Boekuittreksel

Genade vir gister

Deur Irene Hannon

Om te hoop op dinge wat nooit kan gebeur nie is dwaas, nie waar nie? Lexie Graham, Hope Harbor se polisiehoof en ’n enkelma, het nie tyd vir enigiets buiten haar werk nie – veral nie vir liefde nie. Eks-gevangene Adam Stone is ook nie op soek na liefde nie. Maar hoe ironies dat die eerste vrou wat sy oog vang juis die polisiehoof is. Wanneer Lexie vir Adam vra om haar te help met ’n jong seun wat die verkeerde pad stap, begin die vonke spat. Kan dit wees dat God ’n nader – en beter – plan vir hulle het as wat enigeen van hulle ooit kon droom? Dié roman speel af in dié bekoorlike dorpie aan die kus van Oregon.

Uittreksel

“Nie ’n slim houding teenoor ’n polisiehoof nie.

Maar in plaas daarvan om met hom te redeneer, kruis die vrou net weer haar arms, sug hoorbaar en kyk na die see wat in die verte tussen die bome deur sigbaar is.

’n Hele paar oomblikke gaan in stilte verby.

Toe sy weer na hom kyk, is haar gesig – en stemtoon – vriendeliker. “Ek kan verstaan hoekom jy verkies om van moeilikheid af weg te bly. Maar dit bring ons nie nader daaraan om die saak op te los nie. Ek het meer leidrade nodig en het gehoop jy sal my toelaat om hier rond te kyk sodat ek kan sien of ek iets kan opspoor om ons te help om die skuldiges vas te trek voordat hierdie irritasies erger word en iemand dalk seerkry.”

Haar versoek is nie onredelik nie.

En soos hy in die skool van stampe en stote geleer het, verdien redelikheid vir jou punte, veral as jy niks het om weg te steek nie.

“Goed dan.” Hy beweeg sy skouers om van die styfheid in sy spiere ontslae te raak. “Soek maar soveel jy wil, maar ek twyfel of jy iets sal kry. Ek het nie.”

“Dankie. Enige ander skade buiten dit?” Sy wys na die skuur se muur.

“Nie hierdie keer nie. Drie weke gelede het hulle ’n venster van my huis stukkend geslaan en een van die houttrappies na die stoep uitgebreek. Dit het gebeur terwyl ek by die werk was.”

“Hulle moes geweet het niemand sal hulle kan hoor nie.” Sy kyk ondersoekend na die nuwe trappie wat hy ingesit het, die hout ongeskonde en rou in vergelyking met die ander verweerde grys houttrappies.

“Die plek is maar afgeleë. Niemand is in die week hier nie, net my hond, Clyde.”

Toe hy sy naam hoor, loer die hond om sy bene.

Die polisiehoof se hele voorkoms raak sagter toe sy op een knie afsak en haar hand uitsteek. “Hallo, Clyde.”

“Hy is sku vir … ”

Voordat Adam sy sin kan klaarmaak, skuifel Clyde agter sy bene uit en gaan ruik aan die vrou se hand. Dan beweeg hy nog nader sodat sy hom kan vryf.

Hy lek selfs haar vingers.

Adam kan sy oë nie glo nie.

“Jy is ’n baie mooi hond, weet jy dit?” Clyde se stert waai vrolik en sy lag sag – ’n diep klank agter in haar keel wat ’n ou, bekende gevoel in Adam se maag laat fladder. “Ja. Jy weet dit.” Sy lig haar ken. “Watter soort hond is hy?”

“H’m … straatbrak.”

“Ek sien ’n bietjie terriër … iets van ’n beagle … en ’n bietjie labrador in hom. Kom ons sê liewer gemengde ras. Dit klink beter as straatbrak. Dink jy nie so nie, Clyde?”

Die hond tjank fyn, asof haar woorde hom bly maak.

Sy hond hou van die polisiehoof?

Wil jy nou meer!

“Ek stem saam.” Nadat sy weer oor die hond se kop gevryf het, staan Lexie op. “Ek neem aan die vandale het nie enige van die spuitverfkannetjies hier gelos nie?”

Hy dwing homself om op haar woorde te konsentreer. “Nee.”

“Dis jammer. Jy kan maar aangaan met waarmee jy besig is. Ek gaan sommer net ’n bietjie rondkyk.” Sy knik in die rigting van die skuurpapier in sy hand. “Jy gaan nog hard moet werk om al daardie verf van die hout af te kry.”

“Enige hout wat beskadig is, kan glad geskuur word en nuut lyk as jy bereid is om hard te werk en baie geduld het.”

Verbasing flikker in haar blou oë. “Dis ’n gedagte waaroor ’n mens nogal kan nadink.”

Sy draai weg van hom af en begin stadig om die skuur stap … met Clyde kort op haar hakke.

Adam gaan aan met sy skuurwerk, maar die eentonige taak laat sy gedagtes vry om te dink aan die onverwagte besoeker wat nou op sy eiendom rondsnuffel en wat so maklik met sy menssku hond vriende gemaak het.

As Clyde haar vertrou, moet sy vertrouenswaardig wees. Diere het altyd ’n goeie instink oor mense.

Nie dat ’n mens Clyde se instink nodig het om ’n mening oor hierdie polisiehoof te vorm nie. Sy moet vertrouenswaardig wees as sy vir Buitelandse Sake gewerk het. Om in daardie posisie aangestel te word, vereis allerhande soorte sekerheidsklaring en vertroulike inligting oor jou agtergrond.

Die soort toets wat hy nooit sal slaag nie.

Net nog ’n herinnering aan die foute van sy verlede wat hom sy lewe lank sal brandmerk en sy geleenthede sal beperk.

Soos om ’n goeie vrou te ontmoet.

Watter ordentlike vrou sal immers saam met hom gesien wil word?

’n Wolk van terneergedruktheid vou oor hom, ten spyte van die warm strale van die lenteson wat helder en lig oor die erf val.

Hy byt op sy tande en skuur harder.

Hierdie soort gedagtes is nie goed vir hom nie. Hy moet liewer sy nuwe lewe dag vir dag aanpak in plaas daarvan om bekommerd te wees oor …

“Ek kry niks nie.” Die vrou gaan staan ’n paar treë van hom af en stof haar hande af terwyl sy kyk wat hy doen. “Ek sou sê dáár is jy amper terug by die skoon hout.” Sy wys na ’n plek teen die muur.

Hy kyk na die houtmuur voor hom. Net ’n vae beduidenis van die graffiti is plek-plek nog sigbaar.

Hoe jammer ’n mens kan nie die ruwe plekke in jou hart so maklik glad skuur nie.

“Ja, ek vorder.” Met die skuurwerk, in elk geval.

“Is jy seker jy wil nie ’n amptelike verklaring oor die twee voorvalle kom aflê nie?”

“Ja. Ek het die skade sommer self herstel sodat die eienaar nie nog met versekeringseise hoef te sukkel nie.”

“Nes jy wil.” Sy buk af en vryf Clyde vir oulaas oor sy kop. “Wat het met sy been gebeur?”

“Ek weet nie. Hy was mank toe ek hom gekry het. Maar hy het geleer om daarmee saam te leef.”

“Slim hond. Aanpassing is die geheim tot oorlewing.” ’n Paar oomblikke hang die stilte tussen hulle … en Adam kry die gevoel sy dink nie aan Clyde nie. Maar toe staan sy regop en haar professionele aanslag is terug. Sy haal ’n kaartjie uit haar sak en gee dit vir hom aan. “As jy van plan verander, of as daar nog iets gebeur, bel my gerus. Sien jou weer, Clyde.”

Sy lig haar hand om vir Adam te groet en stap terug na haar motor toe. Clyde volg haar ’n paar treë. Adam kyk hoe sy haar motor in rat sit, omdraai en in die rigting van die gruispad ry. Dan verdwyn sy om ’n draai in die pad wat tussen die bome deur kronkel.”

Wen!
Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Genade vir gister deur Irene Hannon met komplimente van CUM wen. Stuur jou naam, straatadres en kontaknommer, sowel as die antwoord op die volgende vraag aan navrae@leef: Vraag: Wat is Adam se hond se naam? Sluitingsdatum: 31 Maart 2019.
2019-02-28T21:43:14+00:00