Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

De Krans Premium Moscato 2016

Moscato, soos dit vandag bekend is, het sy wortels stewig in Moscato d’Asti en die noordweste van Italië waar dit oorspronklik sedert die 1870s verbou en gemaak is. Hierdie lae alkohol-wyn in bruisende styl is oor middagetes geniet omdat dit die wynmakers en hul werkers nie daarna uit die werk gehou het nie. Die De Krans Premium Moscata 2016 is vrugtig met note van appelkoos en litsjie en die perfekte somerdrankie saam met slaai of kerrie. R59.

Fat Bastard Sauvignon Blanc 2018

Dié reeks wyne het pas hul 21e bestaansjaar gevier. Die vrugte vir hierdie witwyn is vroegoggend geoes en om vir diepte van smaak en aroma te sorg. Die wyn het ‘n vrugtige neus, is lieflike gebalanseerd met komplekse lae van tropiese vrugte. R90.

Glenelly Estate Reserve Chardonnay 2016

Hierdie chardonnay spog met talle toekennings. Die wyn het ‘n helder goue kleur met ‘n sitrusneus met ‘n tikkie botterkaramel, heuning en geroosterde amandels. Op die palet is dit ryk, romerig en gebalanseerd. Suurlemoen- en lemmetjiegeurnote rond die prentjie perfek af. Bedien saam met hoender, salm of gerookte forel. R230.

Delheim Shiraz Cabernet Sauvignon 2017

Die versnit van Shiraz en Cabernet Sauvignon word al vir dekades deur dié Stellenboschse landgoed gemaak. “Hierdie versnit bied die beste van twee wêrelde,”  sê Delheim se wynmaker, Roelof Lotriet van die 2017-oesjaar. “Die aroma is propvol tipiese Shiraz-speserye en word gekomplimenteer deur die Cabernet Sauvignon se volwasse tabakblaar-geure.  Dis lieflik en sappig, met geure van pruime en kersies. Perfek vir die braai en hartlike disse.” R85.

Stellenbosch Hills 1707 Reserve 2016

Die wyn het ’n aromatiese neus met steenvrugte, heuning, vars sitrus en vanielje eikehout-speserye en is ’n perfekte ambassadeur vir sy uitstaande terroir. Die smaak is elegant en gebalanseerde met lewendige sitrusgeure. Die wyn is ryk en vol tekstuur en talm lank na die eerste slukkie. R100.

Robertson Winery Brut Rosé

Robertson Winery het getrou aan sy tradisie van vernuwing en innovasie, die eerste droë rosé vonkelwyn in Suid-Afrika bekendgestel. Die wyn het ‘n sagte aarbeikleur en verleidelike blom- en glansvrugtenote wat met die smaak van vars aarbei gekombineer word. ‘n Verfrissende en vrugtige vonkelwyn met ‘n vrygewige nasmaak. Vanaf R60 per bottel.

Leer ken die landgoed

Dit het al ietwat van ’n cliché geword, die staaltjie dat alle boere daagliks ’n klein Jack Russell aan hul sy het, maar Hillcrest se wynmaker, Arno Smith, glo sy Saartjie is die “uitsondering op die reël”. En om hierdie rede is dit dus nie verbasend nie dat sy Jack Russell dan ook gelei het tot die skep van ’n enkelwingerd-wynreeks genaamd Saartjie.

Saartjie het ietwat van ’n “persoonlikheid” onder die mense in die Durbanville-vallei geword, asook onder die landgoed se getroue ondersteuners. Mense wat die restaurant besoek, bring soms selfs hul eie honde saam om met die “vriendelike Saartjie” te speel. En wanneer jy Hillcrest vir die eerste keer besoek, moenie verbaas wees as Saartjie kom ondersoek instel en jou met ’n geblaf of vier verwelkom nie, net om te wys wie’s die “baas van die plaas”.

Arno se liefde vir sy “vierpootdogter” het tot die ontstaan van die Saartjie-wynreeks gelei. Die reeks bestaan uit ’n Semillon, ’n Cabernet Franc, ’n Petit Verdot en ’n Malbec. Hillcrest se Saartjie-wynreeks is op die landgoed in die Durbanville-wynvallei en aanlyn via Hillcrest se aanlynwinkel beskikbaar teen R145 elk, asook landwyd by uitgesoekte drankwinkels. Vir meer inligting, besoek www.hillcrestfarm.co.za.

Die Saartjie Cabernet Franc 2017 het ’n pragtige dieprooi kleur met aromas van fyngemaalde kryt, donkerbessies en kersies. In die mond speel geure van groen peperkorrels, fynbos en pruimedante op die tong, gebalanseer deur eikehout.

Sjefstafel

Vier die smake van somer by The Red Table Restaurant by die historiese Nederburg-landgoed. Sjef Lisa Cilliers staan aan die stuur van sake. nederburg.com

Allée Bleue-landgoed nooi families uit om ’n heerlike dag op die grasperk van hul pragtige tuine deur te bring en aan hul gewilde Sjieknieks te smul. alleebleue.com

Geniet eg Italiaan se smake en geure oor middagete bydie gewilde Terra del Capo Tasting Room & Antipasto Bar geleë op die indrukwekkende Anthonij Rupert-landgoed in die Franschhoek-vallei. Skakel021 874 9041 om te bespreek.

Probeer gerus die ongewone Pesto & Wine Play-wynproe by die Neil Ellis-landgoedteen die hange van die Helshoogte-berge. R100 per kop. Bespreek by info@neilellis.com.

2019-02-28T21:52:48+00:00