Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ek blaai deur ou koerantuitknipsels en kom af op ’n kort beriggie met ’n foto van ’n vier jaar oud-dogtertjie daarby. Sy staan op hul huis se voorstoep. In haar hand hou sy ’n blikbekertjie met water. Agter haar sien jy vlamme tussen hoë dennebome opklim. Die rooi tonge lek aan die boonste boomtoppe. Die vuur is besig om die plantasie digby die bosboustasie waar die kleinding woon, te verswelg.

Die hoofopskrif  by die foto lui: “’n Bekertjie water teen die vuur.”

Volgens die dogtertjie se ma – wat die foto geneem het – wou die kleinding met alle mag haar pa en die ander bosbouers gaan help om die vlamme rondom die huise met water te blus. Toe haar ma weer sien, het sy met die bekertjie water uit die kombuis te voorskyn gekom – reg om te help.

Die laaste paragraaf van die berig lui: “Volgens brandbestryders op die toneel het die wind teen laatmiddag gedraai. Daar het ook ’n onverwagse reënbui oor die gebied uitgesak. Teen die aand was die vlamme onder bedwang.”

’n Klein kind glo onvoorwaardelik. Selfs in haar angs-oomblikke het hierdie dogtertjie vas vertrou dat die bietjie water in die emaljebeker die oorweldigende vlamme kon help blus.

Net so het ’n onverskrokke seuntjie vyf  broodjies en twee vissies aangebied om ’n skare van duisende mense te voed.

Ondanks volwassenes se realisme – en dikwels ook sinisme – bly kinders spontaan glo. Hulle beskaam ons dikwels met die oorgawe waarmee hulle net eenvoudig aanvaar dat God hul gebede aanhoor en dat hul veilig by Hom is.

Ons kan by kinders leer om met blink oë deur die lewe te gaan. Ondanks. Ons kan by hulle leer om onwrikbaar aan die goeie vas te hou. Ondanks. Ons kan by hulle leer van leef-in-die-oomblik en van glo in môre. Ondanks.

Vir klein kinders is min dinge onmoontlik. Hulle strek nog vreesloos hul arms vorentoe uit.

’n Voorskoolse onderwyseres sê: “’n Ongeskonde jong kind glo onvoorwaardelik in hom- of haarself. Hy het nog sterre in sy oë. Hy glo hy kan ’n dokter word. Of ’n pianis. Of ’n filmster. Of ’n super-sportman. Daar is geen grense te wyd of te hoog nie. Dis ’n opvoeder se taak om ’n kind se drome te voed – nie om hulle dood te smoor nie.”

Ons as ma’s en pa’s en opvoeders mag nie die kleintjies in ons sorg se kinderlike geloof blus nie – nie hul geloof in hulself nie, en bowenal nie hul geloof in God nie. Jesus Christus se skerp uitspraak in Matteus 18:6 moet vir ons as waarskuwing dien: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ‘n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”

Here Jesus, help ons om nooit te vergeet hóé kosbaar elke klein kind in U oë is nie. Help ons om hulle nie van U afvallig te maak nie. Laat ons tog nie hulle drome versmoor, of hul opregte geloof en verwagting in U almag vernietig nie. U wat gesê het: “Laat die kindertjies na My toe kom,” U wil hê dat ons soos hulle sal glo. Amen.

2019-03-31T10:54:37+00:00