Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Sara

Deur Maretha Maartens (Lux Verbi)

Tien dae lank praat Sara nou al met God, die Almagtige. Hiervoor het sy haar donkie opgesaal nadat Abraham met hulle enigste kind, twee slawe en ‘n bondel vuurmaakhout op ‘n pakdonkie in die verte verdwyn het… In hierdie Bybelroman sien die leser Abraham se geloofspad, sy huwelik en sy swakhede deur sy vrou Sara se oë. ‘n Liriese en roerende stuk skryfwerk wat deur deeglike Bybelse navorsing gerugsteun word. “’n Lieflike teks, Sara se emosionele belewenis is diep deurleef. Die leser lees nie net van Sara nie, jy belééf elke ervaring saam met haar” – Jeanette Ferreira. R235.

Vir mans

Deur Johan Ferreira (Lux Verbi)

Mans leef in ‘n wêreld waar die rolle van manlikheid so verander het dat dit met tye moeilik is om te weet wie hulle werklik is en wat van hulle verwag word. Die boek skep ‘n bewustheid by mense, en nie net mans nie, van die alledaagse en mees algemene lewensuitdagings waarvoor mans te staan kom, en probeer hulle toerus met relevante inligting wat hulle sal help om meer doeltreffende, emosioneel gelukkig een vervulde lewens te lei. Die boek word verdeel in verhoudings- en lewensfase-uitdagings, verslawing, gemoedsprobleme en traumatiese ervarings. R195.

Bevryding van angs en bekomernis

Deur Bruce Wilkinson (CUM)

Die meeste mense was al angstig of bekommerd. En dit kan verlammend wees. In hierdie boek wys Bruce Wilkinson lesers hoe om vry te kom van angs en bekommernis. Deur besprekings, Skrifverwysings en gebede lei hy lesers om hulle laste oor te gee aan God wat alles kan hanteer. Hy kyk onder andere na sake soos veiligheid en sekuriteit, finansies, gebroke verhoudings, gesondheid en die toekoms. Aan die einde van elke hoofstuk is daar ruimte om persoonlike gebede, antwoorde en herinneringe neer te skryf. R170.

Wanneer water wyn word

Deur Jaqueline Leuvennink & Vivian Kleynhans (Lux Verbi)

Toe Vivian op 16-jarige ouderdom haar pa in die winkel se deur sien staan met sy hoed in sy hand het sy geweet haar lewe  gaan onkeerbaar verander – haar pa het sy werk verloor. Vivian dink sy is gelukkig toe die veel ouer John by die werk in haar begin belangstel. Hy belowe om vir haar gesin ‘n huis op Vredenburg te kry, maar min weet sy die huis het ‘n prys. Vivian word vervreem van haar familie en verval in ‘n spiraal van mishandeling. Sy laat haar egter nie onderkry nie, en besluit eendag sy het genoeg gehad. Sy begin haar lewe van voor af bou. Vivian het ‘n kop vir besigheid, en ná verskeie poste besluit sy om  haar eie wynbesigheid te begin. Vivian se verhaal is een van hoop, passie, deursettingsvermoë en die wete dat God altyd daar is, al lyk die omstandighede hoe sleg. R230.

Laat U koninkryk kom

Deur Elza Meyer (CUM)

In hierdie boek, gebaseer op die bekende woorde in Matteus 6:10, wys Elza Meyer die leser daarop dat God aan gelowiges buitengewone gesag toevertrou om Hom op aarde te verteenwoordig. Hierdie gesag vereis egter ’n karakter wat die krag en invloed wat daarmee gepaardgaan, kan hanteer. Sy wys hoe die Heilige Gees in mense werk om ons meer soos Christus te maak en gelowiges toerus met spesiale gawes sodat die wêreld kan sien dat God sy heerskappy steeds deur woorde, wonders en tekens op aarde bevestig. Op haar kenmerkende lekkerlees-styl begelei Elza Meyer die leser in Laat u koninkryk kom om God se koninkryk beter te begryp en ’n aktiewe medewerker te word in die koms van sy koninkryk op aarde. R120.

Lysies vir die lewe vir vroue

Uitgegee deur CUM Christelike Uitgewersmaatskappy

Alle vroue voel een of ander tyd dat die lewe se eise net te veel raak.  Dis ‘n alewige gejaag tussen verantwoordelikhede by die werk, huis, of met die kinders. Lysies vir die lewe vir vroue bevat 101 inspirerende lysies wat ontwerp is om vroue te help om die beste weergawe van hulleself te word. Ingesluit in hierdie pragtige geskenkboek, is idees vir joernaalinskrywing, inspirerende Bybelverse en aanhalings. Daar is lysies wat help hoe om vrede te vind, ’n positiewe lewensuitkyk te hê, te bou aan jou selfvertroue, of hoe om ’n gesindheid van dankbaarheid te vestig en jou tydsbesteding slimmer te beplan. ’n Kosbare geskenk vir vroue van alle ouderdomme. R180.

Koshuis

Deur Erns Grundligh (Queillerie)

Dié boek voer jou terug na die jare van inbly-naweke, studentepret, huis-toe-verlang en troospakkies beskuit onder die enkelbed. Koshuis is saamgestel deur Erns Grundling en bevat heerlike lekkerlees-vertellings, komies, verspot én roerend, oor die koshuislewe – op skool én universiteit, selfs oorsee – deur ‘n verskeidenheid bydraers, insluitend Dana Snyman, Toast Coetzer, Bun Booyens en Kerneels Breytenbach. R260.

Maaltye

Deur Christine Cappendale (Human & Rousseau)

Die bereiding van lekker en voedsame maaltye vir die gesin is gewoonlik hoog op die lys van uitdagings wat ons elke dag die hoof moet bied. In hierdie boek kry jy slim oplossings vir middagetes, aandetes en onthaalmaaltye wat jou familie en vriende sal geniet en weer voor sal vra. Geïnspireer deur mense wat  graag interessante en gesonde kos eet maar nie baie tyd het vir koskook nie, het Christine Cappandale verleidelike geregte geskep wat nogtans maklik is om te skep en jou nie ure in die kombuis sal besig hou nie. R325.

2019-02-28T21:48:28+00:00