Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ons moet mekaar se klein en groot “asprissies” vergewe.

Dis ’n naweek van gróót kuier en groot feesvreugde. Kersfees en twee verjaarsdae word gevier. In elke moontlike kamer word beddens opgemaak en matrasse ingedra. Soggens word die sitkamer se slaapgoed teen die muur staan gemaak, sodat ons darem deur die dag by die banke en teetafel kan uitkom.

Die huis en tuin wemel van geliefdes. Buite op die gras maak sonsambrele skewe koeltekolle bo-oor ’n opslaan-swembadjie waarin almal probeer afkoel. Kleingoed lag en jil, terwyl hulle die ooms wat in die water sit-lê, se hare met sjampoe invryf totdat die skuimbolle op hul koppe staan.

Ek dink aan Psalm 133:1: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”

Skielik klink ’n groot kabaal uit die huis op. Die twee jongstes kom uitgestorm – albei hartverskeurend aan die huil. Die een van pyn, die ander van skrik.

Ek en die kleingoed se ma probeer agter die storie kom.

“Wat het gebeur, Sus?”

“Boeta het my lekkertjies weggesteek,” kom dit snikkend.

“En toe?” vra die ma.

“Toe wil ek hom ’n drukkie gee.”

“Ek dink nie so nie,” kom dit van Mamma.

“Ek wou hom ’n soentjie gee,” huil kleinsus van voor af.

‘Maar toe het jy nie, klink dit vir my,” por die ma verder.

“Nee, ek het Boeta op die neus geboks,” kom die bekentenis uiteindelik tussen die snikke deur.

“Toemaar, Boeta,” probeer ek die huilende knapie troos, “jou neus gaan sommer netnou beter voel.”

Ek hou die hartseer, veronregte seuntjie vas. Ek dink daaraan hoe sorgsaam hy altyd teenoor sy sussie is. Hoe hy vir haar skerm wanneer daar moeilikheid is. ’n Vredemaker – klein soos hy is.

“Het Sussie jou aspris geslaan?” probeer ek uitvis.

Hy huiwer ’n oomblik: “Hmm… Maar dit was net ’n klein asprissie, Ouma. Só klein…”

Hy trek sy oë op skrefies terwyl hy sy duim en voorvinger so ’n sentimeter van mekaar voor sy een oog hou om te wys presies hóé klein die “asprissie” was.

En toe is die saak afgehandel. Die twee wip van ons skote af en draf hand-om-die-nek by die deur uit om verder te gaan speel – die onderonsie vergete.

Ons moet mekaar se klein en groot “asprissies” vergewe. In Efesiërs 4:2 gee Paulus hierdie opdrag aan Christus se volgelinge: “Julle moet mekaar vergewe omdat julle lief is vir mekaar.”

Liefde is die teenvoeter vir die kwaad. Wanneer ons foute maak en mekaar in die proses benadeel, stel die liefde ons in staat om mekaar te kan vergewe. Dit help ons om groot misstappe teen ons as “klein asprissies” te beskou – en dan aan te stap.

Here Jesus, dankie dat ons by U kan leer hoe vergifnis lyk. U sê self: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.Vir U is daar geen sonde so groot dat U dit nie kan vergewe nie. U weet egter hoe moeilik dit vir ons is. Help ons om mekaar te vergewe soos U ons vergewe het. En help ons as ouers en opvoeders om ons kinders deur ons voorbeeld te leer dat ware vergifnis ’n mens vry maak. Amen.

2019-02-28T21:31:32+00:00