Ons het warmsjokoladedrankies nodig. Nie mooi koppies nie!

’n Klompie studente in hul middel-dertigs was mal oor hul professor op universiteit. So besluit hulle om hul 15-jaar reünie by hom te gaan vier. Opvallend was dat die gesprekke uit die staanspoor gedraai het oor hoe ontsettend besig hulle is, hoe hulle lewe opgeslurp word deur hul veeleisende loopbane, verpligtinge en natuurlik wat hulle al bereik en bymekaargemaak het. Dis amper asof spog-oor-besig-wees die hoofonderwerp was, saam met die wat-ek-ry- en waar-ek-bly-praatjies. Tog was dit duidelik dat hulle iets van die lewe mis, onvergenoegd voel en hoop op ’n rustiger lewe. Dat hulle wéét dat hulle baie het, maar die warmte van vrede en geluk mis.

Die professor het sonder veel woorde na hulle geluister. Na aandete maak hy vir hulle warmsjokolade en bedien dit in ’n verskeidenheid bekers: sommige baie elegant, party getjip en ander se ore af … meestal sommer net ou, onpaar-bekers uit sy stoor. Gou gryp hulle almal eerste na die mooiste bekers, terwyl die afoorbekers traag geneem word.

Laat daardie aand sê die professor: “Weet julle wat is die rede vir julle onvergenoegdheid? Julle is tans almal besig om op die blink bekers van die lewe af te storm … terwyl die vorm eintlik nie saak maak nie omdat dit die warmsjokolade is wat die lewe werklik inhoud gee. Omdat dit die bínne-in-jou is wat aan jou vrede en geluk gee.”

Is ek en jy dalk ook so besig om na mooi bekers te gryp terwyl ons eintlik net behoefte het aan die lekker warmsjokolade van ons verhouding met onsself, God en ander? Dalk is afoorkoppies meer as genoeg genade …

Afoor-mens
Here, ek jaag my lewe om
na blinkbeker-plesier,
na nog-meer
en nog-beter!
En dan word ek ’n
leë porseleinkoppie.
Vandag kies ek
om eerder afoor-mens te wees
wat gevul is met die
aroma van u liefde,
die soet van u vrede
warmte van u soort vervulling.
Ek kies om
Die bekers vol liefde wat U aangee,
skuldvry te geniet.
En met opregtheid
my eie
afoor-liefde
aan te gee.

’n Ander behoefte

Van sy geboorte af was hy verlam. Gewoond aan die minste wees. Gewoond aan bedel … Wanneer Petrus en Johannes daar verbyloop, vra hy dan ook ’n geldjie van hulle af. Petrus se reaksie is egter iets heel anders: “Kyk na my!” sê hy. “Ek het nie ’n sent op my naam nie, maar ek gaan vir jou iets beters gee. Ek sê nou vir jou in die Naam van Jesus Christus: staan op en loop!” (Handelinge 3:4,5 Die Boodskap)

Soms vra ons iets anders as wat ons Vader ons kan en wil gee. As wat ons régtig nodig het.

Kom ons bid dat die Gees ons sal help om ons eie prioriteite in plek te kry … en te onthou wat régtig belangrik is.

Skrif:

Ek maak hulle ryk wat my liefhet. Hulle pakkamers maak ek propvol. Spreuke 8:21

2019-03-04T20:07:09+00:00