Sielsmaats

Sielmaats

Deur Johan Ferreira | Foto Pexels

Sagter en soeter…

Om ’n langtermynverhouding te laat voortbestaan verg vaardigheid. Meeste verhoudings bly nie teen die aanslae van die alledaagse lewe staande nie en is die kans op oorlewing van ’n verhouding maar skaars. Vir dié verhoudings wat dit wel maak na ’n paar jaar van wroeg en sukkel, kan die kwaliteit daarvan en die vreugde daarin ook maar skraps wees, mits daar voortdurend aan die verhouding gewerk word.

Die hoop is natuurlik dat indien ons verhoudings in verstaan en aanvaarding van mekaar sal groei, die belewenis daarvan met tyd sagter en soeter sal word.  Sonder ’n verhoudingstrategie is hierdie bloot wense en nie uitkomste nie.

Daar is ’n paar ononderhandelbare aspekte wat in plek moet val indien julle as paartjie ’n gelukkige en vervulde verhouding wil beleef. Sekerlik die moeilikste, maar belangrikste van al die boustene, is die gewilligheid en ook die vermoë om te kan vergewe. Almal van ons maak een of ander tyd foute.  Indien jy geluk wil beleef binne jou verhouding, sal jy en jou maat moet leer hoe om mekaar werklik te kan vergeef vir dié foute. Om kwaad te bly en wrokke te koester, is giftig vir verhoudingsgeluk. Dit laat ’n bitter smaak in die albei se harte.

’n Verhouding is nie ’n wedstryd tussen twee opponente nie. Dit is ’n span-aktiwiteit waar albei lede aan die dieselfde  kant speel.  Jy kan nie boekhou van wat jý doen en dan verwag dat dit nou jou maat se beurt is nie. Sulke verwagtings lei tot die ontstaan van ’n magstryd tussen julle. Ons kan ook nie telling hou van wat verkeerd loop nie.  So ‘n ingesteldheid versuur enige verhouding.

Omdat die lewe vinnig en kompleks is, werk dit baie beter indien ’n paartjie die gewoonte aanleer om na oplossings te soek, eerder as om kritiek te lewer op wat verkeerd is. Hierdie is gewoon ’n aangeleerde vaardigheid wat enige paartjie wat graag die vreugde van ‘n goeie verhouding wil smaak, kan bemeester. Vervang die negatiwiteit van kritiek met die verligting van probleemoplossing.

Daar is noodwendig twéé mense in ’n verhouding en niemand is natuurlik dieselfde nie. Daarom kan ’n gelukkige, vredevolle verhouding net bestaan as ons as individue kan leer om by mekaar aan te pas.  Dit impliseer dat ek nie noodwendig al my maat se waardes, oordele en gedrag my eie moet maak nie, maar dat ek moet leer om met die andersheid van my maat saam te leef, en uiteindelik respek daarvoor te ontwikkel.  Sonder hierdie ingesteldheid van aanpasbaarheid betree die verhouding vinnig die bitter veld van konflik.

Terwyl ons dan nou die verhouding wil laat groei na die mooier dele van verhoudingsdinamika, sal ons moet leer om mekaar opreg te kan komplimenteer. En dan aan te hou daarmee al gaan daar baie jare verby. ’n Goeie ingesteldheid is om jou gedagtes van waardering uit te spreek in woorde. Ons dink tog baie keer positiewe gedagtes, maar kom nooit sover om dit te sê nie. Dan help die positiewe gedagtes in der waarheid niks.

Deurlopende en voortgesette groei is nodig om eerstens te bepaal of hierdie die persoon is waarmee jy die pad wil stap, en om dan te verseker dat jy nie verveeld raak met jouself en jou maat nie. Sorg dat julle tyd saam spandeer sodat die band kan groei en onderhou word. Indien julle nie as ’n paartjie saam groei nie, sal julle die smaak vir die verhouding verloor.

Soms raak die lewe vol en bedrywig, want sommige seisoene van ons lewens is onvoorspelbaar en besig. Dit is dan wanneer ons die risiko loop om prikkelbaar en skerp met mekaar te begin saamleef. Gedurende hierdie tye moet ons as maats mekaar aanmoedig om beter en voller te leef. Indien jou lewensmaat jou aanmoedig om ’n nuwe stokperdjie of sport te begin beoefen, en moontlik saam deelneem, verhoog die genot van die verhouding en raak die ervaring van saamwees weer sag en verteerbaar.

Die uitspreek van ons dankbaarheid is soos sout in kos. Die ervaring word net soveel beter, het soveel meer emosionele dimensie en bring groter genot. Onthou om dankie te sê as ’n vasgestelde besluit, elke keer, al is dit jou maat wat jy die meeste van alle mense moet bedank. Niemand hou daarvan om ongewaardeerd te voel nie. Dikwels vergeet paartjies bloot om dit te doen wat negatiwiteit tot gevolg het.

Wees romanties, maak nie saak of jy nie een romatiese sel in jou liggaam het nie! Leer dan die gedrag aan met jou verstand.  ’n Liefdesverhouding sonder romanse verval gou in ’n vaal en smaaklose ervaring. Dan raak albei kwesbaar vir die romantiese aandag van ander. Leer romanse beoefen op die manier waarop dit vir julle twee werk.

’n Soet verhouding bou ’n brug oor baie uitdagings. Ons het sommer baie meer krag vir die minder lekker dinge van die lewe as die basis van ons lewe vir ons ’n sagte landingsplek is nadat die moeilikheid van die wêreld ons krag opgebruik het.

Dr. Johan Ferreira is ’n sielkundige en verhoudingsterapeut in privaatpraktyk in Johannesburg. www.drjohanferreira.com.

Lééf Sielsmaats bied ’n veilige aanlynomgewing waar gelowiges op soek na liefde mekaar kan ontmoet. Besoek Sielmaats by www.sielmaats.co.za vir meer inligting.

2019-03-04T20:06:15+00:00