Vra jouself…

Deur Amanda de Lange | Foto Hanneri de Wet

Die lewe is vol situasies wat van ons verg om daarby aan te pas en om selfs pynlike dinge te aanvaar sodat ons ’n gesonde en funksionele toekoms kan hê. Om reg te kies, kan bepalend wees in hoe suksesvol jy die proses aanpak. 

Daar is ’n baie groot verskil tussen aanvaarding en abdikasie. Wanneer ons van aanvaarding praat, bedoel ons daarmee dat ons op ’n aktiewe manier ons omstandighede aanvaar terwyl ons pro-aktief daaraan werk om dit te verbeter of te verander. Gesindheid is hier een van die belangrikste dinge wat jou sal help, want dít is wat jou sal help om jou weg deur moeilike en uitdagende tye te navigeer.

Vra Jouself: Hoe kyk ek na die uitdagings waarvoor ek staan? Abdikeer ek deur hande in die lug te gooi en myself as ’n slagoffer te midde daarvan te sien of werk ek aktief daaraan om aanvaarding te gebruik as ’n voertuig om my na die volgende stap te neem?

Indien jy geabdikeer het: Wat kan jy doen om jouself uit hierdie plek van slagofferwees te skuif? Hoe kan jy jou gesindheid en die manier waarop jy aan jou lewe en situasie dink gebruik om jou daarmee te help?

Positiewe, aktiewe aanvaarding sal jou help om te vorder met die proses van verandering of verbetering in jou situasie en omstandighede. Aanvaarding lei na oorgawe en oorgawe bring jou by oorwinning uit. Die verandering en/of verbetering in jou situasie of omstandighede kan, soos by die vorige vraag ook genoem, lê in een van twee dinge: Die situasie of omstandigede self of in die manier waarop jy dit hanteer.

Vra Jouself: Hoe vorder ek met my aanvaardingsproses? Wat is die dinge wat my weerhou van volkome aanvaarding? Hoe kan aanvaarding my na oorgawe en oorwinning bring? Wat het ek nodig om my daar te kry? Het ek hulp nodig? Indien wel, waar kan ek dit kry?

Daar is altyd ook iets wat ’n mens op ’n praktiese vlak kan doen om jou omstandighede te verander of te verbeter. Wanneer ons van gesonde aanvaarding praat – dus om te aanvaar wat nóú voor my is, maar met die wete dat dit nie die einde van die pad vir my is nie – help dit om moontlike verandering en verbetering strategies te benader. Hoe doen ek dit?

Vra jouself: 1. Wat is die probleem? Dit is belangrik om werklik die kern van die probleem te diagnoseer. Dit verg dikwels ongenadige eerlikheid. Maar dit is noodsaaklik, want sonder om eerlik oor die kern van die probleem te wees, sal die volgende stappe nie werk nie.

2. Wat is die uitkoms wat jy graag in hierdie situasie sou wou sien? Wanneer jy weet wat die probleem is en hoe jy sou wou sien dat dit verander, kan jy begin om vir jouself ’n praktiese plan in werking te stel. Maak vir jouself gedetailleerde notas oor die uitkoms wat jy begeer.

3. Hoe gaan jy by jou uitkoms uitkom? Werk vir jouself stappe uit wat jou sal help om die uitkoms te verseker wat jy in vraag 2 beskryf het. Het jy hulp nodig om dit reg te kry? Indien wel, wie kan jy daarom nader?

Dit kan gebeur dat verandering en verbetering van moeilike situasies en omstandighede stadig gebeur. Dit kan selfs lyk of niks gebeur en of daar geen vordering is nie. Die proses van aanvaarding na oorgawe na oorwinning is soveel ’n geestelike proses as wat dit ’n praktiese een is. Werk dus altyd in alles in vennootskap met die Here en bid altyd in alles in vennootskap met die Here. Doen alles wat jy doen in vennootskap met die Here. Hý is die padaanwyser na die oplossing en die weg uit.

Vra Jouself: Hoe kan jy die Here in ’n groter en dieper mate by jou reis na aanvaarding, oorgawe en oorwinning betrek? Wat is die dinge wat jy op geestelike vlak moet doen om Hom jou vennoot in hierdie reis te maak? Hoe kan jy dit dadelik in werking begin stel?

Ten slotte: Jou gesindheid gaan die sukses van jou reis bepaal. Hierin is Paulus vir ons ’n voorbeeld: Hy het gesê hy was in alle omstandighede vergenoeg. Hy het in die tronk gesit en die Here luidkeels geloof en geprys. As Christene wil ons dikwels hê die moeilike tye moet ons verbygaan. Ons sukkel om te aanvaar dat iets slegs met ons gebeur het. Paulus was vergenoeg in sy omstandighede, maar nooit, ooit passief nie. Hy het gewoeker waar hy ook al was, hetsy uit op ’n sendingreis of toegesluit agter tralies. Dít is ons voorbeeld: Woeker waar jy is met wat jy ook al het terwyl jy in vennootskap met die Here werk om jou situasie en omstandighede te verander of verbeter.

“Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” – Fil. 4:11–13

Vra Jouself: Dra onvergenoegdheid by tot my onvermoë om te aanvaar en oor te gee sodat ek uiteindelik oorwinning kan hê? Hoe kan ek my gesindheid verander om in groter dankbaarheid teenoor God te lewe en om werklik vergenoegd te wees te midde van die uitdagings waarvoor ek staan?

Amanda de Lange is ’n spesialis-lewensafrigter, veranderingstrateeg en spreker en skrywer. Sy doen ook genesende afrigting, wat spesifiek op die proses van innerlike genesing fokus. Kontak haar by 0846090344 of amanda.dlange@gmail.com

2019-02-13T09:22:31+00:00