Lééf mooi

Tydloos mooi

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet & verskaf

Elke lewensfase bring sy eie skoonheid mee. Met die regte sorg en roetine bly jy altyd mooi!

Skoonheid is tydloos en het niks met jou ouderdom te make nie. Jy behoort goed te lyk vir jou ouderdom – nié jonger nie. Want daar is niks mooier as ‘n goedversorgde vrou nie, ongeag haar ouderdom. Jou vel se funksies en behoeftes verander mettertyd. Jy behoort daarom jou velsorgroetine, gewoontes en grimering aan te pas soos die tyd aanstap. En onthou, ‘n gesonde leefstyl hou jou vel en lyf gesond en mooi!

40+

Ná 40 is ‘n teenverouderingsroom nie meer ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Die tekens van die tyd begin nou op die vel wys. Plooitjies en lyntjies wat nou sigbaar is, is waarskynlik daar om te bly. Nie net die binnekant van jou vel nie, maar ook die buitekant is aan’t verouder. Jou vel is nie meer so elasties en ferm soos voorheen nie en die kontoere van die gesig is aan die verander.

Wat nou met jou vel gebeur

*Plooie maak hul verskyning. * Die weefsel verstyf. * Die vel verloor sy elastisiteit. * Selvernuwing gebeur nou net elke 40 dae. * Die velkleur is minder eweredig as voorheen. * Bloedvaatjies lek, wat rooierigheid op die gesig veroorsaak. * Die vel is meer gedehidreerd.

Maar daar is hoop. Daar is talle teenverouderingsprodukte op die mark en saam met ‘n gesonde lewenstyl, aanpassings in jou eetgewoontes en ‘n reeks vernuwende en verfermende salonbehandelings kan jy steeds goed lyk. Belê in die beste velsorgprodukte wat jy kan bekostig. Jou vel het ál die hulp nodig wat dit kan kry, aangesien die vel se prosesse nou heelwat stadiger is as voorheen. Dit is nodig om die kollageen- en elastienproduksie van die vel ‘n ekstra hupstoot te gee met die hulp van aktiewe bestanddele wat die produksie daarvan verhoog. Kies produkte wat spesifiek geformuleer is om al die tekens van veroudering teen te werk.

Verlewendig jou vel

‘n Serum en masker sal nou tot jou redding kom. Gebruik ‘n serum soggens én saans. ‘n Bevogtigende, verfermendende teenverouderingsmasker behoort twee tot drie keer per week aangewend te word. Jy het nou meer as net vogroom nodig. ‘n Oogroom wat die oogkontoer verferm, is nou ‘n moet aangesien dit help om die oë soggens varser te laat lyk. ‘n Skroproom wat van dooie selletjies ontslae raak, bevorder nie net sirkulasie nie, maar laat ook die vel straal. Besoek ‘n skoonheidskliniek vir ‘n reeks afskilferingsbehandelinge. Moenie van die nek en décolleté vergeet nie. Die vel in jou nek verslap gouer as op die res van die lyf. Smeer elke dag ‘n nekroom aan wat die vel help verferm en voed.

Jou leefstyl

  1. Eet jou vel jonk. Pas eerder jou dieet aan as om onder die mes te beland. Veral salm, olierige vis en bessievrugte werk veroudering teen.
  2. Slaap maak jou mooi en gesond. Dit gee die liggaam nuwe krag en laat die vel jonger en lewendiger lyk. Bloedvaatjies vergroot terwyl jy slaap en bloed, ryk aan voedingstowwe, werk nou om die vel in sy diepste lae te herstel. Maak dus seker dat jy snags ‘n goeie nagrus kry.
  3. Drink daagliks ‘n voedselaanvulling wat help om die voorkoms van die vel te verbeter. Vitamien C en omega-3 stimuleer die vorming van gesonde elastien en kollageen.

50+

Jy’s vyftig plus, voel jonk en aktief en ontsien nou geen moeite om op jou beste te lyk nie. ‘n Paar lyne en plooie wys dat jy al geleef het. Nou beveg jy die tekens van die tyd met produkte en behandelings wat spesiaal vir jou behoeftes geformuleer is.

Hormone speel ‘n rol

Die menopouse het beslis ook ‘n uitwerking op die vel aangesien jou liggaam hormonaal nou dramaties verander. Die funksie van die eierstokke verminder en minder estrogeen word vervaardig. Dit veroorsaak ‘n verlaagde produksie van kollageen en elastien wat die vel op sy beurt dunner maak. Dit is dié weefsel wat sorg dat jou vel plomp en ferm bly. Hoewel jou vel nou reeds die tekens van die tyd wys, kan jy steeds goed lyk vir jou ouderdom. Sorg dat jy die beste van jou voorkoms maak en gebruik spesiaal geformuleerde velsorgprodukte. Die volgende gebeur in hierdie lewensfase met jou vel: *Die vel verloor fermheid en is sagter as voorheen. * Die vel op die boonste ooglid verdun nog meer. * Jou velkleur is oneweredig en pigmentasievlekke vererger. * Die selvernuwingsproses duur nou 45 dae of langer. * Kollageen- en elastienweefsel raak verstrengel. * Plooie en lyntjies is nou duidelik sigbaar.

Omdat die vel nou nie meer so elasties soos voorheen is nie, behoort jy daagliks ‘n serum, oogroom, vogroom, nekroom en selfs onderlaag te gebruik wat die vel te help verferm. Beskerm jou vel daagliks met ‘n sonroom wat teen UVA en UVB-strale skans.

Voedselaanvullings speel ‘n belangrike rol in die gesondheid van die vel. Aanvullings wat die verouderingsproses vertraag, sluit in vitamiene, aminosure, minerale en DHEA (’n steroïedhormoon in die byniere vervaardig) en melatonien.

Gespesialiseerde estetiese behandelinge soos botoks en vullers word ingespan om die vel se jeugdige voorkoms te bewaar en van statiese, permanente plooie ontsale te raak.

Wenke om jou welstand te bevorder

  • Eet meer appels. Dit bevat vitamiene en pektien wat die skadelike uitwerking van besoedeling en vrye radikale in die liggaam help
  • Wees bewus van jou postuur. Moenie altyd jou handsak oor dieselfde skouer dra nie. Doen oefeinge wat veral jou maagspiere versterk, wat weer rugprobleme kan keer.
  • Verlaag jou bloeddruk. Probeer ten minste 15 minute per dag aan ontspanningsoefeninge afstaan.
  • Eet meer proteïne. Dit verhoog jou energievlakke en hou jou brein gesond en wakker.
  • Drink ‘n koppie of twee groentee wat ryk is aan anti-oksodante wat die liggaam teen aftakeling beskerm.

Om te probeer

Nivea het pas ‘n splinternuwe teenverouderingsreeks, Nivea Cellular Filler Elasticity, bekendgestel wat diep plooie versag, die vel help verferm en die vel se vogvlakke verhoog. Dié reeks produkte stimuleer die vel se produksie van hialuroonsuur, kollageen en elastien met meer as 64%. Kyk uit vir die Nivea Cellular Filler Elasticity Day Cream SPF30, Nivea Cellular Filler Elasticity Night Cream, Nivea Cellular Filler Elasticity Bi-Phase Nourishing Oil Elixiren Nivea Cellular Filler Elasticity Anti-Spot Treatment Serum.

2019-03-31T11:35:38+00:00