“Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: “… ‘n vraat en ‘n wynsuiper”.” Lukas 7:34

Daar gebeur dit toe weer. Ons het verhuis, terwyl ek gesweer het: nooit, ooit weer nie! Die uitdaging om ‘n groot vierslaapkamerhuis in bokse te pak, tot die laaste skroef in jou garage, is ‘n berg wat net oor maande weggewerk kan word. Jy glo jy sorteer uit en maak minder – en onderneem vele ritte na die Hospice-winkel – maar jy kul jouself. Na ‘n nagmerrie-dag van wag op die treklorrie, wat vier ure laat arriveer, pak jy laataand in jou nuwe meenthuis uit en besef: ons het steeds, hopeloos, te veel goed. In die proses word jy in die gesig gestaar deur letterlik alles wat jy al opgegaar het: ornamente, fotorame, albums, kombuis-katoeters, laaie en laaie vol diverse dingetjies. O, en die boeke! Ek stap mos nie by ‘n afslagtafel verby nie. Maryke, weer, is lief vir ‘n bord: groot wit bakke, opskepskottels, glase vir ‘n groot fees. En dis wonderlik, maar waarheen nou daarmee?

Nee, ons moet nog veel ligter leef, ons moet afgooi. Om ligter te reis is egter nie iets wat in jou kaste en laaie begin nie. Dit begin in jou kop. Dis om afstand te kry tussen jou en jou besittings: om te besef dié goed is nie jý nie, dit maak jou nie ryk nie – trouens, dit word ‘n las. Dis ook nie ‘n eed van armoede nie, dis om rykdom anders te sien. Selfs Jesus het nie soos ‘n askeet geleef nie, maar Hy was los van aardse goed. Geniet dus maar wat jy kan, maar beweeg aan. Moenie vasklou nie. Rykdom lê in jou verhoudings, in die oorvloed-van-die-hart, in gasvryheid en mededeelsaamheid, in om ander te seën met dit wat jy in elk geval gaan verloor.

Weet egter dit: ek trek nie wéér nie!

Gebed

Here, my rykdom is in U!

“Reis lig, leef eenvoudig. Ons vyand is nie besittings nie, dis oormaat.” John Stott

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2019-03-04T20:07:01+00:00