Lééf met oorgawe

Oes van genade

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Doringtakke, vye, granate, palmtakke. Stilis Juané Scheepers het die betekenis van Pase gaan soek in die geil oes van natuurlike elemente wat haar omring en ’n feestafel gedek op ’n wildsplaas naby Bela Bela.

’n Gerf vars geplukte blare en blomme dien as fokuspunt op die tafel en spreek van die natuur se oorvloed – ’n pluksel onbeteuelde vreugde. Dis ’n baldadige rangskikking wat veels te rojaal is vir enige vaas of blombak.

Spierwit krismisrose, droë piesangblare, doringtakke, pienk granate, palmtakke, peperboomblare, groen lourierblare, rooi en geel hanekamme (Celosia), roomkleurige krisante, maroen leeubekkies, aalwynblare, droë slangbos, oranje meidoring en wit pampasgrasse wat langs die pad gepluk is.

“In die Bosveld kan ek asem skep weg van die stad,” erken Juané Scheepers,  eienaar van A Seed to Sow Floral Design, kreatiewe stilis en die ma van drie woelwaters, wat ’n gul Paastafel hier in die bruidsuite van die Lunikhy-wildsplaas gedek het.

Die moderne drieslaapkamerhuis word omring deur ’n Bosveld-panorama van bome, grasveld, gewasse, rotse en grondpaaie. Die stilte word skaars onderbreek deur die gekwetter van voëls en ’n rustige sproeier op die grasperk. Salige afsondering. Die Paastafel pronk in die wit voorhuis.

Juané is pal op die uitkyk vir visuele elemente waarmee sy ’n foto of tafel kan inklee en opkikker, op dié manier kontras en diepte beding, en vandag gebruik sy die Bosveld as palet vir haar kunswerk.

“Ek wil die heeltyd in mense se tuine insluip om ’n blom of blaar te pluk omdat alles my inspireer. Ek hou van verskillende teksture en kleure, verrassende kontraste. Sagte blomme by harde goed soos takke en dorings.” Sy beduie na een van haar gunsteling-elemente: strak kameeldoringtakke wat sy in glasvase gesteek het.

’n Rustige versameling teen die muur wat dadelik aandag trek, sluit soomloos aan by die gees van ’n tradisionele Paasfees: bakke met ongesuurde pitabroodjies, paasbolletjies, ’n bak pers vye, wit sjokolade-eiers, ’n swart sagteband-Bybel van haar ma se oupagrootjie.

Manlief Adriaan, ’n sportontwikkelaar, sit van vroegdag af hand by.

Die natuur dans

Die wildsplaas waar Juané haar Bosveldtafel dek, is ’n lushof ná milde somerreën. Troppe diere pronk spekvet in die groen veld en stroom huppelend voor jou motor oor die pad. Hier word jy deurgaans verras deur ’n groot verskeidenheid eksotiese wild, van buffels, koningswildebeeste, bastergemsbokke, swartwitpense, rooibokke, springbokke, elande, koedoes, rooiwildebeeste, blesbokke, waterbokke, gemsbokke, duikertjies, bosbokke, swart rooibokke en kameelperde. Inheemse voëls soos neushoringvoëls, visarende en visvangers is ewe volop.

Lu-Anne Duiker vertel haar pa, Pieter McCord, het destyds ’n naweekplekkie van 600 ha aangeskaf en mettertyd aangrensende eiendomme bygekoop. Vandag bestuur Lu-Anne en haar man, Brent, ’n bosparadys wat strek oor drie plase in die omgewing van Pienaarsrivier.

“Ons is mense van Warmbad wat ’n tyd lank in Pretoria gewoon het en laas jaar in Julie terug plaas toe getrek het. My pa boer met aartappels, uie, patats en saadmielies. Brent boer met tamaties. En oor naweke behartig ons troues,” sit Lu-Anne die plaasmense se bedrywighede uiteen.

“Dié huis is my droom,” lag Juané waarderend oor die wittebroodsuite. “Dis al wat ek wil hê. Ek verkies minimalisme, net die essensie wat jy nodig het om mee te leef. Jy moet alles in een tas kan pak! Hoekom tog so baie goed opgaar – al die erfgoed vir die nageslagte – en hulle wil dit in elk geval nie hê nie …”

‘Pase is meer as net ’n lekker langnaweek, dis ’n genadefees, ’n danksegging vir wat die Saligmaker vir ons gedoen het’

Plant ’n saadjie

Juané se A Seed to Sow-onderneming is daarop gemik om lig op die verbond tussen man, vrou en God te werp. Dis veel meer as om net die blomme vir ’n bruid se troue te ontwerp en te rangskik.

“Ek voel geroepe om aan bruide te getuig en in hul lewe te saai. Die voorbereiding vir ’n huwelik moet nie vashaak by allerhande kleure lint en bruilof-besonderhede nie. Dis sinloos om jou oor sulke dinge te bekommer. Daar moet eerder ’n sterk fondasie gelê word vir ’n verhouding wat aanhou groei.

“Mense raak erg opgewerk oor troureëlings, maar daar is nie genoeg arbeid in die geestelike dinge geploeg nie. Die prioriteite is misplaas. Die eerste groot verliefdheid waai tog oor, en wat bly dan oor?

“Julle moet besluit om lief vir mekaar te bly. Ek wil ’n saadjie plant oor die liefdesverbond sodat die huweliksboom kan groei en diep wortels kry.”

Twaalf aan tafel

“Vanjaar hou ons ’n Paasmaaltyd vir 12 gaste. Ons nooi familielede, vriende, verlore vriende en mense wat ons voel Pase saam met ons moet vier, dit herontdek en dink aan wat hierdie tyd vir ons as Christene beteken.

“Vanjaar wil ons baie meer fokus op die Laaste Avondmaal. Ons wil volgens die voorbeeld van Jesus en Sy dissipels twaalf mense om die tafel hê. Paasfees is meer as net ’n lekker langnaweek, dis ’n genadefees, ’n danksegging vir wat die Saligmaker vir ons gedoen het. Ons wil dit van kleins af by die kinders tuisbring.

“Ons behoort Paasfees net soos Kersfees te vier. Elke jaar met Kersfees versier mense hul huise en omgewing met elemente wat jou aan Christus se geboorte herinner, en ek voel dat ’n mens tydens Paastyd dieselfde moet doen; om jou huis te tooi. Gesinstyd, familietyd, samesyn– dit alles is net so belangrik tydens Pase, en dat ons Jesus se kruisiging en opstanding vier net soos ons Kersfees vier.

“Vir die kinders hou ons op Paas-Maandag ’n paaseiersoektog. Ons het as kinders altyd op die plaas, waar ons meestal met Pase was, paaseiers gesoek. Ek was altyd die een wat op ’n paaseiersoektog aangedring het, lank nadat my broer en suster gedink het dit is nou tyd om op te gee.”

“Daar’s iets in die opwindende les van ‘soek en jy sal vind’. Die wêreld se tradisies kan soms oorweldigend raak en dit is moelik om ons kinders teen die boodskappe in die winkelvenster te beskerm. Maar ons laat nie toe dat die Paasboodskap, wat ons uitleef en aan ons kinders oordra, deur wêreldsdinge verdring word nie. Ja, ons doen wel die pret van paaseiers soek, maar ons sorg dat ons kinders vroeg al besef dit is nie waaroor Pase gaan nie.

“Jy hoef nie baie geld uit te gee op Paasversierings nie. Gebruik die goed om jou. Benut die kontras tussen ou en nuwe goed. Mense dink jy mag nie eenvoud gebruik nie, maar Jesus is in ’n stal gebore en het aan ’n houtkruis gehang. Gebruik ’n tak, gras of saad. Herontdek jou ou versamelgoed.”

Nagmaal vorm die basis vir die Paasmaal. Juané en Adriaan geniet gereeld nagmaal tuis, veral wanneer hulle groot besluite moet neem.

Die spyskaart

“Kos is altyd die hart en siel van ’n feesviering. Vir my wat in ’n huis grootgeword het waar my ma en ouma met kos soveel liefde gee en spreek, is dit soms moeilik om nie kos die eer te gee wat dit verdien nie. Ek het nie die liefde vir kos in so ’n groot mate gekry soos my ma en suster nie, maar ek hou van die mooi van disse; die aanbieding en voorsit om dit nog mooier en aanlokliker te laat lyk sodat mense met hul oë eet. Wanneer ’n dis op ’n mooi bord voorgesit word, proe dit sommer nog lekkerder! Adriaan is die talentvolle een agter die kospotte!”

Juanéwonder wat op die tafels vir die Laaste Avondmaal was, hoe die kos gelyk en gesmaak het. Paassondag se tafel laat haar dink aan gestopte lamsboud, oondgebraaide aartappels en groente, groenbone, slaai, en vir nagereg, warm pekanneutpoeding en rosyntjiebrood, afgesluit met koffie en tee.

“Vir my dosyn gaste bedien ek ’n plat broodmandjie met varsgebakte baguette (Franse langbrood) in stukke gesny, olyfolie, balsamiese asyn, ingelegde olywe en olyfpatee, artisjokke, druiwesap, kase en smere asook kraakvars vrugte, oopgebreekte granate, donkerpers vye, swart en rooi druiwe en dan nagmaal-elemente soos brood en wyn.”

Onvergeetlik

’n Spesiale Paasfees was die jaar op haar oupa se plaas Suikerbos in die Vredefort-koepel, tussen Parys en Potchefstroom, toe Adriaan vir die eerste keer saamgegaan het. “Hy was nog nie my kêrel nie, maar ons het reeds baie saamgekuier en ons was heel verlief.

“Die groot plaashuis het oorgenoeg slaapplek vir die langnaweek gehad, en die tyd op die plaas was soos gewoonlik geseënd en spesiaal. Ons het rustig verkeer en die dae het stadig verbygegaan. Ons het gestap, gelag, gespeel, gerus, en geswem in die plaasdam. Op Goeie Vrydag, 11 April 2008, sit ek en Adriaan met sonsondergang op die agterste plaasstoep oor die veld en uitkyk. Adriaan vra toe so half onhoorbaar: ‘So gaan ons nou uit?’ Ek het na hom gedraai terwyl ek probeer het om al die emosies wat in my opborrel effens te onderdruk, want my hart wou uit my borskas bons. Ek het breed geglimlag en gesê: ‘Ja!’

“Daardie Paasnaweek het ek nog nie geweet dat dit die begin van ons pad saam was nie, dat dit op ’n huwelik sou uitloop, en boonop drie lieflike kinders nie! Wat ook vir my spesiaal was, is dat dat my ouma en oupa saam met ons Pase gevier het. ’n Paar jaar later het alles verander. Hul gesondheid het agteruitgegaan en my oupa is vandag nie meer met ons nie.”

Op hierdie manier is Pase vir altyd in haar hart geknoop as ’n tyd van liefde en vernuwing in haar lewe.

  • Kontak A seed to sow Floral Design se Facebookblad by @ASeed2Sow, skakel 082 956 5748 of stuur e-pos naseed.to.sow@gmail.com
2019-03-31T11:32:40+00:00