Kuier by

Vaalplaas se ryke oes

Deur Dawid Yzelle | Foto’s Hanneri de Wet

Op ’n plaaswerf word daar immer spore getrap. En hoe meer die geslagte van dieselfde familie op ’n enkele werf, hoe dieper die spore.

Op Vaalplaas digby Caledon in die golwende Overberg-streek lê die spore diép. Soveel so dat Lampie Fick hom verplig gevoel het om die geskiedenis van sy familieplaas, vandag reeds 220 jaar onafgebroke in die Fick-familie se besit, vir sy kleinkinders neer te pen.

Mettertyd het dit egter duidelik geword: Die familiestamboom het dalk hier op Vaalplaas (vroeër Weltevreden) wortel geskiet, maar sy skaduwee het oor twee eeue heen veel wyer geval. Só het dit dan gebeur dat Lampie vyf jaar gelede begin skryf het aan In die Koelte van Eergister – die Ficksvan die Overberg (in 2018 uitgegee deur Erfenis Publikasies),’n hartsprojek wat nie net die verhaal van Weltevreden vertel nie, maar ook die stories van hulle wat help skryf het aan die geskiedenis van die Overbergse Ficks, wyd en syd.

In die Koelte van Eergister “lê die familielyne uiteen en vertel stories van almal oor wie daar stories is,” verduidelik Lampie (78), wat in ’n tyd van afgewaterde familietradisies onwrikbaar glo in die waarde van wéét waar jy vandaan kom.

En stories en staaltjies is daar in hierdie kleinood baie: Van die stamvader, Antonij Ficq, ’n Duitser van geboorte wat in die 1700’s sy heil aan die suidpunt van Afrika kom soek het, die tragiese verhaal van die briljante Willem Fieksen (Fick) wat advokaat wou word, maar verplig is om te kom boer omdat hy die familienaam gehad het, van ’n andersins versiende landbouleier wat boere in die vroeë 1900’s teen die “verskynsel van die traktor” gewaarsku het, tot die verhaal van ’n stille heldin in die joernaal van ’n plaasfamilie se lewe, ’n agtergrondfiguur wat nie op ’n podium gestaan het nie, “maar waarskynlik ’n heldin so groot soos dié wat in roem gehul was”.

En al is die man wat dit op homself geneem het om sy familie se verwikkelde geskiedenis in detail en met respek, deernis en humor aan te teken, self ietwat sku vir die kollig, is Lambert Hendrik Fick – boer, sakeman en oudminister – se eie verhaal net so vertelbaar soos dié van die karakters in sy boek . . .

Van die plaas tot die politiek

Ons kuier in Lampie se studeerkamer in die huis op Vaalplaas waar hy en sy vrou, Jeanne (74), woon, ’n hanetree van die “groot huis” wat uit die middel-1800’s dateer, waar hy self in 1940 gebore is en waar die Ficks ook hul drie kinders grootgemaak het.

Lampie het ná matriek op Caledon, diensplig in die lugmag en ’n landboudiploma kom boer. In 1963 het sy pa, Jan, hom vir ’n jaar oorsee gestuur om meer van boerderypraktyke in Australië, Nieu-Seeland, die VSA, Kanada en Brittanje te leer.

“In Nieu-Seeland het die skaaphonde daar my so beïndruk dat ek drie teelhonde ingevoer het,” vertel hy. Destyds was dit groot nuus, veral om die prys wat vir die drie betaal is – R500. Die Burger se opskrif was byvoorbeeld net een woord: “Duur!” Op die plaas, vertel Lampie, was daar ook net een woord: Fiasko! “Al opdrag waarop hulle gereageer het, was ‘Sit,’ want hulle kon net Engels verstaan!” vertel hy en lag by dié herinnering. Pa Jan, aan die anderkant, was nie beïndruk nie . . .

In 1966 is Lampie getroud met Jeanne Hofmeyr, ’n begaafde pianis en kunstenaar en die dogter van ’n bekende Johannesburgse regsfamilie. Jeanne, of Doekie soos haar mense haar noem, vertel: “Ek was ’n 17-jarige wat net in sport belanggestel het toe ek dié 22-jarige man tydens ’n somervakansie op Hermanus ontmoet het – nog pure kind, maar ek het dadelik geweet dat ek eendag met hom sou trou.” Vandag is die Ficks reeds 52 jaar getroud en die ouers van drie seuns en nege kleinkinders. Hul deernis en begrip vir mekaar wys dat hul huwelik presies dít is, ’n vennootskap wat in voorspoed gedy en deur teëspoed gesuiwer is.

Op Vaalplaas word daar op 2 000 ha met graan (koring, hawer, gars, kanola en lupine) en Dohne-Merino-skape (wol en vleis) geboer. Lampie se visie vir vooruitgang, het hom, soos vorige geslagte se leiersfigure en iniseerders, vroeg reeds as ’n leierboer in die Caledon-distrik en die destydse Kaapprovinsie gevestig. In die jare sewentig is daar dikwels in die media oor sy innoverende boerderypraktyke berig en was hy onder meer bestuurslid van die Kaaplandse Kleingraan-ontwikkelingsvereniging en dertien jaar lank direkteur van die Caledon-Riviersonderend-koöperasie.

Ook in die politiek het Lambert Hendrik in die spore van sy naamgenote gevolg. Die agterkleinseun van die Fick-stamvader was veldkornet, ’n politieke amp, en Lampie se oupa, óók Lambert Hendrik, was in 1915 met die stigting van die Caledon-tak van die Nuwe Nasionale Party aangewys as voorsittter en het in vier verkiesings, twee vir die Provinsiale Raad en twee vir die Volksraad gestaan. Helaas kon hy nooit teen die Verenigde Party wen nie.

Sy kleinseun bieg dat hy in 1981 met sy eie toetrede tot die politiek dus met sy “stert in die spreekwoordelike botter geval het” toe hy onbestrede NP-parlementslid vir Caledon geword het. Later sou hy in die parlement voorsitter van die staande komitee oor mineraal- en energiesake, en van omgewingsake wees. In 1993 word hy adjunkminister van binnelandse sake in pres. FW de Klerk se kabinet en tot 1999 in die Wes-Kaapse regering.

Die familiestamboom het dalk hier op Vaalplaas wortel geskiet, maar sy skaduwee het oor twee eeue heen veel wyer geval

Die waarde van ’n naam

Ná sy uittrede in 1999 het die Ficks 12 jaar in Johannesburg gewoon, waar Lampie sakebelange gehad het, maar in 2014 weer in die Overberg tuisgekom, kwansuis om af te tree.

Maar dan begin hy vertel van sy jongste projek wat hy met kenmerkende visie, entoesiasme en deeglikheid aanpak. Lampie staan aan die stuur van ’n span wat die Klein Swartberg-bewaringsgebied, sowat 10 000 ha by Caledon, se natuurlike plantegroei hervestig en met die oog op ekotoerisme die potensiaal ontgin van ’n 100 km-staproepe met minstens vyf verblyfplekke wat rondom die berg sal strek.

Soos Jeanne eenvoudig sê: “Hierdie man kan nie stilsit nie . . . ”

Lampie en Jeanne se oudste seun, Jan (52), skoondogter Deidre (49), en kleinkinders Brenda (25), “klein” Lampie (23), Jeanne (19) en Jan jr. (15) woon deesdae in die groot huis, nadat Jan in 1998 die boerderyleisels by Lampie oorgeneem het. Uiteindelik sal “klein” Lampie, die negende geslag, by Jan oorneem. Lampie verduidelik: “Die plaas kan nie verkoop word nie en die seun aan wie die plaas nagelaat word, kry eintlik net ’n werk vir die res van sy lewe.”

Servaas (51), die Ficks se naasoudste, en sy vrou, Heidi (50), woon in die Paarl saam met hul drie seuns, Servaas jr. (18), Lambert (24) en Wessel (22). Servaas staan aan die stuur van ’n konstruksiemaatskappy wat in Suider-Afrika sake doen.

Chris (47), die jongste, sy vrou, Liezel (44), en hul tweemankroos, Fourie (18) en Daniel (13), woon ook op dié Bolandse dorp en het soos sy ouer broer belange in die konstruksiebedryf.

Lampie sr. erken hy is dankbaar dat sy kinders sensitief is vir die tradisie van familievernoeming. “As jy deel is van ’n familie wat in ’n bepaalde gebied spore nagelaat het, veral ’n familie wat geslagte lank aan dieselfde grond gekoppel is, maar jy gee jy nie vir jou kinders familiename nie, ontneem jy hulle van ’n verbintenis met hul omgewing wat nie met geld gekoop kan word nie,” sê hy. “Dit sou ’n miskenning van die geskiedenis wees. Dit sou wees soos om ’n ou, geskiedkundige gebou met die grond gelyk te maak . . .”

“Dit is onmiskenbaar dat ’n Goddelike hand in die hele storie ingeweef is”

Genade oor generasies heen

Amper soos dit die geval met die groot huis op Vaalplaas was. In die laat jare sewentig het die Ficks besluit om die ou huis heeltemal te sloop en ’n nuwe in die plek daarvan te bou.

Die huis se oorspronklike bolgewels en rietdak het weliswaar reeds in ’n vorige geslag plek gemaak vir ’n hoër sinkdak met ’n solder waarin graan geberg kon word. Nietemin, die planne vir ’n heel nuwe huis was opgetrek, maar twee weke voor die bouery sou begin, het Lampie halt geroep. “Ek kon nie hierdie mure platstoot nie,” verklaar hy bloot, daardie tradisievastheid wat ook hier weer eens sterk deurslaan.

En tog, stewiger as enige mure, familiename of tradisies, staan daar in die storie van die Ficks van die Overberg ’n baken van Goddelike ingryping, glo Lampie. “’n Mens kan nie ’n enkele geslag noem as uitstaande boere of sakemense nie – die hele lot was in hul tyd suksesvol. En deurgaans verbind aan dieselfde grond. Dit is onmiskenbaar dat ’n Goddelike hand in die hele storie ingeweef is.”

Inderdaad, ’n storie verweef met genade, goeie gene en talente, met ’n bewustheid van die verlede, maar ook ’n visie vir die toekoms, en kennelik nog lank nie uitgeskryf nie . . .

* Vir meer inligting oor In die Koelte van Eergister, kontak Erfenis Publikasies by 076 608 8899 of stuur e-pos na stofbergstella@gmail.com

2019-04-08T17:59:47+00:00