‘Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het? Lukas 12:20

Daar is wetenskaplikes wat heeltemal ernstig ondersoek of ons nie dalk in ’n rekenaarsimulasie leef nie. Dis te betwyfel, maar dis interessant dat die Skrif reeds so-iets leer. Ons beleef die fisieke wêreld as ons enigste realiteit, maar dis eintlik tydelik, illusionêr. Dink byvoorbeeld aan jou sogenaamde besittings. Hierdie dinge word wel aan jou geleen, maar op jou laaste dag word alles weer weggevat. Is jy liggaamlik gesond? Wat ’n seën! Nogtans verloor jy ook dit, bietjie vir bietjie, en uiteindelik alles. Die eer en aansien van mense is selfs meer vlietend. Jy kan op enkele mense vir een generasie ’n indruk maak en dan rol die eeue weer voort. Het jy beheer oor en in jou lewe? Hier moet mens hardop lag! Beheer is ’n illusie – ons dink ons het dit, totdat die foon lui met slegte nuus.

Wat hét ons dan? Wel, ons het die lewe, meer spesifiek het ons hierdie huidige oomblik. Gister is immers onherroeplik verlore en môre bestaan nog nie. Ons het ons verhoudings, wat veel meer inherent, betekenisvol en duursaam is as enige materiële skat. Die Skrif sê immers dat die liefde uiteindelik al is wat volstaan. Uiteindelik het ons God: ons oorsprong en ons einde. Hierdie dinge, volgens die Skrif, is groter realiteite as die fisieke werklikheid om ons. As ons dus kan verreken (1) dat ons gaan sterf, en (2) dat ons alles gaan verloor, kan ons met meer intensie leef. Dan kan ons fokus op wat ons het, op wat belangrik is en op die Here. Ja, dan kan ons wérklik lééf: oorvloedig, sinvol en nóú LEEF! Dit is waartoe Jesus ons roep!

Gebed

Wat is werklik belangrik, Here? Wat is werklik eg?

“Hy is geen dwaas wat gee wat hy nie kan hou nie – om te wen wat hy nie kan verloor nie” Jim Elliot

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2019-03-31T10:52:41+00:00