelike dood van die tradisionele gesin voorspel.

Gesonde gesinne word al lankal bedreig. Die egskeidingsyfer is geweldig hoog en baie huwelike word bedreig deur ontrouheid, alkoholisme en ander vorme van verslawing. Ons het nodig dat mans en vroue weer toegewyd raak aan mekaar in die huwelik. Ons het nodig dat ouers en kinders, wat almal smag na intieme verhoudings, weer toegewyd raak aan mekaar, met innige liefdesbande en sterk verhoudings. ’n Nuwe vlak van konnekted-wees is nodig.

Uit navorsing kan ons sien dat veral seuns te veel tyd spandeer aan video- en rekenaarspeletjies.

Wat van tegnologie en media?

 In ’n belangrike studie wat gedoen is deur dr. Leonard D. Aaron het hy ’n groep kinders uit Amerika, Australië, Finland, Israel en Pole op drie verskillende ouderdomme bestudeer: op agt, negentien en uiteindelik dertig. Die bevindings in al die lande was dieselfde: Hoe meer die deelnemers geweld op televisie gesien het toe hulle agt jaar oud was, hoe meer geneig was hulle om misdade te pleeg op die ouderdom van dertig en hoe meer aggressief was hulle gedrag nadat hulle alkohol gebruik het.

Die bekende dr. James Dobson, familie- en gesinskenner, het reeds in 2000 gepraat oor die noodsaaklikheid van ’n televisiebeleid in die gesin. Dis nou amper twintig jaar later en tegnologie omsluit nou baie meer as net televisie. Die uitdagings en gevare van tegnologie en sosiale media op gesinsverhoudings is vandag soveel meer en groter.

Peggy Charren, ’n Amerikaner wat haar beywer het om kindertelevisie in Amerika meer aanvaarbaar te maak, het gesê ouers laat toe dat vreemdelinge hulle kinders beïnvloed deur beheer oor te gee aan ’n vreemdeling op ’n televisieskerm. Dis waar: Ons kinders word op groot skaal aan seks en geweld blootgestel, terwyl die ure voor die televisie en ander skerms gesinsverhoudings verder nadelig beïnvloed.

Uit navorsing kan ons sien dat veral seuns te veel tyd spandeer aan video- en rekenaarspeletjies. Dogters maak hulle skuldig aan te veel tyd met sosiale media. Dis alles tyd wat beter benut kan word in sinvolle kommunikasie met mekaar, tyd wat meer opbouend benut kon gewees het ten opsigte van verhoudings.

Leer by die kenners

 Ek leer graag by die ware kenners, en ek dra baie graag dít wat ek in navorsing ontdek oor aan ander ouers. En wie is die ware kenners as dit by rekenaars en media kom? Ek dink nogal die volgende twee families kan in die tegnologie- en media-wêreld as ware kenners en voorlopers beskou word: Steve Jobs en Bill Gates.

In ’n onderhoud met die New York Times het ’n verslaggewer vir Steve Jobs, vader van Apple, die volgende vraag gevra: “So, your kids must love the iPad? Jobs se antwoord was: They haven’t used it … We limit how much technology our kids use at home”. Ek kan nie help om te wonder of Steve Jobs dalk iets weet wat ek en jy nie weet nie. Boonop, baie belangrik om te weet is dat dit bekend is dat Steve Jobs en sy gesin elke aand saam geëet het by ’n lang tafel in hulle kombuis en oor verskeie boeke en ander sake gesels het.

Bill Gates het sy kinders maksimum 45 minute skermtyd per dag toegelaat. Oor naweke is ’n vergunning van een uur gemaak. Hy het wel addisionele tyd vir huiswerk op die rekenaar toegelaat. Weereens vra ek vir myself: Wat weet hierdie kenner en leier op die gebied van rekenaars en tegnologie wat ek en jy nie weet nie?

Dr. Maressa Hecht Orzack was verbonde aan die Harvard Medical School-geaffilieerde McLean-hospitaal en het haar doktorsgraad gedoen oor rekenaarverslawing. Sy het bevind dat talle mense wat baie tyd spandeer aan sogenaamde ‘fantasy role playing games’, gewilde rekenaarspeletjies, eensaam is en voel dat hulle nie werklik behoort en inpas nie. Hierdie speletjies vorm die enigste manier waarop hulle in verhouding tree met ander mense. Praat van verhoudingsarmoede!

Die voorbeeld van ouers en die leiding wat die bestuur van tegnologie in die huis betref, word al hoe belangriker.

Meer tyd saam

 Dit is duidelik uit die navorsing dat almal na meer intimiteit in verhoudings smag. Daar is ’n verlange na beter en dieper kommunikasie. Dis egter skrikwekkend dat 24% van alle tieners tussen middernag en 05:00 in die oggend met vriende kommunikeer. Dis nie lekker om te lees dat 30% van alle tieners tussen 22:00 en 24:00 meer as tien keer per uur met mekaar kommunikeer nie.

Uit my jare lange ervaring met jongmense weet ek dat jou weerstand daardie tyd van die nag baie laag is, en dat die gesprekke nie oor wiskunde en wetenskap gaan nie.

Die Barna Foundation in Amerika, ’n wêreldbekende navorsingsinstituut, se navorsing oor jongmense gee ’n mens hoop vir beter en dieper gesinsverhoudings. Hierdie navorsing wys dalk baie meer van dit wat in ons kinders se harte leef en aangaan as wat hulle dade en liggaamstaal kommunikeer: “When we ask kids: “What’s the change that you would most like to see happen between you and your father?” the most common answer we got was: “We want him to spend more time with us and we need better communication. We really want to connect on a deeper, more intense level.”

Een van die mens se grootste vyande vandag is isolasie en gevolglike eensaamheid. In so ’n eensame wêreld is dit uiters belangrik dat die gebruik van tegnologie reg bestuur moet word – veral in huwelike en die gesin.

George Barna, stigter van die Barna Foundation, het jongmense jare gelede al beskryf as ‘overstimulated and underguided’. Tegnologie vererger die oorstimulering van vandag se jongmens. Hy het in 2008 by die Rethink-konferensie in Los Angeles gesê die een ding in die wêreld wat hy glo heroorweeg moet word, is die bestuur en die korrekte gebruik van tegnologie.

Behalwe vir die skade van die wan- en misbruik van tegnologie vandag, is die grootste skade verhoudingskade: Vriendskappe, huwelike en gesinne trek swaar as gevolg hiervan. Die voorbeeld van ouers en die leiding wat die bestuur van tegnologie in die huis betref, word gevolglik al hoe belangriker.

Craig Groeschel is in die kol wanneer hy die tydsgees en die mens van vandag beskryf: “We’re busy, but bored. We’re full, but empty. We’re connected, but lonelier than ever. We’re more connected online than ever, but we often feel more alone than we can describe.”

Uittreksel uit Bou gesonde gesinsverhoudings in ‘n virtuele wêreld deur Johan Smith met toestemming van CUM Christelike Uitgewers gepubliseer.

2019-04-30T17:23:59+00:00